LYDENSTYD BYBELVERSE OM OOR NA TE DINK

Lydenstyd Bybelverse om oor na te dink

Lydenstyd is ‘n besondere tyd in die kerklike jaar. Dis ‘n tyd wanneer ons as Christene so ‘n bietjie stadiger leef en tyd maak om na te dink oor die pad wat Jesus gestap het na die kruis.

Dis ‘n tyd waar ons onsself en ons lewens ondersoek om te kyk waar ons van die pad van God, afgedwaal het. Ons spandeer meer tyd in gebed en dink na oor die groot prys wat Jesus vir ons sondes betaal het. Deur die eeue het gelowiges hierdie tyd gebruik om nader aan die Here te kom en hulle harte voor Hom oop te maak.

Een van die beste maniere om na te dink oor dit wat Jesus vir ons gedoen het, is om stil te word by Lydenstyd Bybelverse wat ons herinner aan Sy pad na die kruis. In die artikel hieronder is ‘n paar Lydenstyd Bybelverse om jou gedagtes aan die rol te sit.

JESAJA SE PROFESIE OOR DIE MESSIAS.

Jesaja 53:5: Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Hierdie profesie van Jesaja is eeue voor Jesus aarde toe gekom het, reeds geskryf. In die profesie sien ons dat Jesus die lydende Messias was, wat nie gely het vir Homself nie, maar vir ons.

Oor en oor lees ons die woordjie ‘ons’. Dis vir óns oortredings en sondes wat Hy deurboor en verbrysel is. Hy dra die straf wat vir óns vrede met God bewerkstellig. En dit is óns wat genesing kry deur Sy wonde.

Alles wat dus met Jesus gebeur het, was deel van God se plan om ons te red.

JESUS SE GEBED IN GETSEMANE.

Mattheus 26:39: Hy het ‘n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

Jesus was, tydens Sy lewe hier op aarde, beide God en mens. Een plek waar ‘n mens Sy menslikheid baie duidelik kan sien, is in die tuin van Getsemane. Hy het geweet wat vir Hom voorlê. Hy het geweet daar gaan onbeskryflike pyn wees, reeds voor die kruisiging en ook terwyl Hy aan die kruis hang. En Hy het geweet dat Hy op verskeie maniere verneder gaan word.

En tog kies Hy om gehoorsaam te wees aan die Vader.

Hier leer ek en jy ‘n belangrike les. Om regtig ons lewens aan God oor te gee, gaan van ons vra dat ons soms sê, “Here, nie my wil nie, maar U wil.”

JESUS SE LIEFDE VIR ONS.

Johannes 15:13: Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.

In sy brief aan die kerk, skryf Johannes dat God liefde is. Hy het nie net lief nie, nee, Sy hele wese is liefde. En daardie liefde het Hy vir ons kom wys toe Jesus aan die kruis gesterf het.

Dink daaroor. Jesus het nie net oor liefde gepraat nie. Hy het dit geleef. Oral in die Evangelies sien ons hoe Hy mense liefgehad het deur hulle belange voor Syne te stel. Ook aan die kruis stel Hy óns belange voor Syne. Hy sterf in ons plek sodat ons weer in ‘n verhouding met God kan staan.

Wanneer jy nadink oor die kruis en wat Jesus vir jou kom doen het, onthou dat God daardeur Sy oneindige liefde vir jou kom wys het. Dis nie iets wat jy sommer ligtelik moet opneem nie. Dis iets wat jou hart en jou lewe moet verander en jou liefde vir God, moet verdiep.

DIE BETEKENIS VAN DIE KRUIS.

1 Petrus 2:24: Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.

Wanneer ons dink aan die kruis, dan sien ons God se genade en vergifnis. Maar ons vergeet soms dat die kruis ook gaan oor ‘n nuwe lewe.

Jesus het nie net vir ons gesterf sodat ons sondes vergewe kan word nie. Nee, Hy het gesterf sodat ons van rigting kan verander en ‘n nuwe pad kan loop. Hierdie pad wat ons moet loop is ‘n pad wat gevul is met die goeie werke wat God vir ons beplan het. Dis ‘n pad waar ons elke dag ons lewens só leef, dat ons die Here eer en Hom verheerlik.

Lydenstyd is daarom ook ‘n goeie tyd om jouself die volgende vrae te vra:

Hoe lyk my lewe voor die Here?
Is daar dinge wat nog deel is van my lewe, wat nié deel is van Sy plan vir Sy kinders nie?
Is ek gehoorsaam wanneer Hy my ‘n opdrag gee?
As ander na my kyk, kan hulle Hom in my sien?
Leef ek ‘n lewe wat Hom eer en verheerlik?

Neem jou notaboek of joernaal en word stil by die Here. Vra die Heilige Gees om jou te help om die vrae hierbo eerlik te antwoord. Bely dan wat jy ookal moet bely. Vra die Here se hulp waar jy dit nodig het. En vertrou Hom om jou gewillig en bekwaam te maak om die nuwe lewe wat jy in Jesus het, met oorgawe te gaan leef.

DIE OORWINNING VAN DIE KRUIS.

Romeine 5:8: Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Die wonder van die Evangelie is dat Jesus nie Sy lewe gegee het vir mense wat perfek was nie. Hy het juis Sy lewe gegee vir sondaars. En Hy het dit gegee toe ons nog sondaars was!

Dit beteken daar is niemand wat so ver van God af is, dat daar nie ‘n kans vir hom of haar is om terug te kom na Hom toe nie. Daar is niemand wat kan sê sy sondes is te veel of te groot vir God om te vergewe nie. Niemand kan sê dat hy ‘n sondaar is en daarom het God hom nie lief nie.

Nee, Jesus het vir ons kom sterf toe ons nog sondaars was en juis omdat ons sondaars was. En daarom kan almal wat besef hulle is sondaars na God toe gaan deur Jesus, sodat hulle vergewe kan word, gered kan word, en ‘n nuwe lewe saam met Hom kan leef.

SLOTGEDAGTES.

Lydenstyd herinner ons daaraan dat die pad na die opstanding deur die kruis loop.

Wanneer ons oor Jesus se lyding nadink, begin ons om die diepte van God se liefde vir ons beter te verstaan. Ons leer ook om ons eie harte en lewens saam met Hom te ondersoek en nader aan Hom te leef.

Gebruik hierdie Lydenstyd Bybelverse gedurende die volgende paar weke om elke dag ’n rukkie stil te word by dit wat Jesus vir jou aan die kruis kom doen het. Of soek verse daaroor in die konkordansie agterin jou Bybel of gebruik een van die gratis aanlyn-konkordansies. Gebruik dan die VOLG-metode om deur elke vers te werk en laat die Heilige Gees om jou meer daaroor te leer.

Onthou, die kruis is nie net ‘n gebeurtenis in die geskiedenis nie. Dit is die plek waar God se liefde ons vandag nog ontmoet!

GAAN ‘N BIETJIE DIEPER.

As jy nog nie voorheen die VOLG-metode gebruik het nie en jy wil meer daaroor weet, maak dan ‘n draai in ons aanlyn-winkel en kyk na Jesus, Die Bybel, En Jy. Dis ons VOLG e-gids wat jou alles gaan leer wat jy oor dié metode moet weet.

Saam met die e-gids kry jy ook die VOLG e-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees, waar jy meer gaan leer oor hoe ‘n kind van God anders leef as die wêreld. Maak dus sommer nou ‘n draai in die aanlyn-winkel en kry dié twee hulpmiddele om in jou tyd saam met die Here te gebruik.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *