
As daar nou een boek in die eerste vyf boeke van die Bybel is wat mense laat struikel, dan is dit Levitikus. Dis nie regtig ‘n moeilik boek nie, maar kan soms ‘n bietjie vervelig voorkom. Baie mense wat probeer om die Bybel van voor tot agter deur te lees, gee sommer moed op wanneer hulle by Levitikus kom!
Maar al lyk Levitikus vervelig, is daar tog soveel wat ons as gelowiges daaruit kan leer. In hierdie artikel gaan ons kyk na sommige van dié dinge wat jou gaan help om baie meer uit die boek te kry wanneer jy volgende keer daardeur lees.
WIE HET LEVITIKUS GESKRYF?
Net soos die ander vier boeke was Moses die skrywer van Levitikus.
In Mattheus 8:4 sê Jesus vir die melaatse man, wat gesond geword het: “…maar gaan wys jouself vir die priester en bring die offergawe wat Moses voorgeskryf het…” Dis ‘n verwysing na Levitikus 13.
Uit Jesus se woorde sien ons dus dat Moses wel die skrywer van die boek was.
WAAR SPEEL DIT AF?
Hoewel niemand met sekerheid kan sê nie, word vermoed dat die boek geskryf is toe die Israeliete aan die voet van die Sinaiberg gekamp het.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Dis interessant dat Levitikus nie die oorspronklike Hebreeuse naam vir die boek is nie. Die oorspronklike naam is Wayyiqra. Dit beteken ‘Hy roep’ en is die eerste woord van die Hebreeuse teks.
In die Griekse Septuagint is die boek se naam Leuitikon. Dit beteken ‘dit wat betrekking het op die priesters’. Dit is dan ook van hierdie naam waar die Latynse Vulgata die naam Levitikus gekry het.
DIE DOEL VAN DIE BOEK.
Levitikus is ‘n belangrike boek omdat dit ons leer hoe ons na God toe moet kom.
Oral in die boek lees ons van verskillende wette rakende die offergawes. ‘n Offer is die basis van alle ware aanbidding.
Dink nou maar daaroor. Dit maak nie saak wie ons is nie, elkeen van ons het gesondig. Ons staan almal skuldig voor God en is onrein in Sy oë. Daarom het elkeen van ons ‘n offer nodig om ons vry te maak van ons skuld en om ons te reining van ons ongeregtigheid.
In Levitikus sien ons hoe God vir die Israeliete die verskillende offers gee sodat die dinge hierbo ‘n werklikheid in hulle lewens kon word.
JESUS IN DIE OFFERGAWES VAN LEVITIKUS.
Gelukkig het ons, wat aan hierdie kant van die kruis leef, nie meer nodig om offers te bring vir vergifnis en reiniging nie.
Hoekom nie?
Want Jesus was die volmaakte offer en, as ons in Hom glo, dan is ons vir altyd vergewe. Ons ontvang ook Sy geregtigheid wanneer ons weergebore word. Wanneer God nou na ons kyk, dan sien Hy nie sonde en ongeregtigheid nie. Hy sien ons deur die bloed van Jesus en daarom sien Hy ons as sonder sonde en rein.
Maar kom ons kyk hoe ons Jesus in die verskillende offergawes kan sien.
DIE BRANDOFFER – LEVITIKUS 1:1-17; 6:8-13.
Met hierdie offer het ‘n Israeliet sy toewyding aan God gewys. Hy het God daarmee gedank en Hom aanbid.
Hierdie offer was die manier waarop die mense tot hulle Verlosser genader het.
‘n Persoon wat ‘n brandoffer gebring het, kon ‘n bul, skaap of bok, of ‘n tortelduif of jong duif gebring het. In hoofstuk 6 sien ons die offer moes dwarsdeur die nag op die altaar bly.
In hierdie offer sien ons hoe Jesus Homself volkome vir ons gee, sonder om iets terug te hou.
DIE GRAANOFFER (LEVITIKUS 2:1-16; 6:14-23).
Die graanoffer was ‘n vrywillige offer om dankbaarheid uit te druk.
Wanneer ‘n persoon ‘n graanoffer gebring het, kon hy dit op ‘n paar maniere doen. Hy kon gesifte meel bring, of hy kon die meel gebruik om ringbrode of platbrode te bak en dit bring as offer.
In hierdie offer sien ons dat die mens aandeel het daaraan. Om graan te verbou het gevra dat die mense hard werk om die graan te plant en later te oes.
Met hierdie offer het ‘n persoon erken dat hy alles wat hy het van God ontvang het.
Ons sien Jesus in die offer wanneer ons in 2 Korinthiërs 8:9 lees dat Jesus, wat ryk was, ter wille van ons arm geword het sodat ons deur sy armoede ryk kan word.
Ons lees ook in Romeine 8:32 dat God Sy eie Seun ter wille van ons oorgelewer het, en dat Hy saam met Hom alles aan ons skenk.
Jy sien, in Jesus gee God vir ons alles wat ons ooit mag nodig kry. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom ook in ons lewens uit die hand van God.
DIE MAALTYDOFFER (LEVITIKUS 3:1-17; 7:11-38).
Hierdie offer was eintlik soos ‘n fees, want na die offer gebring is, het die mense saam daaraan geëet.
Hulle feesviering het verklaar dat hulle vrede met God gehad het. Die offer was dus voedsel vir die priesters sowel as vir die persone wat die offer gebring het.
Hierdie offer verteenwoordig Jesus, wat die offer vir ons verlossing was. Dit is ook ‘n heenwysing na Hom as die bron van ons geestelike voedsel.
In Mattheus 26:26 staan daar: “Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, gee dit vir die dissipels en sê: ‘Neem, eet, dit is my liggaam.'”
Ons voed ons gees deur elke dag tyd te spandeer in die Woord van Christus. Ons groei ook daardeur in ons verhouding met Hom en ons ervaar Sy vrede.

DIE REINIGINGSOFFER (LEVITIKUS 4:1-5, 13-14; 6:24-30).
Die reinigingsoffer moes gebring word omdat die mense gesondig het.
Vergifnis sluit in dat die mens erken hy het gesondig en dat hy vertrou op die versoening wat God bied.
Wanneer ons na Jesus toe kom, dan vertrou ons op die versoening wat God deur Hom aan ons gee.
Die doel van die reinigingsoffer was om die priesters, die gemeente, die heerser en die mense te herstel.
Jesus is ons reinigingsoffer. Deur geloof in Hom word ons verhouding met God herstel. Ons kan dus nou met vrymoedigheid na Hom toe gaan.
DIE HERSTELOFFER (LEVITIKUS 5:14-6:7; 7:1-10).
Hierdie offer is gebring wanneer iemand teen God of teen sy medemens oortree het.
Die dier wat vir die offer gebruik is, was altyd ‘n ram uit die kleinvee.
Ook in hierdie offer sien ons vir Jesus.
Hy het Sy bloed gestort sodat ons met God, en met ander mense, versoen kan word wanneer ons teenoor hulle oortree.
DIE FEESTE EN DIE PRIESTERDOM.
In Levitikus lees ons ook van die sewe verskillende feeste wat God die Israeliete gegee het.
Dan lees ons ook van die inselling van die priesterdom – hoe hulle klere gelyk het en wat hulle alles gedoen het.
En, net soos ons Jesus in elkeen van die verskillende offers kan sien, kan ons Hom ook in elkeen van hierdie dinge sien.
Ons gaan volgende week in meer detail kyk na waar ons Jesus in die feeste en in die priesterdom kan sien.
VORIGE ARTIKELS.
Hulpbron: Seeing Jesus Bible Encounter – Marilyn Hickey
