ESRA – WAT JY MOET WEET

Esra, wat jy moet weet

Esra is die 15de boek in die Ou Testament. Net soos met die ander boeke in die Bybel, is daar heelwat dinge wat ons daaroor moet weet. Party van dié dinge is interessant en sommer net goed om te weet. Ander dinge is belangrik om ons te help om die boek beter te verstaan.

As jy dus beplan om ‘n studie oor Esra te doen, dan is hierdie artikel net wat jy moet lees om jou ‘n bietjie meer agtergrond-inligting te gee.

DIE NAAM VAN DIE BOEK.

Die boek is vernoem na een van die hoofkarakters, en moontlik ook die skrywer daarvan, Esra.

Esra is kort vir die Hebreeuse naam Asaria. Dit beteken ‘Die Here het gehelp’.

WAAR DIE BOEK AFSPEEL EN DIE TYDPERIODE.

Esra speel af in Babelonië en Jerusalem.

Die verhaal speel af in ongeveer 536-457 vC en dek ‘n tydperiode van 79 jaar.

WIE HET ESRA GESKRYF?

Sommige Bybelkenners meen dat Esra self die boek geskryf het.

Ander is weer van mening dat die boek deur die Kronis, ‘n persoon of groep uit die 4de eeu voor Christus, geskryf is.

WAT SE TIPE BOEK IS ESRA?

Esra vertel vir ons die geskiedenis van die terugkeer van die Jode na Jerusalem. Dit is dus ‘n geskiedenisboek.

DIE DOEL VAN DIE BOEK.

Daar is ‘n fisiese en ‘n geestelike doel met Esra.

Dis in die eerste plek geskryf om te vertel van die Jode wat uit ballingskap teruggekom het.

Die eerste groep het saam met Serubbabel teruggekom en het die tempel herbou.

Die tweede groep het saam met Esra teruggekom. Hy het die mense gehelp en aangemoedig om weer op ‘n goddelike manier te leef.

Dan is die boek ook geskryf om vir ons te wys dat God ‘n taak vir ons as gelowiges het. Ons is veronderstel om Sy geestelike huis hier op aarde te bou.

Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

HOOFTREKKE VAN ESRA.

Esra het twee dele.

In die eerste deel sien ons hoe Kores se opdrag, dat die tempel herbou moes word, uitgevoer word. Daar was teenkanting van die buurvolke, maar die Judeërs het voorgegaan met die bouery ten spyte van die teenkanting.

In die tweede gedeelte lees ons van Esra. Hy kry toestemming om na Jerusalem te gaan en kom dan ook veilig daar aan. Daar vind hy uit dat baie van die Judeërs met vroue uit ander volke getrou het. Saam besluit hulle dat die vroue weggestuur moet word.

KERNSAKE IN ESRA.

Daar is drie kernsake wat ons in Esra raakloop.

  1. Die ‘huis van God’ is nie net ‘n gebou van stene en sement nie. Dit verwys ook na alle gelowiges wat die huisgesin van God is.
  2. Almal het ‘n rol om in die gemeente te vervul. Die lang lyste name wys vir ons dat almal deel is van God se huisgesin.
  3. Wette en reëls was vir hierdie groep belangrik. Dit het hulle gewys wat gedoen moet word.

BELANGRIKE KARAKTERS IN ESRA.

Ons lees van vyf belangrike karakters in hierdie boek. Hulle is Sesbassar, Serubbabel, Haggai, Sagaria en Esra.

GELOOFSLESSE UIT DIE BOEK.

Daar is ‘n hele paar geloofslesse wat ons uit Esra kan leer.

  1. God woon nie meer in ‘n Tempel wat met mensehande gebou is nie. Hy woon deur die Heilige Gees nou in elke gelowige en daarom is ons Sy Tempel. Ons moet Sy geestelike huis hier op aarde bou.
  2. Omdat elkeen van ons ‘n Tempel van God is (1 Korinthiërs 6:19-20), moet om Hom te aanbid en te dien die belangrikste ding in ons lewens wees. Is dit die belangrikste in jou lewe? As dit nie is nie, moet jy vir God vra om jou ‘tempel weer te herstel’, sodat Hy die eerste plek in jou lewe inneem.
  3. God is groter as die foute wat ons maak. Hy gee ons weer en weer ‘n kans. Hy kan ons gebrokenheid herstel en ons verander sodat ons meer soos Jesus lyk.

JESUS IN ESRA.

Dwarsdeur die Ou Testament het God beloftes gemaak oor die Messias wat sou kom. Hierdie beloftes het beteken dat Dawid se nageslag bewaar moes bly en in die Beloofde Land moes wees.

Die eerste groep Jode wat terugkom na Jerusalem, kom terug onder leiding van Serubbabel. Hy was ‘n afstammeling van Dawid deur sy seun Salomo. Verder was hy ook ‘n voorouer van Josef en daarom het Jesus die reg gehad om die ‘Seun van Dawid’ genoem te word.

Ons sien ook die herstelwerk wat Jesus in ons lewens doen, duidelik geïllustreer in Esra.

SLEUTELVERSE IN ESRA.

Die volgende twee verse kan as kernverse of sleutelverse in die boek gesien word:

Esra 3:11: “Terwyl hulle die Here loof en dank, het hulle gesing: “Want Hy is goed, ja, sy troue liefde oor Israel is vir altyd!” Die hele volk het baie hard gejuig toe die Here geloof is, omdat die fondament van die huis van die Here gelê is.”

Esra 9:9: “Ons is inderdaad slawe, maar in ons slawerny het ons God ons nie verlaat nie. Hy het sy troue liefde oor ons uitgestrek voor die konings van Persië om aan ons nuwe lewe te gee, om die huis van ons God weer op te rig en die ruïnes daarvan te herstel en vir ons ‘n skans in Juda en Jerusalem te gee.”

Sien jy hoe daar in altwee verse gepraat word van God se troue liefde? Sy troue liefde is steeds vandag oor al Sy kinders uitgestrek.

UNIEKE FEITE IN DIE BOEK.

  1. Toe Nebukadnesar die Jode in ballingskap weggevoer het, het dit nie al die mense ingesluit nie. Dit was meestal die leiers wat in ballingskap weggevoer is.

Dié wat agtergebly het, het mettertyd met vroue uit die volke rondom hulle, getrou. Dit was iets wat God in die Wet verbied het. Toe Esra dus teruggkom na Jerusalem, en sien wat aangaan, het hy die Joodse mans aangemoedig om te skei van hulle heidense vroue.

  1. God laat die Jode in ballingskap wegvoer om hulle te genees van hulle afgodediens. Hy wou by hulle ‘n begeerte laat ontstaan om Hom te ken en aan Hom gehoorsaam te wees.

ESRA IN JOU LEWE.

Hier is nog ‘n paar dinge wat ons uit Esra leer en ook hoe ons dit in ons lewens kan toepas.

  1. God het heidense koning gebruik om Sy volk terug te stuur na hulle land. Deur dieselfde koning gee Hy hulle opdrag om die tempel te herbou. Dit wys vir ons dat ons God nie in ‘n blik moet druk en redeneer dat Hy net op sekere maniere werk nie. Hy kan enige mens en enige ding gebruik om te laat gebeur wat Hy besluit het. Ons moet Hom ruimte gee om op maniere en deur mense van wie ons dit nie verwag nie, in ons lewens te werk.
  2. Alles wat in Esra gebeur het, is ‘n getuienis van mense wat gehoor het toe God hulle geroep het en wat aan Hom gehoorsaam was. Wanneer ons vir God werk, is dit omdat Hy ons geroep het en ons aan Hom gehoorsaam is.
  3. Ons lees lyste name in die boek Esra. Elkeen van dié mense het iets anders gehad waarmee hulle goed was. Hulle doen verskillende dinge, maar werk saam as ‘n eenheid. Ons moet dieselfde doen. Ons moet onthou dat ons werk vir God nooit oor ons eie belangrikheid gaan nie. Dis altyd oor God en Sy eer. As ons dít in gedagte hou, sal daar nie plek wees vir jaloesie en ‘n bakleiery onder ons nie.

VORIGE ARTIKELS.

Dit is dan al oor die boek Esra.

Ons het reeds oor die vorige boeke in die Bybel gesels. Ek het skakels na daardie artikels op een blad gesit om dit makliker te maak om die artikels te kry.

As jy van hierdie artikels gemis het, kan jy dit HIER lees.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *