
Elke boek in die Bybel het sekere dinge wat ons daaroor moet weet. Soms is dit interessante dinge wat sommer net goed is om te weet. Maar daar is ook agtergrond-inligting wat ons help om die boek beter te verstaan. In hierdie artikel gaan ons kyk na agtergrond-inligting oor Nehemia, die 16de boek in die Ou Testament.
Saam met die boek Esra vertel Nehemia vir ons ‘n bietjie meer oor die geskiedenis van die Jode se terugkeer na Jerusalem. Hierdie twee boeke gaan aan waar 1 en 2 Kronieke opgehou het.
In die Joodse tradisie is die twee boeke dan ook een boek in plaas van twee.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Die boek Nehemia het, net soos Esra, sy naam gekry by die hooffiguur in die boek. In die Hebreeuse Bybel het die boeke een naam, omdat dit gesien is as een boek.
WAAR DIE BOEK AFSPEEL EN DIE TYDPERIODE.
Nehemia speel af in Jerusalem. Dit dek ‘n periode van ongeveer 12 tot 20 jaar (446-434 vC).
WIE HET NEHEMIA GESKRYF?
Daar is verskillende sieninge oor wie nou eintlik vir Nehemia geskryf het.
Vroeër is algemeen aanvaar dat Esra die boek wat sy naam dra asook vir Nehemia geskryf het.
Ander kenners dink dat Nehemia self die boek geskryf het, dat dit soort van ‘n biografie was.
Dan is daar ook diegene wat meen dat Esra en Nehemia saamgestel is uit verskillende bronne, omdat dele van Esra in Aramees geskryf is. Hullle meen ook dat die boeke lank na Esra se tyd hulle finale vorm gekry het.
Daar kan dus nie met sekerheid gesê word wie vir Nehemia geskryf het nie.
WAT SE TIPE BOEK IS NEHEMIA?
Nehemia is oor die algemeen ‘n geskiedenisboek, hoewel daar groot dele van die geskiedenis uitgelaat is.
Ons kry ook lyste, naamlyste, briewe en gebede in die boek. Dan is daar ook twee kort poëtiese spreuke en ‘n kort psalm, wat in die vorm van ‘n gebed is.
Hierdie boek het dus so ‘n bietjie van alles!
Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

DIE DOEL VAN DIE BOEK.
Nehemia het ‘n fisiese asook ‘n geestelike doel.
Die fisiese doel is om ons te vertel hoe Nehemia en die mense wat saam met hom werk, die mure van Jerusalem herbou het. Daar was baie teenkanting, maar hulle hou aan bou en voltooi die mure in net 52 dae.
Die geestelike doel is om ons daaraan te herinner dat ‘n kind van God volharding en moed aan die dag moet lê. Ons gaan teenkanting ervaar en moet altyd seker maak dat ons ‘mure’ nie gate in het waardeur die vyand ons kan aanval nie.
HOOFTREKKE VAN NEHEMIA.
Nehemia kan in twee dele verdeel word.
Die eerste deel sluit by Esra aan. Dit vertel dat die Persiese koning, Kores, se opdrag om die tempel te herbou afgehandel is toe Nehemia die mure van die stad herbou het.
In die tweede deel sien ons dat die volk twee keer bymekaar kom. Die eerste keer lees hulle uit die Wet en hou die fees wat die volk se uittog uit Egipte, in herinnering roep.
Later kom hulle vir ‘n tweede keer bymekaar. Nou bely hulle hulle skuld voor God. Hulle onderteken ook ‘n dokument waarin hulle belowe om aan God gehoorsaam te wees. En dan wy hulle die muur in met ‘n seremonie waaraan almal deelneem.
BELANGRIKE KARAKTERS IN NEHEMIA.
Ons lees van twee belangrike karakters in Nehemia, naamlik Nehemia self en dan ook Esra.
JESUS IN NEHEMIA.
Nehemia is ‘n pragtige beeld van die herstelwerk wat God, deur Jesus, in mense se lewens doen.
Nehemia se gebedslewe is ook ‘n beeld van Jesus se gebedsbediening toe Hy op aarde was asook nou, waar Hy as ons Hoëpriester vir ons intree by die Vader.
SLEUTELVERSE IN NEHEMIA.
Daar is twee sleutelverse in Nehemia, wat albei uit hoofstuk 6 kom.
In hoofstuk 6:3 staan: “Ek het toe boodskappers na hulle gestuur en gesê: “Dit is ‘n groot werk waarmee ek besig is; ek kan nie na julle afkom nie. Waarom moet die werk stilstaan omdat ek dit moet los en na julle afkom?”
En in hoofstuk 6:15-16 staan: “Die muur is binne twee-en-vyftig dae voltooi, op die vyf-en-twintigste dag van Elul. Toe al ons vyande dit hoor, het al die nasies rondom ons bang geword, en ons vyande het in hulle oë baie laag gedaal. Hulle het besef dat hierdie werk met God se bystand gedoen is.”
UNIEKE FEITE IN DIE BOEK.
Ons sien die volgende unieke feite oor Nehemia, in die boek wat sy naam dra:
Hy was ‘n streng man met ‘n groot geloof.
Hy het moed aan die dag gelê en het nie kompromieë aangegaan nie.
Verder het hy die taak wat God hom opgelê het deur geloof, harde werk en gebed voltooi.
NEHEMIA IN JOU LEWE.
Daar is ‘n paar interessante dinge wat ons uit Nehemia kan leer en in ons lewens toepas.
ONS IS DIE KERK.
Die kerk is nie die gebou nie, maar die mense wat daarbinne bymekaar kom. Ons is God se hande en voete hier op aarde. Deur ons laat Hy Sy wil geskied. Ons moet onsself aan Hom wy en in alles wat ons doen, Sy Naam verheerlik.
GOD SE WOORD.
Na die muur voltooi is, het die mense bymekaar gekom om die Wet te hoor, sodat hulle kon weet wat God van hulle verwag. Vandag luister ons na God se Woord sodat ons Hom kan leer ken en kan verstaan wat Hy deur Jesus vir ons gedoen het. Deur die Woord leer ons hoe om in ‘n verhouding met Hom te leef.
OM SAAM TE WERK.
Al die Jode in Jerusalem werk saam daaraan om die muur van die stad te herbou. Net so moet ons vandag saam werk in die kerk en nie alles vir ‘n paar mense los terwyl ons hande gevou sit nie.
TEENSTAND GAAN KOM.
In beide Esra en Nehemia lees ons van die teenstand teen hulle en die werk waarmee hulle besig was. Ons moet onthou dat ons God se kinders ook teenstand gaan ervaar. Maar, soos God by Esra en Nehemia was, en hulle gehelp het om te doen wat Hy wou hê, is Hy ook by ons en sal ons help om Sy wil uit te voer.
MANNE EN VROUE VAN GEBED.
Nehemia was ‘n man van gebed. Dit is wat ek en jy ook moet wees – manne en vroue van gebed, wat gedurig God se aangesig soek, sodat ons kan volhard in die taak wat die Here vir ons gegee het.
VORIGE ARTIKELS.
Ons het reeds in ander artikels oor die eerste 15 boeke van die Bybel gesels. Ek het skakels na daardie artikels op een blad gesit om dit makliker te maak om te kry.
As jy dus agtergrond-inligting oor enige van daardie boeke nodig het vir jou Bybelstudie, kan jy dit HIER kry.
