HOSEA – AGTERGROND-INLIGTING VIR BYBELSTUDIE

Hosea - agtergrond-inligting

Elke nou en dan plaas ek ‘n artikel oor dinge wat jy moet weet oor ‘n boek van die Bybel wanneer jy daaroor wil Bybelstudie doen. Dié inligting kan jou help om die boek so ‘n bietjie beter te verstaan. Vandag se artikel is dan ook weer een van die agtergrond-inligting artikels, hierdie keer oor ‘n boek met die naam Hosea.

So, kom ons kyk na die interessante dinge wat jy daaroor moet weet.

DIE NAAM VAN DIE BOEK.

Die boek is vernoem na die profeet Hosea, wat groot dele daarvan geskryf het. Hosea is die verkorte vorm van Jehoshea, wat beteken ‘Die Here is my helper’. Die verkorte vorm beteken ‘Redder’.

WAT SE TIPE BOEK IS HOSEA?

Hosea is een van die profetiese boeke. Om meer presies te wees, dis die eerste van die twaalf boeke wat bekend staan as die Klein Profete.

En as jy dalk nou dink dat die woord ‘klein’ beteken hierdie profete was onbelangrik of dalk almal baie kort manne, dan het jy dit mis! ‘Klein’ verwys na die feit dat hierdie boeke nie baie lank is nie.

WIE HET DIE BOEK GESKRYF?

Net soos met van die ander boeke in die Ou Testament, is Hosea geskryf deur meer as een persoon. Eerstens was daar die profeet Hosea self. Dan het van sy volgelinge ook bygedra tot die skryf van die boek. En laastens was daar ‘n paar ander persone wat ook tot die boek toegevoeg het.

ONTSTAANTYD VAN DIE BOEK.

Die boek Hosea het nie net een tydperk waarin dit ontstaan het nie. Sommige dele het gedurende die laaste jare van Jerobeam II ontstaan. Dan is daar dele wat tydens en na die Siro-Efraimitiese oorlog in 733 vC ontstaan het.

Ander dele het kort voor die val van Samaria in 722 vC ontstaan. En dan is daar ook dele wat tussen 722-7-1 vC en tydens die ballingskap ontstaan het.

AGTERGROND VAN DIE BOEK.

Hosea het as profeet opgetree tydens die regeringsjare van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, wat almal konings van Juda was. Hy het ook tydens die regeringsjare van Jerobeam II, ‘n koning van Israel, as profeet opgetree.

Hierdie was ‘n donker tyd in Israel, want die konings het die land regeer net soos hulle wou. Daar was baie geweld en iemand wat koning wou word het die een wat koning was sommer maklik vermoor sodat hy sy plek kon inneem.

Die Here beveel vir Hosea om met Gomer, ‘n owerspelige vrou, te trou. Aanvanklik is sy getrou aan Hosea en hulle het saam ‘n seun. Maar toe gaan sy terug na haar vorige lewensstyl en het nog twee buite-egtelike kinders.

Hierdie huwelik van Hosea is ‘n spieëlbeeld van Israel se verhouding met God.

VIR WIE IS DIE BOEK GESKRYF?

Toe Hosea as profeet opgetree het, was Israel verdeel in die Noordryk, wat bekend gestaan het as Israel. Dan was daar ook die ander deel van die ryk, wat bekend gestaan het as Juda.

Die meeste van Hosea se boodskappe is gerig aan Israel, maar daar is ook boodskappe wat vir Juda bedoel was.

DIE DOEL VAN DIE BOEK.

Hosea is geskryf om Israel se ontrouheid, maar God se trou en liefde vir Sy sondige volk, te illustreer en te verkondig.

BELANGRIKE KARAKTERS IN DIE BOEK.

In die eerste drie hoofstukke maak ons kennis met Hosea en Gomer, ‘n owerspelige vrou en Hosea se vrou. Ons maak ook kennis met hulle drie kinders. Die eerste seun se naam is Jisreël, wat beteken ‘God saai’. Dan is daar ‘n dogter met die naam Lo-Rugama, wat beteken ‘Sonder ontferming’. En laastens is daar ‘n seun met die naam Lo-Ammi, wat beteken ‘nie my volk nie’.

Die ander belangrike karakters in die boek is Israel en die Here Self.

BELANGRIKE PLEKKE IN DIE BOEK.

Daar is ook ‘n paar belangrike plekke waarvan ons in Hosea lees:

Israel, ook genoem die Noordryk of Efraim. Dan is daar ook die stede Samaria, Sigem, Gilgal, Gibea en Bet-El, wat ook Bet-Awen in die boek genoem word.

HOOFTREKKE VAN HOSEA.

Israel, die owerspelige vrou – Hoofstukke 1-3.

Die sondes van Israel word aan die lig gebring – Hoofstukke 4-7.

Israel se oordeel word aangekondig – Hoofstukke 8-10.

Die Here belowe om Israel weer te herstel – Hoofstukke 11-14.

GOD SE KARAKTER IN HOSEA.

Die feit dat God liefde is, word baie duidelik in Hosea gesien. Ons mag Hom teleurstel, maar Hy hou nooit op om ons lief te hê nie.

Dan sien ons ook dat dit God se hart is om te herstel. Ten spyte daarvan dat hulle ontrou was aan die Here, belowe Hy om hulle ontrou te genees en die verhouding tussen Hom en hulle te herstel (Hosea 14:5).

GELOOFSLESSE IN HOSEA.

Moenie die persoonlike boodskap, wat jy uit Hosea kan haal, mis nie. As jy van die Here af weggedraai het, kan jy na Hom toe terugkom. Hy staan met ope arms vir jou en wag. Hy is gretig om jou te vergewe en die verhouding tussen jou en Hom te herstel.

JESUS IN HOSEA.

Hosea wys vir ons die oneindige liefde van Jesus Christus, ons Bruidegom!

SLEUTELVERS IN HOSEA.

Hosea 4:6: “My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie. Omdat jy jou taak om hulle aan My toe te wy, verwerp het, verwerp Ek jou as my priester. Omdat jy die wil van jou God verontagsaam het, verontagsaam Ek die priesters wat onder jou dien.”

HOSEA IN JOU LEWE.

Hier is ‘n paar maniere hoe ons vandag nog die boodskap van Hosea in ons eie lewens kan toepas:

  • Almal van ons het al die pad byster geraak en die Here verloën. Tog bly Hy lief vir ons. En net soos Hy vir Israel wou herstel, wil Hy ons verhouding met Hom ook herstel.
  • Israel jok vir God, maar hulle jok ook vir hulleself. Dis eers toe die krisis aanbreek wat dit duidelik word hulle het van God en die waarheid afgedwaal. Ek en jy kan ook in ‘n posisie wees waar ons vir God en onsself jok en probeer toesmeer dat ons van Hom af weggedwaal het.
  • Om ontrou te wees aan die Here hou ernstige gevolge in. Dis die mens wat ontrou is wat skade lei, ontnugter word en sy vermoë om tussen waar en vals te onderskei, verloor.

AS JY MEER WIL WEET.

As jy meer wil weet oor die ander boeke van die Bybel, wat ons reeds oor gesels het, kan jy gerus hier ‘n draai maak. Op dié blad is skakels na al die vorige artikels.

En as jy op soek is na ‘n eenvoudige metode wat jy in jou stiltetyd of in jou Bybelstudietyd kan gebruik om Jesus beter te leer ken en meer oor Sy Woord te leer, dan is Jesus, Die Bybel, En Jy – ons VOLG-metode e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is – net waarna jy op soek is.

Saam met die e-gids kry jy ook die e-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees, waar jy die VOLG-metode gebruik om meer te leer oor dinge wat ons as kinders van God, anders maak as die res van die wêreld.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *