BYBELVERSE VIR ‘N ANGSTIGE HART

Bybelverse vir 'n angstige hart

Die wêreld is vol dinge wat veroorsaak dat ‘n mens ‘n angstige hart kan hê. Maar God wil nie hê dat ons as Sy kinders met vrees en angs deur die lewe gaan nie. Nee, Hy wil hê dat ons geloof en vertroue in Hom só groot sal wees, dat alle vrees en angs soos mis voor die son sal verdwyn.

Vandag deel ek graag ‘n klompie verse uit die Bybel wat jy kan lees wanneer jy ‘n angstige hart het.

Skryf sommer die skrifverwysings neer en hou dit in jou Bybel, sodat dit byderhand is wanneer jy dit nodig het. Kies ook ‘n vers of twee en memoriseer dit. Dan kan jy dit vir jouself opsê wanneer jy volgende keer bang is of ‘n angstige hart het.

JOHANNES 10:7-15.

Jesus het toe weer gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Ek is die deur vir die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; die skape het egter nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Die huurarbeider, wat nie ‘n herder is nie, en aan wie die skape nie behoort nie, sien die wolf kom, los die skape en vlug – en die wolf vang en verjaag hulle – omdat die man ‘n huurarbeider is en nie vir die skape omgee nie. Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken. En Ek lê my lewe af vir die skape.”

PSALM 23.

‘n Psalm. Van Dawid. Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam. Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel. U dek vir my ‘n tafel voor die oë van my teenstanders. U verfris my kop met olie; my beker loop oor. Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae.

PSALM 121.

‘n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie. Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here is jou Beskermer; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. Bedags sal die son jou nie skaad nie, en snags ook nie die maan nie. Die Here sal jou beskerm teen elke onheil; Hy sal jou lewe beskerm. Die Here sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm van nou af en vir altyd.

2 TIMOTHEUS 1:7.

God het ons tog nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

As jy meer wil weet oor die gelykenisse van Jesus, dan is die Gelykenisse van Jesus Bybelstudie net waarna jy op soek is. Dis ‘n selfstudie, waar jy nie net meer gaan leer oor Jesus se gelykenisse nie, maar ook oor die lesse wat Jesus deur die gelykenisse vir ons wil leer. Die stappe wat jy volg gaan jou ook help om te leer hoe om self Bybelstudie te doen.

FILIPPENSE 4:6-7.

Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.

1 PETRUS 5:6-7.

Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle.

PSALM 55:23.

Werp jou las op die Here; Hy sal jou versorg, Hy sal nooit toelaat dat die regverdige wankel nie.

MATTHEUS 6:31-34.

Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.

JOHANNES 14:1-3.

Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

PSALM 40:2-3.

Ek het op die Here bly wag, Hy het na my afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my opgetrek uit die put van verderf, uit die modderige slik. Hy het my voete op ‘n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee.

MATTHEUS 8:23-26.

Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Skielik bars daar ‘n hewige storm op die see los, sodat die golwe die boot oorspoel het. Maar Hy het geslaap. Hulle het Hom gaan wakker maak en uitgeroep: “Here, red ons! Ons vergaan!” Maar Hy het vir hulle gesê: “Hoekom is julle bang, kleingelowiges?” Toe staan Hy op en bestraf die wind en die see. En alles het baie kalm geword.

JOHANNES 16:33.

Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.

JESAJA 41:10.

Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand.

MATTHEUS 11:28-30.

Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.

PSALM 34:18-19.

Regverdiges roep om hulp en die Here luister, uit al hulle benoudhede red Hy hulle. Die Here is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy.

JESAJA 43:1-5.

“Maar nou,” so sê die Here, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, “moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy. As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie.

Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou verlosser. Ek gee Egipte as jou losprys, Kus en Seba gee Ek in jou plek. Omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Uit die ooste bring Ek jou nageslag, uit die weste maak Ek jou bymekaar.”

MATTHEUS 10:28-31.

En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. Word twee mossies nie vir ‘n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dan nie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies.

angstige hart

JOHANNES 14:27.

Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie.

PSALM 46:2-4;8.

God is vir ons ‘n skuilplek en ‘n bron van krag; as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde. Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud, en berge wankel in die hart van die see nie. Sy waters kan maar woed, kan maar skuim, berge kan maar bewe in sy dreuning. Sela… Die Here, Heerser oor alle magte, is met ons, ‘n toevlugsoord is die God van Jakob vir ons. Sela

MATTHEUS 28:19-20.

Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.

PSALM 91:14-16.

Omdat hy My liefhet, sal Ek hom bevry; Ek sal hom beskerm omdat hy my Naam ken. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom antwoord. Ek sal by hom wees in nood; Ek sal hom red en aan hom eer gee. Met ‘n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.

(Jy kan gerus die hele Psalm 91 lees wanneer jy benoud of angstig voel.)

GEEN VREES EN ANGS.

Elkeen van die gedeeltes hierbo gee vir ons redes waarom ons nie bang hoef te wees of ‘n angstige hart hoef te hê nie.

God is by ons. Dit maak nie saak wat rondom ons gebeur nie, Hy is altyd groter as die probleem en Hy het ‘n oplossing.

Ons kan op Hom vertrou om ons te help, te red, te ondersteun en te bemoedig.

Hy is ons Goeie Herder en daarom is ons altyd veilig in Sy hand!

Deel hierdie blad

2 comments

  1. GOEIEMORE EK DANK PRYS LOOF EN EER U MY GOD VIR ALLES WAT U VIR MY GEDOEN HT EN NOG SAL DOEN VADER EK KOM VRA ASB VIR N FINANSIELE DEURBRAAK EN DAT GOD MY SALARIS SAL SEEN VLGDE WEEK EN SELF MET DIT SAL WERK NIE NET MYNE NIE MAAR OOK ANDERE SN DAAROM DANK PRYS EN EER EK U ALREEDS AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *