
Nog net 5 dae (as jy hierdie artikel op die 20ste Desember lees!) dan is dit Kersfees.
Op daardie dag gaan ons weereens terugdink aan Jesus, wat as klein babatjie gebore is.
God het lank tevore belowe dat Hy ‘n Verlosser gaan stuur. Deur meer as een profeet het Hy verskillende dinge oor die Verlosser geprofeteer. In Jesus is al daardie profesieë vervul. En dié wat nog nie vervul is nie, gaan vervul word met Sy tweede koms.
Vandag gaan ek met jou ‘n paar Bybelverse vir Kersfees deel. Ons gaan elke keer kyk na ‘n profesie oor Jesus se koms. Dan gaan ons kyk na verse waar ons sien hoe die profesie vervul is.
Lees die verse. Dink daaroor na. En laat God toe om jou hart voor te berei vir die feestyd wat voorlê!
DIE BELOFTE VAN ‘N VERLOSSER.
Die eerste profesie, en ook belofte oor ‘n Verlosser, kry ons sommer reg aan die begin van die Bybel in Genesis.
Genesis 3:15: Vyandskap sal Ek tussen jou en die vrou stel, en tussen jou nageslag en haar nageslag. Hy sal jou kop aanval, en jy sal sy hakskeen aanval.
Met Jesus se kruisiging sien ons hoe hierdie profesie vervul word.
Johannes 19:18: Daar [op Golgota] het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
GEBORE UIT ‘N MAAGD.
Deur die profeet Jesaja kom die profesie dat Jesus uit ‘n maand gebore gaan word.
Jesaja 7:14 (OAV): Daarom sal die Here self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.
Dit word vervul toe die engel vir Maria, ‘n ongetroude vrou wat nog nooit met iemand omgang gehad het nie, kom sê sy gaan swanger raak.
Lukas 1:34-35: Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met ‘n man het nie?” Die engel het haar geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal Seun van God genoem word.”
Ons sien dit ook in die woorde wat die engel vir Josef in ‘n droom sê.
Mattheus 1:20: Terwyl hy daaroor nagedink het, het daar skielik ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.”
DIE LIG VIR DIE WêRELD.
Daar is sommer heelwat profesieë in Jesaja 9. Die eerste een kry ons in die heel eerste vers.
Jesaja 9:1: Die volk wat in duisternis ronddwaal, het ‘n groot lig gesien; hulle wat in ‘n stikdonker land woon – oor hulle het ‘n lig geskyn.
In Johannes lees ons hoe hierdie woorde in vervulling gegaan het.
Johannes 1:4-5: In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Johannes 8:12: Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
DIE NAME VAN JESUS.
In Jesaja 9 kry ons ook vier Name van Jesus. In elkeen van daardie Name is daar soveel opgesluit. Ek wil jou uitdaag om bietjie na te dink oor elkeen. Vra die Here om vir jou te wys wat elke Naam vir jou in jou lewe kan, en moet, beteken!
Jesaja 9:5: Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
In Johannes lees ons hoe Jesus een van daardie name – Vredevors – uitgeleef het.
Johannes 14:27: Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie.
VIR EWIG OP DIE TROON.
Jesaja 9 bevat ook die profesie waar geprofeteer word dat Jesus vir ewig op die troon van Dawid sal sit.
Baie jare gelede het God vir Dawid belowe dat daar vir altyd iemand uit sy nageslag op die troon sal wees. Jesus is daardie Iemand.
Jesaja 9:6: Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde, sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen.
Hierdie profesie gaan eers vervul word wanneer Jesus die tweede keer terugkom.
Openbaring 11:15: Die sewende engel het toe op sy trompet geblaas. In die hemel het luide stemme opgeklink wat uitroep: “Die heerskappy van ons Here en sy Christus oor die wêreld het aangebreek, en Hy sal as koning heers, vir ewig en ewig.”
JESUS SE BEDIENING.
In Jesaja lees ons ook die profesie van die dinge wat Jesus gedurende Sy bediening hier op aarde kom doen het.
Jesaja 61:1-2: Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is, om die genadejaar van die Here aan te kondig, ons God se dag van wraak, om almal wat rou, te troos…
In Lukas lees ons hoe Jesus hierdie profesie in die sinagoge lees en dan vir die mense sê dit het in vervulling gegaan.
Lukas 4:18-19;21: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”… Almal in die sinagoge se oë was stip op Hom gerig. Toe het Hy met hulle begin praat: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.”
Lees weer die profesie in Jesaja, en dan Jesus se woorde in Lukas. Sien jy dat Jesus nie die profesie voltooi nie? Hy hou op by ‘die genadejaar van die Here’, en laat die gedeelte oor God se oordeelsdag uit.
Hoekom doen Hy dit?
Want met Sy eerste koms het Hy gekom om al die dinge te doen wat Hy gelees het. Die oordeelsdag van God sal eers gebeur wanneer Hy die tweede keer terugkom.
‘N UITDAGING VIR 2022.
Die verse hierbo is net ‘n druppel in die emmer van al die verse wat ons kry waar daar oor Jesus geprofeteer word. En dis ook net ‘n handjievol van die verse waar ons sien hoe die profesieë in vervulling gegaan het.
Vandag wil ek vir jou nog ‘n uitdaging gee.
Maak ‘n punt daarvan om, elke keer wat jy ‘n profesie oor Jesus raaklees, dit te merk. Kyk dan waar jy in die Bybel sien hoe die profesie vervul is. Skryf die profesie en die versverwysing neer van die vers waar dit vervul is. Skryf ook by die vervullingsvers die verwysing neer van die vers waar die profesie staan.
Op dié manier gaan jy Bybelstudie doen. Jy gaan ook die groter prentjie raaksien en sien hoe getrou God is om altyd te doen wat Hy sê.
