JESUS GEE TERUG WAT ONS VERLOOR HET

In Genesis 3 sien ons die mens het ‘n klomp dinge verloor as gevolg van sonde. Jesus gee egter nie net terug wat ons verloor het nie, maar sommer nog meer.

Jesus gee terug wat ons verloor het

Verlede week het ons gekyk na die verhaal van Adam en Eva in Genesis 3.

Ons het tot die slotsom gekom dat daar ‘n klomp dinge is wat ons verloor het as gevolg van hulle keuse om aan God ongehoorsaam te wees.

Vandag gaan ons gesels oor drie van hierdie ‘verlore’ dinge, maar ons gaan ook sien hoe Jesus dit wat ons verloor het, weer aan ons teruggee.

ONS VERHOUDING MET GOD.

Die eerste ding wat Adam en Eva verloor het, was hulle verhouding met God.

Onthou jy hoe hulle vir God probeer wegkruip het?

Daarna was dinge nooit weer dieselfde nie.

En tot met die koms van Jesus, kon mense nie regtig weer ‘n intieme verhouding met God hê nie.

Hoewel die Israeliete God se volk was, kon selfs hulle nie direk met Hom ‘n verhouding hê nie, maar moes deur priesters en profete met Hom praat en van Hom hoor.

Maar toe kom Jesus, en Hy verander alles.

DIE EWIGE LEWE.

Wanneer jy in Hom glo, gee Hy jou die ewige lewe. In Johannes 17 lees ons Sý definisie van wat die ewige lewe nou eintlik beteken.

“En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is” (Johannes 17:3).

Die ewige lewe is veel meer as om die ewigheid saam met God in die hemel deur te bring.

Die ewige lewe is om Hom te kan ken en ‘n verhouding met Hom te hê.

En dit gebeur nie eers wanneer jy hemel toe gaan nie, dit is veronderstel om hier en nou al ‘n werklikheid in jou lewe te wees.

God het Sy Seun gestuur om fisies vir ons te wys wie Hy is en wat Hy doen.

Hy het vir ons Sy Woord gegee sodat ons daarin van Sy Seun kan lees en Hom nog beter leer ken.

En Hy het ook vir ons die Heilige Gees gegee om in ons te woon en ons te leer, ons Sy Woord te help verstaan en ons by te staan.

Jesus gee vir ons die geleentheid om weer ‘n intieme verhouding met God te hê; die verhouding wat ons verloor het in die Tuin van Eden.

GOD-GEGEWE GESAG.

In die begin het God die mens geskep as Sy verteenwoordiger op aarde. Hy het vir Adam en Eva geseën en vir hulle gesê dat hulle moet heers oor alles wat Hy gemaak het – visse, voëls, diere, reptiele, ensovoorts.

Die dag toe hulle egter aan Hom ongehoorsaam was, het hulle hierdie God-gegewe gesag en heerskappy aan die duiwel oorhandig.

Ons lees in die Bybel dat hy genoem word die ‘god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4).

Hy het ook probeem Jesus sover te kry om hom te aanbid deur Hom al die koninkryke van die wêreld aan te bied. As dit nie aan hom behoort het, sodat hy dit vir Jesus kon aanbied nie, sou dit nie vir Hom ‘n versoeking gewees het nie.

Ons as mens het dus daar in die Tuin van Eden die gesag en heerskappy wat God ons gegee het, verloor.

Maar weereens het alles verander met die koms van Jesus.

JESUS GEE WEER GESAG.

Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, verskyn Hy aan Sy dissipels.

In Mattheus 28:18 lees ons Hy het vir hulle gesê: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.”

Deur Hom het ons weer ons God-gegewe gesag terug ontvang.

Ons lees in Lukas 9:1-2 dat Jesus Sy disippels bymekaar geroep het, en aan hulle mag en gesag gegee het om bose geeste uit te dryf en siektes te genees. Daarna het Hy hulle gestuur om God se koninkryk te verkondig en siekes gesond te maak.

Dit is presies wat Hy in Markus 16:16-18 ook gedoen het.

Hy sê in verse 15 en 17-18: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom…. Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”

Hy stuur hulle, en ons, uit om die Evangelie te verkondig, en gee aan ons die mag en gesag om bose geeste uit te dryf en siekes gesond te maak.

Waar die mens voorheen nie ‘n ander keuse gehad het as om die duiwel te gehoorsaam nie, het Jesus vir ons as kinders van God weer die vermoë gegee om hom teen te staan (1 Petrus 5:8-9).

VREES IS AL WAT OORBLY.

Adam en Evan het aanvanklik geen vrees geken nie.

Hulle was selfs nie eers vir die diere bang, soos ons deesdae vir baie diere is nie. Dink maar daaroor. As Eva bang was vir die slang, dan het sy mos in die eerste plek nooit met hom gepraat nie!

Maar, sy leen ongelukkig haar ore aan sy leuens uit, en kom tot die gevolgtrekking dat God besig is om hulle in te doen deur die vrugte van hulle weg te hou.

Sy en Adam kies om die slang se woord eerder as God s’n as die waarheid te aanvaar, en hulle eet van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad.

En net daar maak vrees sy eerste verskyning.

In Genesis 3:8 lees ons dat hulle weggekruip het toe hulle God in die tuin hoor wandel het, want hulle was bang.

Vrees, in plaas van geloof, is toe al wat oorbly – vir hulle en vir almal wat na hulle gekom het.

Maar ook hier verander Jesus alles.

GELOOF AS GESKENK.

In Romeine 10:17 lees ons geloof kom wanneer ons die Woord van God en die goeie nuus van Christus hoor.

En in Efesiërs 2:8 (OAV) leer ons dat beide redding en geloof ‘n gawe van God is.

God gee dus vir ons geloof as geskenk wanneer ons Sy Woord hoor.

Dit sou nie moontlik gewees het sonder Jesus se kruisdood nie, want dit is juis ons geloof in Hom wat alles wat ons in die Tuin van Eden verloor het, weer aan ons teruggee.

Nou het ons ‘n keuse. As kinders van God kan ons kies om in geloof te leef, en vrees moet eenvoudig die wyk neem.

NOG BAIE MEER.

Hierdie is maar net drie van die dinge wat ons verloor het die dag toe Adam en Eva gesondig het.

Daar is nog baie meer, maar elkeen daarvan het ons weer teruggekry die dag toe ons in Jesus as Verlosser geglo het.

En Hy het nie net die dinge wat ons verloor het weer aan ons teruggegee nie, Hy het sommer nog ‘n hele klomp ander bygevoeg om ons te seën!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *