EKSODUS – NOG DINGE WAT JY MOET WEET

Brandende doringbos - die boek Eksodus - nog dinge wat jy moet weet

Ons het al voorheen gesels oor Eksodus en die verskillende dinge wat jy daaroor moet weet om jou te help om die boek beter te verstaan. Vandag gaan ons weer daaroor gesels, want daar is nog ‘n paar dinge wat ek met jou wil deel.

EKSODUS – NAAM EN PLEK.

Eksodus is afgelei van die Griekse naam en beteken uittog. In Hebreeus is die boek se naam ‘We-Eellê Sjemoot‘ wat die eerste twee woorde van die boek is. Hierdie woorde beteken ‘En hierdie is die name…

Dit is die tweede boek in die Ou Testament en is deel van die eerste vyf boeke van die Bybel. Hierdie vyf boeke word die Pentateug genoem.

SKRYWER EN TYDPERK.

Vir baie jare is aanvaar dat Moses die skrywer van die boek was. Nou is kenners egter van mening dat die boek oor ‘n langer tydperk geskryf is. Hulle is van mening dat die boek uiteindelik deur priesters in die Babiloniese ballingskap klaargemaak is.

In die vorige artikel oor Eksodus het ek ‘n paar bewyse genoem waarom sommige kenners sê Moses was die skrywer. Maar al is daar nou meningsverskille daaroor, verander dit nie aan die boodskap wat ons daaruit kry nie.

Die tydperk wat in Eksodus gedek word, is ongeveer 145 jaar. Dit begin net na die dood van Josef en eindig met die oprigting van die Tabernakel.

EKSODUS – TIPE BOEK EN DIE DOEL DAARVAN.

Die boek Eksodus is ‘n teologiese boek. Dit beteken dis ‘n boek waarin ons meer leer oor wie God is en oor wat Hy vir die mens gedoen het.

Eksodus is ook ‘n historiese boek, want daarin lees ons heelwat van Israel se geskiedenis.

En laastens is dit ‘n instruksieboek, omdat ons die Wet van God daarin kry.

Ons kan dus sê Eksodus is ‘n teologiese, historiese instruksieboek. Nogal ‘n mondvol, né!

Verder is dit ook belangrik om te weet dat Eksodus geskryf is om, deur die lewens van die Israeliete, God se verlossingsplan vir ons te illustreer.

TIPES, SKADUBEELDE EN PATRONE IN EKSODUS.

Daar word oral in die Ou Testament van tipes, skadubeelde en simbole gebruik gemaak om heen te wys na verskillende dinge.

‘n Tipe is gewoonlik ‘n persoon wat in sy persoon of werk ‘n skadubeeld is van Jesus se persoon of werk.

In Eksodus kry ons die volgende tipes en simbole:

Egipte is ‘n simbool van die wêreld en die wêreldsisteme. Dit verteenwoordig materiële rykdom en valse godsdienste. Dit is onder beheer van ‘n heerser, in hierdie geval die farao. Egipte onderdruk die Israeliete, maar word later deur God geoordeel.

Die farao is ‘n skadubeeld van die duiwel, wat teen mense is en hulle onderdruk en basies as slawe van sonde aanhou. Hy is die ‘god van die wêreld’ en wil graag aanbid word. Hy ontken vir God, net soos die farao vir God ontken het.

Israel is ‘n skadubeeld van die kerk of die Liggaam van Christus. Hulle word vrygemaak van slawerny en is in Eksodus op pad na die Beloofde land toe. Net so is ons as gelowiges vrygemaak van die slawerny van sonde en is op pad na ons hemelse tuiste saam met God (kolossense 1:13-14).

Moses is ‘n skadubeeld van Jesus. Hy was God se profeet wat gestuur is om Sy volk van slawerny te bevry.

Die deurtog deur die Rietsee is ‘n skadubeeld van die doop, wat volg nadat ‘n persoon weergebore is.

En laastens is die Amalekiete ‘n skadubeeld van die vlees of die sondige aard (Eksodus 17:8-15). Die Israeliete moes teen hulle veg by Rafidim. Ons is, na ons weergeboorte, steeds besig om teen die sondige aard te baklei. Dit beteken eenvoudig ons werk saam met God om van die oorblyfsels van sonde, wat nog in ons lewens is, ontslae te raak.

EKSODUS IN DRIE DELE.

‘n Mens kan die boek Eksodus in drie dele opdeel.

Die eerste deel, hoofstukke 1-17, is ‘n heenwysing na verlossing en illustreer God se mag vir ons.

Hoofstukke 18-24 is ‘n heenwysing na geregtigheid en illustreer God se heiligheid vir ons.

En laastens is hoofstukke 25-40 ‘n heenwysing na herstel en dit illustreer God se genade vir ons.

DIE TIEN PLAE.

Die tien plae was God se oordeel oor Egipte omdat hulle die Israeliete in slawerny gehou het. Maar dis nie al nie. Dit was ook God se oordeel oor elkeen van die land se gode.

Daar was 80 verskillende gode in die Egiptiese godewêreld. Die Egiptenare het ook omtrent alles in die natuur – son, maan, sterre, diere en selfs sommige plante – aanbid.

Deur die tien plae het God hulle gewys dat hulle gode eintlik niks is nie, dat Hy die enigste ware God is.

JESUS IN EKSODUS.

Het jy geweet dat ‘n mens Jesus in elke boek van die Bybel kan sien?

MOSES.

In Eksodus sien ons Moses as ‘n tipe van Christus. Dit wat hy doen as profeet van God, wat Sy volk uit slawerny lei, wys heen na Jesus en hoe Hy ons deur Sy dood en opstanding van sonde bevry het.

EK IS.

Toe Moses in die woestyn deur God geroep word om die Israeliete uit Egipte te lei, vra Moses Hom wie hy moet sê het hom gestuur?

God antwoord ‘Ek Is Wie Ek Is’.

In hierdie Naam sien ons vir Jesus.

Onthou jy hoeveel keer Jesus vir die dissipels gesê het ‘Ek Is…’? Dinge soos ‘Ek is die weg, die waarheid en die lewe’, ‘Ek is die goeie herder’, en ‘Ek is die opstanding en die lewe’.

DIE PAASLAM.

Ons sien Jesus ook in die paaslam.

Tydens die tiende plaag, toe alle eersgeborenes van die Egiptenare dood is, moes dié lam se bloed aan die sykante en bokant van die deurkosyne gesmeer word. Dit was ‘n teken vir die Israeliete (Eksodus 12:13). In die Israeliete se huise waar die bloed aan die kosyne gesmeer is, is nie een eersgeborene dood nie.

Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Johannes 1:29).

MANNA UIT DIE HEMEL.

Dan sien ons Jesus ook in die manna wat God vir die Israeliete gegee het om te eet. Hy is die Brood van die lewe (Johannes 6:33).

DIE ROTS.

Ons sien Jesus ook in Eksodus 17, waar God vir die volk water uit ‘n rots gee. Hierdie rots is ‘n heenwysing na Jesus. Jy kan meer hieroor lees in 1 Korinthiërs 10:1-4.

DIE TABERNAKEL.

Verder sien ons Jesus in die Tabernakel. Die hele Tabernakel is ‘n heenwysing na Jesus, en daarom bietjie lank om nou daaroor te gesels. Maar gelukkig het ek al voorheen ‘n artikel hieroor geskryf wat jy kan gaan lees as jy meer daaroor wil weet.

DIE LOSSER.

En laastens sien ons Jesus as die ‘go’el’, ‘n Hebreeuse woord wat ‘losser’ beteken.

In die Wet het God bepaal dat, as ‘n Israeliet as slaaf verkoop is, sy naaste familielid hom moes loskoop uit slawerny.

Jesus is ons Losser, wat ons deur Sy dood en opstanding losgekoop het uit die slawerny van sonde.

NOG ARTIKELS OM TE LEES.

As jy meer oor van die ander boeke van die Pentateug wil weet kan jy hierdie artikels lees:

GENESIS: WAT JY MOET WEET

GENESIS: INTERESSANTE FEITE OOR GENESIS

EKSODUS: WAT JY MOET WEET

LEVITIKUS: INTERESSANTE DINGE WAT JY MOET WEET

Deel hierdie blad

3 comments

  1. Vera Smith

    Baie dankie vir die Bybel studie, baie leersaam

    Vriendelike g roete
    Vera

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *