DIE NUWE LEWE IN JESUS CHRISTUS

Deur jou geloof in Jesus het alles nuut geword. Jy is ‘n nuwe mens met ‘n nuwe lewe, nuwe Vader, nuwe familie en nog baie meer.

Die nuwe lewe in Jesus Christus

Daar is min dinge wat so lekker is as om iets te kry wat nuut is.

As jy as kind iewers in die middel van ‘n handvol boeties en sussies ingepas het, sal jy verstaan wat ek bedoel.

Jy moes altyd tevrede wees met die klere wat ouboet of ousus reeds gedra het, maar wat nou te klein is. Ma wou niks daarvan hoor om hierdie klere vir iemand anders te gee nie, nee, dit was nog bruikbaar, en daarom moes jy dit noodgedwonge nou dra.

Maar as iemand met ‘n verjaardag of Kersfees vir jou ‘n nuwe kledingstuk gekoop het, kon jy jou geluk amper nie glo nie.

Jy wou heeltyd daardie spesiale rok of hemp aantrek, en dit was maar ‘n gesukkel vir ma om dit van jou lyf af te kry sodat sy dit vir ‘n verandering in die was kon gooi.

Ja, om iets te kry wat nuut is, is ‘n groot lekkerte.

Het jy geweet dat jy, as gevolg van jou geloof in Jesus, nie net een nuwe ding gekry het nie, maar ‘n hele klomp?

Ons gaan vandag net so in breë trekke gesels oor wat dit alles insluit.

‘N NUWE LEWE.

Nuwe lewe

In 1 Petrus 1:3 lees ons: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In Sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop…”

Die eerste ding wat jy ontvang het toe jy Jesus as Verlosser aanvaar het, was ‘n nuwe lewe.

Die ou lewe, die sondige lewe, die lewe sonder God, is vir altyd verby.

Jy het nou ‘n nuwe lewe waar God nie net deel is van jou lewe nie, maar waar jy een is met Hom (1 Korinthiërs 6:17).

‘N NUWE OORSPRONG.

Voor jy gebore is het twee selletjies bymekaar gekom en ‘n lewetjie begin het. Daardie selletjies het vermeerder en gegroei en allerhande wonderlike dinge ondergaan, en uiteindelik is jy gebore.

Jou oorsprong was ‘n selletjie van jou pa en een van jou ma, en jy is gevorm.

As kind van God het jy nie net ‘n fisiese oorsprong nie, maar in die gees ook ‘n nuwe oorsprong.

1 Petrus 1:23 leer ons: “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”

En in Johannes 3:5 lees ons: “Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.”

.

‘N NUWE FAMILIE.

‘n Kind van God het nie net ‘n fisiese pa en ma nie, maar het vir God as Hemelse Vader.

Omdat Hy jou Vader is, het jy vir Jesus as Broer, en die hele liggaam van Christus as boeties en sussies in die geloof.

nuwe familie

‘N NUWE AARD.

Jy het seker al die uitdrukking, Aardjie na sy vaartjie, gehoor.

‘n Mens sê dit gewoonlik wanneer jy sien ‘n kind tree presies soos sy pa of ma op.

In Jesus het jy ook ‘n nuwe aard gekry.

Jy aard nie nou meer na die duiwel nie, maar na God.

‘N NUWE MANIER VAN DINK, PRAAT EN DOEN.

God het jou ook ‘n nuwe manier van dink, praat en doen gegee.

Deur die Woord vernuwe Hy jou gedagtes, en leer jou om soos Hy te dink.

Wanneer jy begin om soos Hy te dink, begin daardie woorde ook by jou mond uitkom, en jy begin praat soos Hy.

In die Woord leer God jou ook hoe jy moet optree en dinge moet doen.

As jy Hom gehoorsaam, en optree soos Hy sê, begin jou lewe al meer en meer lyk soos jy reeds in jou gees lyk.

‘N NUWE MANIER OM JOU BEHOEFTES TE VERVUL.

Noudat jy aan God behoort en ‘n splinternuwe lewe het, het jy ook ‘n nuwe manier hoe daar in jou behoeftes voorsien word.

In Mattheus 6 leer Jesus ons dat ons nie bekommerd moet wees oor ons daaglikse behoeftes nie, maar dat ons moet fokus op God se Koninkryk, wat dan ook Sy beginsels en manier van doen insluit, en dat ons Hom moet vertrou (geloof) om vir ons te sorg.

‘N NUWE LAND EN BESTEMMING.

Kinders van God het, in die laaste plek, nog twee nuwe dinge gekry as deel van hulle lewe in Christus.

Die eerste is ‘n nuwe land.

Jy is nou weliswaar hier op aarde nog ‘n burger van Suid-Afrika, maar in God se oë is jy ‘n burger van Sy hemelse Koninkryk.

Alle regte wat jy sal hê as jy die dag jou oë in die hemel oopmaak, het jy nou reeds terwyl jy nog hier op aarde rondloop.

En, omdat jy ‘n burger van die hemelse Koninkryk is, is dit ook jou nuwe eindbestemming die dag as jou reis hier op aarde voltooi is.

NUWE DINGE, NUWE LEERMEESTER.

Het jy ook al gesukkel om ‘n nuwe selfoon baas te raak?

Mens is so gewoond aan die manier waarop die oue werk, dat dit soms maar ‘n hele ruk vat voor jy presies weet hoe die nuwe een werk.

Gelukkig kom sulke tipe toestelle darem altyd met ‘n handleiding waarin jy die belangrikste instruksies kan gaan lees en só jou foon vinniger baasraak.

God het ons nie hierdie nuwe lewe, met al die ander nuwe dinge, net so in die hand gestop sodat ons maar self moet probeer uitwerk hoe alles nou eintlik in mekaar steek en werk nie.

Nee, in Sy groot liefde en genade het Hy vir ons Sy Woord gegee.

In die Woord leer ons alles oor die splinternuwe lewe, asook hoe ons te werk moet gaan om dit te leef.

God het ook vir ons ‘n Leermeester gegee, die Heilige Gees, om ons te help om hierdie handleiding te verstaan.

Ons Leermeester maak ons oë oop vir waarhede wat ons nog nie voorheen in die Woord raakgesien het nie en gee ons die insig wat nodig is om te verstaan hoe ons dit in ons eie lewens moet toepas.

Hy staan ons ook by en help ons om die lewe wat ons in Christus het, te leef.

Al hierdie dinge, en nog ‘n klomp wat ek nie genoem het nie, is deel van die wonderlike lewe wat ons van God die Vader in Jesus Christus ontvang het!

Deel hierdie blad

2 comments

  1. Middag Risa wil net weer noem dis wonderlik om saam met julle besig te wees met God se Woord. Elke week iets nuut. dankie daarvoor. ek hoop net ek het dit nou reg gedoen. mooidag vir julle. Andries Kruker.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *