Het jy geweet dat die Bybel sê daar is sommer ‘n hele klomp dinge wat onder die Nuwe Verbond beter is as onder die oue?
Om die waarheid te sê, die Nuwe Verbond is beter as die ou een.
Meeste van die verse wat praat oor die beter dinge van die Nuwe Verbond, vind ons in Hebreërs. Die gelowiges vir wie die boek aanvanklik geskryf het, was mense wat voorheen Jode was. Maar noudat hulle in Jesus glo, word hulle vir hulle geloof vervolg. Baie het dit oorweeg om liewer terug te gaan na die Joodse Godsdiens. Sodoende kon hulle die vervolging vryspring.
Die skrywer van Hebreërs wil hulle deur die brief bemoedig. Hy wil hulle aanmoedig om nie te verslap in hulle geloof nie. Met die een argument na die ander wys hy hulle dat die Ou Verbond net ‘n skadu was van die nuwe een. Hy help hulle, en ons, om te sien die Nuwe Verbond is beter as die oue. Alles onder die Nuwe Verbond is beter as onder die Ou Verbond.
Sodoende wil hy hulle help om te sien dit gaan vrugteloos wees om terug te gaan na die Ou Verbond. Die Nuwe Verbond is beter, want dit is nie gegrond op iets wat óns as mense gedoen het nie. Dit is gegrond op Jesus en wat Hy aan die kruis gedoen het.
Ons gaan vandag kyk na ‘n paar van die verse wat vir ons verduidelik wat hierdie ‘beter’ dinge van die Nuwe Verbond, nou eintlik is.
LEES OOK: DIE NUWE LEWE IN JESUS CHRISTUS

DIE NUWE VERBOND IS BETER.
Hebreërs 8:6: Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.
Hebreërs 7:21-22: …maar Jesus met ‘n eed deur God, wat vir Hom gesê het: “Die Here het dit met ‘n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.'” So het Jesus ook van ‘n beter verbond borg geword.
BETER OPENBARING.
Hebreërs 1:1-2: In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.
BETER HOOP.
Hebreërs 7:18-19: Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan: die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het ‘n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader.
BETER PRIESTERDOM.
Hebreërs 7:24-25: Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.
BETER BELOFTES.
Hebreërs 8:6: Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.
‘N BETER OFFER.
Hebreërs 9:23: Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.

BETER BESITTINGS.
Hebreërs 10:34: Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ‘n besitting het wat beter en blywend is.
BETER VADERLAND.
Hebreërs 11:16: Maar hulle het na ‘n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ‘n stad gereed gemaak.
BETER LEWE NA DIE OPSTANDING.
Hebreërs 11:35: Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ‘n beter lewe deelagtig word.
NUWE HEMEL EN AARDE.
2 Petrus 3:13: Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.
Openbaring 21:1: Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.
NUWE JERUSALEM.
Openbaring 21:2: En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.
Ek is seker die brief aan die Hebreërs het die gelowiges van daardie tyd baie bemoedig. Hulle kon sien die Nuwe Verbond is beter as die oue. Alles wat hulle, en ons, onder die Nuwe Verbond ontvang het, is beter.
Ek vertrou dat hierdie verse jou vandag ook gehelp het om te sien die Nuwe Verbond is beter as die oue!
Goeie more Risa
Baie dankie vir die bemoedigende woorde, om te weet Die Here het vir ons iets baie beter in stoor Jy moet ook goeie moed hou en volhard om die woord te bestoedeer. Ek voel altyd gestig deur jou skrifgedeeltes baie dankie.
Liefde groete
Barend
Baie dankie, Barend! Ek is bly dit beteken iets vir jou.