
Johannes 14 begin en eindig met die woorde, “Laat julle harte nie ontsteld wees nie” (vs.1 en 27). As ‘n mens die voorafgaande hoofstukke lees, kan jy verstaan waarom die dissipels ontsteld was. Jesus het pas vir hulle gesê dat een van hulle Hom gaan verraai. Dan het Hy boonop vir Petrus, wat vas oortuig was daarvan dat hy Jesus oral sou volg en selfs sy lewe vir Hom sou gee, gesê dat hy Hom gaan verloën. Petrus het beslis nie sy eie hart geken nie, net soos ons ook nie regtig ons eie harte ken nie, behalwe dat ons weet ons harte raak maklik ontsteld en bang.
Maar die ergste ding wat gebeur het, is dat hulle uiteindelik besef het dat Jesus van hulle af gaan weggaan. Waarheen sou Hy gaan? Kon hulle saam met Hom gaan? Hulle het nie antwoorde op hierdie vrae gehad nie, maar hulle het daaroor nagedink en met mekaar daaroor gepraat.
Jesus weet dat hierdie vrae hulle bekommer. Hy weet dat hulle harte ontsteld en bang is. En daarom gee Hy vir hulle ses dinge om hulle gerus te stel sodat hulle harte nié meer bang en ontsteld is nie. Hierdie ses dinge was soos ‘n anker waaraan hulle kon vashou in die moeilike tye wat voorgelê het. En dit is en was nie net vir hulle ‘n anker nie, maar ook vir ons. Enige iemand wat ‘n kind van God is deur geloof in Jesus, kan hierdie dinge vasgryp in tye van onsekerheid om te dien as anker in die lewe.
ANKER 1: JY GAAN HEMEL TOE.
JOHANNES 14:1-4.
Jesus begin deur vir die dissipels te sê dat daar in die huis van Sy Vader baie woonplek is en dat Hy gaan om ‘n plek vir ons voor te berei. Die hemel is dus, volgens Jesus, ‘n plek wat regtig bestaan. Dis nie sommer die produk van iemand se verbeelding nie, maar die plek waar God woon en waar Jesus aan die regterhand van die Vader sit. Die hemel word beskryf as ‘n koninkryk (2 Petrus 1:11), ‘n erfenis (1 Petrus 1:4), ‘n land (Hebreërs 11:16), ‘n stad (Hebreërs 11:16), en ‘n huis (Johannes 14:2).
Die woord ‘Vader’ word ongeveer 53 keer in Johannes 13-17 gebruik. En die hemel is, in die Seun van God se eie woorde, die ‘huis van My Vader’ en daarom dus die huis van al God se kinders!
‘N WOONPLEK IN DIE HEMEL.
Die Griekse woord ‘mone’ word in Johannes 14:2 vertaal met die woord ‘woonplek’ en in vers 23 met die woord ‘woon’. In sommige Engelse vertalings word die woord vertaal met die woord ‘mansions’, wat ‘n mens die idee kan gee dat Jesus gaan om vir ons almal woonplekke voor te berei wat soos die herehuis van ouds of die huise van Hollywood sterre lyk. Maar die woord ‘mone’ beteken eenvoudig ‘woonplek’, net soos dit in ons Bybels vertaal is.
Dit beteken nié dat die woonplekke wat Jesus vir ons voorberei nie mooi gaan wees nie. Hy was immers tydens Sy lewe hier op aarde ‘n Timmerman! Maar wat ons uit hierdie verse moet verstaan is dat Jesus nou besig is om Sy kerk hier op aarde te bou en om ook vir daardie kerk ‘n woonplek in die hemel gereed te maak. Johannes 14:3 is dan ook ‘n duidelike belofte dat Jesus gaan terugkom om almal wat aan Hóm behoort, te kom haal.
Kan jy jou indink hoe vol vreugde die huis van die Vader gaan wees en reeds is? Johannes het dit in Openbaring 21-22 probeer beskryf en het uiteindelik geskryf watter dinge daar nié in die hemel gaan wees nie: “En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ‘n gehuil of pyn sal meer bestaan nie…” (Openbaring 21:4). Wat ‘n wonderlike plek sal dit nie wees nie en ek en jy, as kinders van God, gaan dit vir altyd kan geniet!
JOHANNES 14:5-6.
Ons moet egter in gedagte hou dat daar net een manier is om by die Vader uit te kom. Toe Thomas vir Jesus sê dat hulle nie weet waarheen Hy gaan nie, en dus nie die weg daarheen ken nie, antwoord Jesus hom, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Jesus is die weg na die Vader. Daar is geen ander manier nie. Geen ander geloof bring iemand in die regte verhouding met God nie. Geen kerklike tradisies, sogenaamde goeie werk of godsdienstige seremonies is ‘n pad na die Vader nie.
Jesus, en Jesus alleen, is die weg na die Vader.
DIE PAD HUISTOE.
Nou wonder jy dalk hoe die versekering dat jy hemel toe gaan veronderstel is om jou ontstelde hart hier op aarde te kalmeer en jou te anker in tye wanneer dit lyk of die hele wêreld – al is dit net jóú wêreld – besig is om in duie te stort?
Iemand met die naam James M. Gray het dit mooi beskryf in ‘n lied wat hy jare gelede geskryf het: “Who could mind the journey, when the road leads home?” Die versekering dat daar vir ons ‘n hemelse woning wag aan die einde van ons lewenspad, gee vir ons die vermoë om die pad met vreugde te stap, selfs wanneer daardie pad moeilik raak.
Dit was daardie selfde versekering wat Jesus bemoedig het: “…Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het…” (Hebreërs 12:2).
En dis ook wat Paulus in gedagte gehad het toe hy geskryf het: “Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie” (Romeine 8:18).
Jou eerste anker waaraan jy dus kan vashou wanneer jou hart bang en ontsteld raak, is die versekering dat Jesus besig is om vir jou ‘n hemelse woonplek voor te berei en dat jy eendag saam met Hom daardie woonplek vir altyd gaan geniet. Daar gaan jy nie meer swaar kry nie. Jy gaan nie meer huil nie. Die dood en pyn sal nie meer bestaan nie. Daar gaan net vreugde wees, want ons gaan in die Teenwoordigheid van ons Hemelse Vader en ons Verlosser en Vriend, Jesus, wees.
En dít is iets om met groot verwagting na uit te sien!
JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.
Jou hemelse woonplek is ‘n belofte van God wat gewaarborg is in Jesus en in Hom is ook al God se ander beloftes gewaarborg! Maak ‘n punt daarvan om tyd met Jesus in die Woord te spandeer sodat Hy jou meer kan leer oor Homself en oor die beloftes wat die Vader in en deur Hom ‘n werklikheid in ons lewens maak. Gebruik die VOLG-metode om jou daarmee te help.
Die VOLG-metode is ‘n eenvoudige metode wat jy in jou stiltetyd of Bybelstudietyd kan gebruik om ‘n vers of verse in die Bybel van nader te bekyk. Jesus, Die Bybel, En Jy is die VOLG-metode e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is, wat alles omtrent hierdie metode gaan leer. Maak dus sommer vandag nog ‘n draai en kry jou VOLG-metode e-gids!

