EKSODUS IN DIE NUWE TESTAMENT

Eksodus in die Nuwe Testament

Eksodus word sommer ‘n hele paar keer in die Nuwe Testament aangehaal. Partykeer word ‘n gebeurtenis oorvertel en dan word ‘n spesifieke vers in Eksodus aangehaal. Ander kere word daar gepraat van die Wet, en dan word ‘n vers aangehaal.

Vandag gaan ons kyk na ‘n paar van hierdie gedeeltes.

WIE IS JOSEF?

In die eerste hoofstuk van Eksodus lees ons waarom die Israeliete slawe in Egipte geword het. Die vertelling begin hierdie woorde:

Eksodus 1:8: Daar het toe ‘n nuwe koning oor Egipte aan bewind gekom wat nie van Josef geweet het nie.

In Handelinge 7 lees ons Stefanus se toespraak en sien hoe hy dieselfde woorde as in vers 8 hierbo, gebruik.

Handelinge 7:18: …totdat daar ‘n ander koning oor Egipte aan bewind gekom het wat nie van Josef geweet het nie.

MOSES IN DIE MOEILIKHEID.

Eksodus 2 vertel vir ons van Moses se geboorte en hoe hy in die Farao se paleis beland het. Daar lees ons ook hoe hy ‘n Egiptenaar doodmaak omdat dié een van die Israeliete geslaan het. Die volgende dag sien hy twee Hebreeuse mans met mekaar baklei en probeer hulle keer. Dan gebeur die volgende:

Eksodus 2:14: Die man het geantwoord: “Wie het jou as aanvoerder en regter oor ons aangestel? Dink jy om my ook dood te maak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword en gedink, sowaar, die saak het bekend geword!

In Stefanus se toespraak praat hy ook oor hierdie gebeurtenis.

Handelinge 7:27-28: Maar die een wat sy volksgenoot kwaad aangedoen het, het hom weggestamp en gesê, “Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het?”

Handelinge 7:35: Hierdie Moses, vir wie hulle verwerp het toe hulle gesê het, ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ – hom het God as leier en bevryder gestuur deur die hand van ‘n engel wat aan hom in die doringbos verskyn het.

DIE BRANDENDE DORINGBOS.

Eksodus 3 begin met die vertelling van hoe God vir Moses geroep het om die Israeliete uit Egipte te bevry. Onthou jy nog die storie? God verskyn aan hom in ‘n brandende doringbos.

Eksodus 3:2: Daar het die Engel van die Here aan hom verskyn in ‘n vuur wat uit ‘n doringbos opvlam.

Weereens lees ons ook oor hierdie gebeure in Stefanus se toespraak.

Handelinge 7:30: Ná veertig jaar het ‘n engel aan hom in die woestyn van die Sinaigebergte verskyn, in die vlam van ‘n brandende doringbos.

Handelinge 7:35: Hierdie Moses, vir wie hulle verwerp het toe hulle gesê het, ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ – hom het God as leier en bevryder gestuur deur die hand van ‘n engel wat aan hom in die doringbos verskyn het.

GESTUUR NA EGIPTE.

God verskyn aan Moses in ‘n brandende doringbos en stuur hom om die Israeliete uit Egipte te lei na die Beloofde Land toe.

Eksodus 3:5,7,8,10: Toe sê die Here: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.”… Die Here sê toe: “Ek het die ellende van my volk wat in Egipte is, duidelik gesien. Hulle noodkreet oor hulle slawedrywers het Ek gehoor. Ja, Ek ken hulle lyding. Ek het afgekom om hulle uit die hand van Egipte te red en hulle uit daardie land te laat optrek na ‘n goeie en uitgestrekte land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, die woonplek van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete… Gaan dan nou! Ek stuur jou na die farao om my volk, die Israeliete, uit Egipte uit te lei.”

In die Nuwe Testament Stefanus sit sy vertelling voort en praat ook oor hierdie gebeurtenis in Eksodus.

Handelinge 7:33-34: Toe sê die Here vir hom, “Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik die mishandeling van my volk in Egipte gesien en hulle jammerklag gehoor; daarom het ek neergedaal om hulle te red. En nou, kom nader, Ek wil jou na Egipte stuur.”

DIE GOD VAN ABRAHAM, ISAK EN JAKOB.

In Eksodus 3 lees ons ook ‘n Naam van God wat ‘n hele paar keer in die Bybel gebruik word.

Eksodus 3:6: Daarop sê Hy: “Ek is die God van jou voorvader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Moses het sy gesig bedek, want hy was bang om na God te kyk.

In die Evangelies lees ons hoe Jesus hierdie woorde aanhaal wanneer Hy praat oor die opstanding van die dooies.

Mattheus 22:31-32: En wat die opstanding van die dooies betref, het julle nie gelees wat God aan julle gesê het nie, ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’? Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes.

Markus 12:26: En wat die opwekking van die dooies betref, julle het tog in die boekrol van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het, ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’

Lukas 20:37: Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem.

En in die Nuwe Testament praat Stefanus ook oor hieroor in sy toespraak.

Handelinge 7:32: “Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en Isak en Jakob.” En Moses het begin bewe en nie gewaag om daarna te kyk nie.

GOD GEE MOSES ‘N TEKEN.

In Sy groot genade gee God vir Moses ‘n teken om vir hom te wys dat dit regtig Hy is wat hom gestuur het.

Eksodus 3:12: Hy [God] het geantwoord: “Ek is immers by jou. En dit sal vir jou die teken wees dat dit Ek is wat jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle God op hierdie berg dien.”

Stefanus haal ook hierdie deel aan.

Handelinge 7:7: “Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou,” het God gesê, “en daarna sal hulle uitgaan en My op hierdie plek dien.”

Dis vir my interessant dat God nie vir Moses die teken gee voor hy na Farao toe gaan nie. Nee, hy kry eers die teken na hulle reeds uit Egipte getrek het. Moses moes dus in geloof gaan doen wat God hom beveel het. Eers nadat hy in geloof die pad gestap het, kry hy ‘n teken om te wys God was regtig die Een wat hom gestuur het.

GESPREK MET FARAO.

Nou skuif ons na Eksodus 9. Moses was nou al ‘n paar keer by die Farao en ‘n paar plae het ook al plaasgevind. Dan stuur God hom weer na die Farao met hierdie boodskap:

Eksodus 9:16: Maar aan die ander kant, om hierdie rede het Ek jou staande gehou, om jou my krag te toon, sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.

Hierdie keer is dit Paulus wat die gedeelte in een van sy briewe aanhaal.

Romeine 9:17: Die Skrif sê immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou verhef, sodat Ek deur jou my krag kan toon, en sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.”

DIE PAASLAM.

In Eksodus 12 lees ons van die instelling van die Pasga. God gee, onder andere, vir hulle die opdrag hieronder:

Eksodus 12:46: Dit [die paaslam] moet in een huis geëet word. Jy mag nie van die vleis uit die huis na buite neem nie. ‘n Been daarin mag julle nie breek nie.

Die paaslam was ‘n heenwysing na Jesus en wat Hy vir ons aan die kruis kom doen het. Ons lees dan ook hoe Hy hierdie gedeelte vervul het toe Hy gekruisig is.

Johannes 19:34;36: Een van die soldate het egter met ‘n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom… Want hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”

VOORSKRIF OOR DIE EERSGEBORENES.

Die volgende vers waarna ons gaan kyk, staan in Eksodus 13. Die Israeliete het uiteindelik uit Egipte getrek. In die volgende hoofstukke gee God vir hulle verskeie wette en opdragte wat hulle moet gehoorsaam. Een van dié opdragte is ‘n voorskrif oor wat hulle met alle eersgeborenes moet doen.

Eksodus 13:2: Wy al die eersgeborenes aan My. Die eerstelinge van elke moederskoot onder die Israeliete, van mense en diere, behoort aan My.

In Lukas 2 lees ons hoe Josef en Maria hierdie voorskrif nagekom het, toe Jesus gebore is.

Lukas 2:22-23: Ná afloop van hulle reinigingstyd wat die Wet van Moses voorskryf, het hulle Hom na Jerusalem geneem om Hom aan die Here te wy. Soos daar in die Wet van die Here geskryf staan: “Elke eerstelingseun wat gebore word, moet aan die Here gewy word.”

MANNA UIT DIE HEMEL.

Die Israeliete is nou al vir ‘n tydjie lank besig om te trek. Hulle kos begin minder word en hulle gaan kla by Moses. Moses gaan na God toe met die probleem.

Eksodus 16:4;15: Die Here het vir Moses gesê: “Kyk, Ek gaan vir julle brood uit die hemel laat reën; dan moet die volk uitgaan en genoeg vir elke dag bymekaarmaak, sodat Ek hulle kan toets of hulle my wet sal volg of nie.”… Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit?” Want hulle het nie geweet wat dit was nie. Moses sê toe vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gegee het om te eet.”

Nadat Jesus die skare met ‘n paar broodjies en vissies kos gegee het, gaan soek hulle Hom. In die gesprek wat volg, haal hulle dié gedeelte aan.

Johannes 6:31: Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos daar geskryf staan, “Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.”

ELKEEN NET GENOEG.

In die vers hierbo het ons gesien dat God vir die Israeliete gesê het hulle moet net genoeg manna vir elke dag optel. Dan lees ons die volgende:

Eksodus 16:18: Toe hulle dit met ‘n omer meet, het dié wat baie opgetel het, nie te veel gehad nie, en dié wat min opgetel het, nie te min gehad nie. Wat elkeen nodig gehad het om te eet, het hulle bymekaargemaak.

In een van sy briewe aan die Korinthiërs, skryf Paulus hieroor wanneer hy hulle aanmoedig om vrygewig te wees met dit wat hulle het.

2 Korinthiërs 8:15: Soos daar geskryf staan: “Die een met baie, het nie te veel gehad nie, en die een met net ‘n bietjie, nie te min nie.”

‘N UITVERKORE VOLK.

Aan die begin was die Israeliete God se uitverkore volk, deur wie Hy Homself aan die mensdom bekend gemaak het. Hy gee dan ook vir Moses die woorde hieronder om vir die Israeliete te sê.

Eksodus 19:5-6: ‘As julle dan nou getrou luister na My stem en my verbond nakom, dan sal julle onder al die volke my persoonlike eiendom wees, al behoort die hele aarde aan My. Vir My sal julle ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees.’ Dit is die woorde wat jy aan die Israeliete moet oordra.

Na Jesus se dood en opstanding, het dinge so ‘n bietjie verander. Nou is dit nie net meer deur die Jode wat God Homself aan die mens bekend maak nie, maar deur almal wat in Jesus glo. Daarom maak Petrus God se woorde in die teks hierbo nou van toepassing op die Liggaam van Christus.

1 Petrus 2:9: Julle, egter, is “‘n uitverkore geslag”, “‘n koninklike priesterdom”, “‘n heilige nasie”, “‘n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig…

EER JOU VADER EN MOEDER.

Die eerste gebod met ‘n belofte kry ons in die Tien Gebooie.

Eksodus 20:12: Behandel jou vader en jou moeder met eerbied, sodat jy lank kan leef op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee.

Hierdie gebod word sommer ‘n hele paar keer in die Nuwe Testament aangehaal. Jesus haal dit aan in die Evangelies, wanneer Hy met die Fariseërs praat.

Mattheus 15:4: God het tog gesê, ‘Eer jou vader en moeder,’ en ‘Wie sy vader of moeder beledig, laat hy beslis doodgemaak word’ (ook in Markus 7:10).

Jesus haal dit ook aan wanneer die ryk jongman na Hom toe kom om te vra wat hy moet doen om die ewige lewe te hê.

Mattheus 19:19: “…eer jou vader en jou moeder, en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (ook in Markus 10:19 en Lukas 18:20).

En Paulus haal dit aan in sy brief aan die gemeente in Efese.

Efesiërs 6:2-3: “Eer jou vader en jou moeder,” dit is die eerste gebod met ‘n belofte, “sodat dit met jou goed mag gaan, en jy ‘n lang lewe op aarde sal hê.”

HOE JY ANDER MOET BEHANDEL.

Die eerste deel van die Tien Gebooie het vir die Israeliete gewys hoe hulle teenoor God moes optree. Die laaste gedeelte het hulle gewys hoe hulle teenoor hulle naaste moes optree.

Eksodus 20:13-16: Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie.

Ook hierdie gebooie word ‘n hele paar keer in die Nuwe Testament aangehaal.

Mattheus 5:21;27: Julle het gehoor dat aan die voorouers gesê is, ‘Jy mag nie moord pleeg nie, en wie moord pleeg, is strafbaar voor die reg.’… Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie’…

Mattheus 19:18-19: Hy vra Hom: “Watter?” Jesus antwoord: “Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuig nie, eer jou vader en jou moeder,” en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (ook in Markus 10:19 en Lukas 18:20).

Paulus haal dit ook in sy brief aan die gelowiges in Rome aan.

Romeine 13:9: Want dit, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod ook al, word saamgevat in hierdie uitspraak: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

En Jakobus haal dit in sy brief ook aan.

Jakobus 2:11: Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy ‘n oortreder van die wet.

MOENIE BEGEER NIE.

Die laaste deel van die Tien Gebooie waarsku daarteen dat ‘n mens niks wat aan iemand anders behoort, moet begeer nie.

Eksodus 20:17: Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, ook nie sy slawe en slavinne, sy beeste en donkies nie – enigiets wat aan jou naaste behoort nie.

Ook hierdie gebod haal Paulus twee keer in sy brief aan die gelowiges in Rome aan.

Romeine 7:7: Wat sal ons dan sê? Dat die wet sonde is? Hoegenaamd nie! Trouens, ek sou nie die sonde geken het as dit nie deur die wet was nie. Ek sou immers nie geweet het wat begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.”

Romeine 13:9: Want dit, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod ook al, word saamgevat in hierdie uitspraak: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

‘N OOG VIR ‘N OOG.

Die wet het die volgende bepaal:

Eksodus 21:23-25: Maar as daar ‘n ernstige besering is, moet jy bepaal: ‘n lewe vir ‘n lewe, ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ‘n hand vir ‘n hand, ‘n voet vir ‘n voet, ‘n brandwond vir ‘n brandwond, ‘n wond vir ‘n wond, ‘n kneusplek vir ‘n kneusplek.

Jesus haal ‘n deel hiervan aan en draai dit dan heeltemal op sy kop.

Mattheus 5:38-39: Julle het gehoor dat gesê is, “‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand”. Maar Ek sê vir julle dat julle nie ‘n slegte mens moet teengaan nie. Nee, as iemand jou op jou regterwang klap, draai ook die ander een vir hom.

BLOED VAN DIE VERBOND.

In Eksodus 24 lees ons hoe God ‘n verbond met die Israeliete gesluit het.

Eksodus 24:8: Moses het toe die bloed geneem en dit oor die volk gesprinkel en gesê: “Kyk, dit is die bloed van die verbond wat die Here met julle sluit op grond van al hierdie woorde.”

Hierdie woorde word ook in die Hebreërs-brief aangehaal wanneer daar gepraat word van Jesus se offer aan die kruis.

Hebreërs 9:20-21: Immers nadat elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk bekend gemaak is, het hy die bloed van die bulkalwers en die bokramme saam met water geneem, en met helderrooi wol en marjolein het hy die boekrol self, en ook die hele volk besprinkel, terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle bepaal het.”

DIE GOUE KALF.

Dan kom ons by die goue kalf. God gee Moses opdrag om teen die berg op te gaan sodat Hy vir hom die Wet kan gee. Ongelukkig bly Moses langer weg as wat die volk verwag het.

Eksodus 32:1: Toe die volk merk dat Moses lank neem om van die berg af te kom, het die volk by Aäron byeengekom en vir hom gesê: “Komaan, maak vir ons gode wat voor ons uit kan gaan; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat met hom gebeur het nie.”

Net soos met van die vorige verse, word hierdie gedeelte in die Nuwe Testament ook deur Stefanus aangehaal.

Handelinge 7:39-40: Dit is aan hom wat ons vaders nie gehoorsaam wou wees nie. Hulle het hom verwerp en in hulle harte na Egipte teruggedraai toe hulle vir Aäron gesê het, ‘Maak vir ons gode wat voor ons uit kan trek, want hierdie Moses wat ons uit die land Egipte uitgelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie.’

DIE GOUE KALF WORD AANBID.

Nadat Aäron die goue kalf gemaak het, lees ons hoe hulle dit aanbid.

Eksodus 32:6: Hulle het vroeg die volgende dag opgestaan, brandoffers geoffer en maaltydoffers nadergebring. Die volk het gaan sit om te eet en te drink. Toe het hulle opgestaan om hulleself te vermaak.

Paulus haal hierdie gedeelte aan wanneer hy in een van sy briewe aan die gelowiges in Korinte waarsku teen afgodediens.

1 Korinthiërs 10:7: Moenie afgodedienaars wees, soos sommige van hulle nie; daar staan immers geskryf: “Die volk het gaan sit om te eet en te drink en opgestaan om te speel.”

GOD SE HEERLIKHEID.

In Eksodus 33 lees ons dat Moses vir God vra om Sy paaie aan hom bekend te maak, sodat hy Hom kan ken. Hy vra ook dat God Sy heerlikheid vir hom wys. In vers 19 lees ons God se antwoord.

Eksodus 33:19: Maar Hy het geantwoord: “Ek sal al my goedheid reg voor jou laat verbygaan, en Ek self sal die Naam ‘die Here’ uitroep. Ek is genadig oor wie Ek genadig wil wees, en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.”

Dis weereens Paulus wat hierdie gedeelte aanhaal in sy brief aan die gelowiges in Rome.

Romeine 9:14-15: Wat sal ons dan sê? Is daar dan enige onreg by God? Geensins! Vir Moses sê Hy tog: “Ek sal My ontferm oor wie ook al Ek My wil ontferm, en Ek sal barmhartig wees teenoor wie ook al Ek barmhartig wil wees.”

NOG AANHALINGS IN DIE NUWE TESTAMENT.

Daar is nog ‘n paar ander verse uit Eksodus wat ook in die Nuwe Testament aangehaal word, maar ons volstaan hierby.

Ek wil jou aanmoedig om elkeen van die verse waaroor ons gesels het, in konteks te gaan lees.

Lees eers die vers in konteks in Eksodus. Lees dit dan in konteks in die Nuwe Testament, waar dit aangehaal word. Skryf neer wat jy daaroor leer. Jy kan dit selfs met ons in die kommentaar hieronder ook deel!

Deel hierdie blad

3 comments

  1. Interesting and a helpful guide to assist me with Bible Study. Thank you with much appreciation

    Kind regards
    Dorothy Boshoff

  2. Interesting and a good guide to assist mw with Bible study Thank you with much appreciation

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *