
Het jy geweet daar is ‘n hele klomp verskillende Bybelstudie-metodes wat jy kan gebruik om die Bybel te studeer? Een van die metodes is ‘n agtergrond-studie. Vandag gaan ek ‘n paar dinge oor Jeremia met jou deel, wat jou gaan help wanneer jy so ‘n agtergrond-studie wil doen. En as jy nie ‘n agtergrond-studie doen nie, dan gaan hierdie inligting jou in elk geval help om die boek beter te verstaan.
Hou hierdie inligting ook in gedagte wanneer jy die Bybel kronologies lees. Dis byvoorbeeld belangrik om te weet tydens watter tydperk die boek afspeel. Hoekom? Want dit gaan jou help om te verstaan watter konings regeer het terwyl Jeremia ‘n profeet was en ook waarom die profesieë oor Juda gemaak is.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Hierdie boek is vernoem na die profeet wie se profesieë daarin opgeneem is.
Die naam Jeremia beteken ‘Die Here het gegrondves’.
ONTSTAAN EN TYDPERIODE VAN JEREMIA.
Die boek Jeremia het ontstaan tussen 627 en 586 vC. Die finale redigering is na 586 vC gedoen.
Dit speel af tydens die tydperke van Juda se laaste vyf konings: Josia, Joahas, Jojakim, Jojagin en Sedekia.
WIE HET JEREMIA GESKRYF EN VIR WIE IS DIT GESKRYF?
Die boek is geskryf deur die profeet Jeremia en sy sekretaris, Baruk.
Dis geskryf vir die mense van Juda en vir hulle afstammelinge wat uit ballingskap teruggekeer het.
WAT SE TIPE BOEK IS JEREMIA?
Die boek vorm deel van die groot profete en is dus ‘n profetiese boek.
Dit is egter saamgestel uit verskillende literatuursoorte. Daar is profesieë in die vorm van poësie en prosa. In hierdie gedeeltes word baie van simboliese taal gebruik gemaak. Daar word ook van vergelykings en gelykenisse gebruik gemaak.
Dan is daar ook biografiese vertellings, verhale wat in prosavorm is en ook klaagliedere.
DIE DOEL VAN DIE BOEK.
Jeremia se doel was om die mense te oortuig dat God die enigste Here is. Hy wou hulle wys dat die mens voor God se wil moet buig en Hom alleen dien.
HOOFTREKKE VAN JEREMIA.
Die boek kan ingedeel word in drie hoofdele.
Hoofstukke 1-25 beskryf hoe Jeremia oordeel oor Juda aankondig.
In hoofstukke 26-51 lees ons ‘n beskrywing van insidente uit Jeremia se lewe.
En hoofstuk 52 is ‘n historiese naskrif wat vertel hoe Jerusalem vernietig is.
BELANGRIKE KARAKTERS IN DIE BOEK.
Die volgende persone is belangrike karakters in Jeremia:
In die eerste plek is die vyf konings van Juda, van wie ek hierbo geskryf het, belangrike karakters.
Dan is daar ook die priester Pasgur, Baruk en Ebed-Melek.
En laastens is koning Nebukadnesar en die Rekabiete ook belangrike karakters.
BELANGRIKE PLEKKE IN JEREMIA.
Die volgende plekke is van belang: Anatot, Jerusalem, Rama, Egipte en Babel.
BEELDE IN JEREMIA.
Ek het netnou genoem dat daar baie van simboliek of beelde in hierdie boek gebruik gemaak word. Kom ons kyk ‘n bietjie na hierdie beelde en ook wat hulle beteken.
In hoofstuk 1:11-12 praat Jeremia van die amandeltak. Hiermee sê hy dat God sal straf.
In vers 13 van dieselfde hoofstuk gebruik hy die beeld van ‘n kokende pot en sê daarmee dat God vir Juda sal straf.
Die linnegordel in hoofstuk 13:1-11 verwys na die feit dat God Sy mense nutteloos maak.
In hoofstuk 18:1-17 lees ons van die pottebakkersklei. Dit is ‘n beeld van God wat met Sy volk maak wat Hy wil.
Die stukkende kleipot in hoofstuk 19:1-12 is ‘n beeld van God wat vir Juda stukkend breek.
In hoofstuk 24:1-10 is die twee mandjies vye ‘n beeld van gelowiges en ongelowiges wat deur God onderskei word.
Die juk in hoofstuk 27:2-11 is ‘n beeld van al die volke wat onder die juk van Babilon gaan leef.
Die groot klippe in hoofstuk 43:8-13 dui die plek aan waar Nebukadnesar se troon gaan staan.
En die boekrol, waarvan ons in hoofstuk 51:59-64 lees, is ‘n beeld van Babel wat ook gaan sink en nooit weer herrys nie.
GELOOFSLESSE UIT DIE BOEK.
Deur Jeremia het God die volk 40 jaar gegee om om te draai en terug te kom na Hom toe. Dit wys weereens vir ons hoe geduldig God is en dat Hy nie die mense wat Hy geskep het wil vernietig nie, maar wil red.
JESUS IN JEREMIA.
Jeremia is die profeet in die Bybel wie se bediening die meeste ooreenstem met die bediening van Jesus.
Albei is vervolg en het gehuil oor Jerusalem.
Beide is deur die priesters en hulle eie mense verwerp.
Altwee het ‘n diep liefde vir hulle volk gehad.
Hierdie is net ‘n paar voorbeelde. Kyk of jy nog kry terwyl jy die boek lees of studeer.
SLEUTELVERSE IN JEREMIA.
Ons kry die sleutelverse in hierdie boek in hoofstuk 7:3-5a. Daar staan: “So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land. Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!” Maak liewers julle lewe en julle dade reg” (1983-vertaling).
JEREMIA IN ONS LEWENS.
Daar is ‘n hele paar dinge wat ons by Jeremia kan leer en in ons eie lewens toepas.
In die eerste plek het hy in ‘n tyd geleef waar daar baie veranderinge op politieke en sosio-ekonomiese gebied was. Ek en jy beleef ook met tye verandering. Wanneer dit gebeur, het Jeremia vir ons ‘n boodskap: vertrou op die Here. Vertrou op Hom alleen. Die toekoms is in Sy hand en Hy gebruik dit wat gebeur om Sy doel te bereik.
Tweedens sê Jeremia vir ons dat ons moet waak teen enige vorm van ontrouheid. Dit sluit afgodery in. Jy dink dalk dat gelowiges deesdae nie meer afgode dien nie, maar dis nie waar nie. Om afgode te dien beteken dat jy jou vertrou stel in iets anders as God. Dink ‘n bietjie oor jou eie lewe. Is jy besig om op een of ander manier ‘n afgod te dien?
Laastens leer ons by Jeremia dat die woorde van die Here nie altyd gewild is nie. Mense wil baie keer nie hoor wat Hy sê nie en daarom kan ‘n boodskapper in Sy diens verwag om verneder en vervolg te word.
VORIGE ARTIKELS.
Ons het reeds in vorige artikels gesels oor van die ander boeke in die Bybel. Ek het skakels na al dié artikels op een blad gesit om dit makliker te maak om ‘n artikel te kry.
As jy van hierdie artikels gemis het, kan jy dit HIER lees.
