
Het jy al ooit met jou Bybel gaan sit om Bybelstudie te doen en gedink, “Ek is regtig nie lus hiervoor nie!” Jy weet dis belangrik om tyd in die Woord te spandeer, maar soms voel dit droog, moeilik en selfs vervelig. Dis iets wat elke gelowige op een of ander stadium ervaar. (Ek het self nou die dag, toe ek besig was om koffie te maak voor ek stiltetyd hou, gedink dat ek nie regtig lus is om dit te doen nie.)
Maar gelukkig is daar goeie nuus. Net omdat jy soms nie lus is vir stiltetyd of Bybelstudie nie, beteken nie jy is ‘n slegte Christen nie. Dit beteken ook nie dat die Here ver van jou af is nie. Sien dit meer as ‘n uitnodiging om na ‘n manier te soek om tyd in die Woord te spandeer op ‘n manier wat jou hart aan die brand steek vir Hom.
Vandag gaan ons dan nou ook kyk na ‘n paar praktiese wenke wat jou kan help wanneer Bybelstudie of stiltetyd vir jou vervelig raak, sodat jy weer opgewonde kan wees oor jou tyd in die Woord en regtig daarna uitsien.
BID VOOR JY BEGIN.
Dit kan gebeur dat ‘n mens se tyd met die Here vervelig raak omdat dit iets geword het wat jy doen omdat dit op jou lysie vir die dag is. Jy sien dit as ‘n taak of ‘n gewoonte en nie as ‘n geleentheid om tyd saam met jou Here en Verlosser te spandeer nie.
Dis waarom dit altyd ‘n goeie idee is om jou Bybelstudietyd of stiltetyd te begin met gebed. Op dié manier fokus jy op die Here. Jy sê vir Hom dat jy graag tyd met Hom wil spandeer en jou volle aandag aan Hom wil gee. Verder vra jy Hom om met jou te praat en jou te leer wat Hy weet jy daardie dag moet hoor en verstaan.
Jy nooi Hom dus in jou Bybelstudie of stiltetyd in en gee die tyd oor in Sy hande om daarmee te doen wat Hy goeddink.
VERANDER JOU BENADERING.
Hier by Bybel En Gebed het ons nou al baie oor verskillende metodes gesels, wat jy kan gebruik wanneer jy Bybelstudie doen of stiltetyd hou. Ek moedig lesers gewoonlik aan om ‘n metode te kies wat vir hulle werk, en dit dan te gebruik. Dis goeie raad, maar dit kan veroorsaak dat jy jaar in en jaar uit dieselfde metode gebruik en verveeld raak daarmee.
As jy dus agterkom jy is baie keer nie lus vir Bybelstudie of stiltetyd nie, probeer dan ‘n nuwe metode.
Jy kan die WIT-metode gebruik. Of jy kan een van die metodes in die Bybelstudie-metodes e-boekie, wat jy gratis kan aflaai as jy vir ons nuusbrief inteken het, gebruik.
Kies ‘n nuwe metode en gebruik dit vir ‘n paar dae. Jy sal gou agterkom of ‘n nuwe metode die oplossing vir jou ‘ek is nie lus nie’-probleem is!
STEL VIR JOUSELF ‘N DOELWIT.
Om sommer net jou Bybel te lees sodat jy dit agter die rug kan kry, gaan nie veel help nie. Dit gaan beslis nie jou tyd in die Woord vir jou lekker of leersaam maak nie!
So, stel vir jouself ‘n doelwit. Waarom doen jy Bybelstudie of lees jy jou Bybel?
Wat wil jy van die Here weet of by die Here hoor?
Is daar dinge waarmee jy sukkel, vrae wat jy oor die Bybel het, of waarhede wat jy nog nie so lekker verstaan nie?
As jy weet waarom jy tyd in die Woord spandeer, sal dit jou help om gefokus te bly en die ervaring meer betekenisvol maak.
GEBRUIK ‘N ANDER VERTALING.
Lees jy jou hele lewe lank al uit dieselfde Bybelvertaling? Dit kan veroorsaak dat ‘n mens so gewoond is aan wat daarin staan, dat niks meer by jou insink nie.
Probeer dus om ‘n nuwe vertaling te gebruik. Jy kan selfs ‘n parafrase of ‘n Engelse vertaling probeer.
Ek gebruik in my stiltetyd gewoonlik die New International Version, maar ek kyk gereeld hoe ‘n vers in een van die ander Engelse vertalings vertaal is, as ek meer oor die vers wil weet. Dit help my om baie keer dinge uit ‘n ander hoek te sien, wat my help om die vers beter te verstaan. Die YouVersion webblad is ‘n goeie een om te gebruik as jy Afrikaanse vertalings met mekaar wil vergelyk. Die BibleHub is weer ‘n goeie een wanneer jy Bybelvertalings in Engels met mekaar wil vergelyk.
MAAK DIT VISUEEL.
As jy altyd net jou Bybel gebruik wanneer jy Bybelstudie doen of stiltetyd hou, is dit dalk tyd om dinge meer visueel te maak.
Jy kan byvoorbeeld ‘highlighters’ gebruik om woorde of frases wat vir jou uitstaan, uit te lig. As jy nie in jou Bybel wil skryf nie, kan jy ‘n joernaal of notaboek gebruik en die teks waarmee jy besig is, daarin oorskryf en dan jou ‘highlighter’ daarin gebruik. (Om die teks met die hand oor te skryf is altyd ‘n goeie idee. Dit help jou om stadig deur die teks te werk en om dinge raak te sien, wat jy andersins sou mis. En dit help ook om dit wat jy lees, dieper by jou vas te lê.)
Jy kan ook jou joernaal gebruik om prentjies te teken van sleutelverse of sleutelgedagtes, sodat jy dit wat jy daaruit leer, beter kan vaslê.
En as jy meer van woorde as van prentjies hou, kan jy natuurlik ook iets doen soos om ‘n gedig of jou eie psalm te skryf oor dit wat die Here jou leer.
Kreatiwiteit maak Bybelstudie en Bybellees interessant en help jou onthou. So, kies vir jou ‘n kreatiewe manier wat jy kan gebruik wanneer jy tyd in die Bybel spandeer en kyk of dit jou help om weer jou Bybeltyd te geniet.
BESTUDEER ‘N TEMA OF KARAKTER.
As jy altyd net gedeeltes of dalk boeke van die Bybel studeer, kan dit ‘n interessante verandering wees om te kyk na ‘n spesifieke onderwerp of Bybelkarakter.
Kies vir jou ‘n onderwerp waaroor jy meer wil weet. Dit kan iets wees soos die vrug van die Gees, die wapenrusting van God, of iets soos vergifnis, heiligheid, die verkondiging van die Evangelie, ensovoorts.
Soek dan al die verse of gedeeltes wat oor die onderwerp handel. ‘n Konkordansie sal jou nogal hiermee help. Kyk dan hoe al die gedeeltes daaroor saamvloei en jou help om dit beter te verstaan.
Of kies vir jou ‘n karakter in die Bybel waaroor jy nog altyd meer wou weet. Dink aan iemand soos Dawid, Moses, Josef, Paulus, een van die dissipels, ensovoorts. Soek dan weer al die verse of gedeeltes waarin die persoon genoem word en kyk wat jy oor hom of haar kan leer.
Hierdie tipe Bybelstudies kan ‘n mens nogal ‘n rukkie besig hou, veral as jy regtig elke vers of gedeelte in diepte studeer. Maar moenie dat dit jou afsit nie. Jy kan so lank met die studie aanhou as wat jy wil, so dit hoef nie iets te wees wat jou dae of weke gaan vat nie.

STUDEER DIE BYBEL SAAM MET IEMAND.
Bybelstudie wat jy altyd alleen doen, kan ook vervelig raak. Jy het niemand met wie jy kan gesels oor wat jy leer nie. Jy het ook niemand met wie jy jou vrae kan deel of wat jou kan help om iets dalk net uit ‘n ander hoek te sien en dit daarom beter te verstaan nie.
As jy dink dat dit die rede is waarom jou Bybelstudie vervelig is, kry dan vir jou iemand saam met wie jy dit kan doen. Daar is meer as een manier hoe julle dit kan doen.
Julle kan byvoorbeeld een dag ‘n week saam kuier en dan saam Bybelstudie doen. Of julle kan eers alleen deur ‘n gedeelte werk en dan bymekaar kom en met mekaar gesels oor wat julle geleer het.
Jy kan natuurlik ook by ‘n Bybelstudiegroep aansluit. Vir baie mense is dit die maklikste, want die leier besluit waaroor Bybelstudie gedoen word en bied baie keer die studie aan. Jy hoef dus net op te daag en te luister. En as jy vrae het, is daar iemand wat jou dadelik daarmee kan help.
GEBRUIK HULPMIDDELE.
Daar is nie een gelowige wat al ooit vir die eerste keer ‘n Bybel oopgemaak het, en dadelik alles verstaan het wat daarin staan nie. Almal van ons is nog elke dag besig om nuwe dinge te leer en ou dinge dalk beter te verstaan.
As jy sukkel om die Bybel te verstaan, en Bybelstudie daarom vir jou vervelig is, dan is dit ‘n goeie idee om te kyk na die verskillende hulpmiddele wat jy kan gebruik wanneer jy Bybelstudie doen. Baie van hulle is sommer aanlyn beskikbaar, so jy hoef nie eers geld uit te gee daarvoor nie.
VERANDER JOU OMGEWING.
Het jy al daaroor gedink dat die plek waar jy Bybelstudie doen, dalk die probleem is? Dis dalk raserig of jy word kort-kort onderbreek en kan nie fokus en konsentreer nie. Dan gaan Bybelstudie verseker nie lekker wees nie, want jy gaan min aan die einde van jou studietyd kom en dink, “Vandag het ek regtig die Here met my hoor praat. Hy het my so baie geleer en help verstaan!”
Gelukkig is dit redelik maklik om die plek waar jy Bybelstudie doen te verander, as jy agterkom dis wat veroorsaak dat jou Bybelstudie vir jou vervelig raak.
Is daar ‘n rustige hoekie in jou huis wat jy eerder kan gebruik? Kan jy die vertrek se deur toemaak sodat daar minder geraas is en mense nie sommer net kan instap nie?
Dalk is jou tuin ‘n beter opsie. Jy kan dit selfs oorweeg om in jou motor te gaan sit terwyl jy Bybelstudie doen, as dit jou gaan help om beter te fokus!
Sommige mense verkies ‘n rustige koffiewinkel, maar ek dink in so ‘n plek kan ‘n mens se aandag nog makliker afgetrek word, so dink mooi voor jy dit oorweeg.
KOPPEL DIT AAN JOU LEWE.
Jakobus leer ons dat ons nie net hoorders van die Woord moet wees nie, maar doeners ook. As jy nooit ‘n verband sien tussen dit wat in die Bybel staan en jou eie lewe nie, gaan Bybelstudie ook vervelig raak.
Maak dus ‘n punt daarvan om elke keer wat jy Bybelstudie doen of stiltetyd hou, jouself te vra hoe dit wat jy lees of leer by jou lewe inpas. Soms gaan jy dit wat jy lees sommer direk in jou lewe kan toepas. Dink byvoorbeeld aan Jesus se opdrag dat ons ander moet behandel soos ons graag behandel wil word. Jy hoef nie veel te dink oor hoe jy te werk moet gaan om elke dag ander te behandel soos jy behandel wil word nie.
Maar dit gaan ook gebeur dat jy ‘n gedeelte gaan lees en ‘n bietjie gaan moet dink en met die Here gesels daaroor voor jy verstaan hoe jy dit in jou lewe kan toepas. En dis juis wat jou studietyd interessanter kan maak. Dis daardie gesprek met die Here, om saam met Hom die gedeelte te ontrafel en oop te wees vir hoe Hy dit wat Hy jou leer, in jou lewe wil gebruik.
Probeer dit. Jy sal nie spyt wees nie!
SLOTGEDAGTE.
As jou Bybelstudie op dié stadium maar vir jou droog en vervelig voel, moenie moed opgee nie. Die Woord van God is lewendig en kragtig, selfs al voel dit nie altyd so nie. Soms vra dit net dat ons ‘n bietjie kreatief raak en bereid is om nuwe maniere te probeer. Onthou, die doel van Bybelstudie is nie net om jou kennis daarvan meer te maak nie, maar om Jesus beter te leer ken.
So, gaan sit vandag by Sy voete en vra Hom om jou weer ‘n nuwe liefde en honger vir Sy Woord te gee. Vat dan jou Bybel en begin weer met Bybelstudie of stiltetyd en kyk wat gebeur. Jy mag dalk net aangenaam verras word!
