
As jy al bietjie op die internet rondgesnuffel het om te kyk watter Bybelstudie-metodes daar is wat jy kan probeer, sal jy weet daar is sommer baie om uit te kies. En die waarheid is dat nie alle metodes vir almal van ons ewe goed gaan werk nie. Daarom is dit belangrik om ‘n metode of metodes te kry wat jy gereeld kan gebruik, wat jy weet vir jou werk en waarmee jy sal kan volhou. Maar hoe doen ‘n mens dit?
Om te besluit watter Bybelstudie-metode die beste vir jou gaan werk, moet jy drie dinge in gedagte hou: die manier waarop jy die maklikste leer, die tyd wat jy beskikbaar het vir Bybelstudie, en wat jy uit jou studietyd wil kry. Hierdie dinge sal jou help om ‘n goeie idee te kry van watter metodes jy kan probeer.
Kom ons kyk hierdie drie dinge, en sommer nog twee bonus-idees, wat jy kan gebruik wanneer jy soek na die Bybelstudie-metode wat by jou gaan pas.
DINK NA OOR DIE MANIER WAAROP JY DIE MAKLIKSTE LEER.
Almal van ons het ‘n spesifieke manier van leer wat ons help om regtig dit wat ons leer te verstaan en in te neem.
Sommige mense is prentjie-mense en leer die maklikste wanneer daar prente by hulle leermetode betrokke is. As jy ‘n prentjie-mens (of ‘n visuele leerder in mooi Afrikaans) is, kyk dan na studiemetodes soos ‘verse mapping’ of ‘Bible journaling’.
Ander mense leer goed wanneer hulle net dinge hoor. Dis die oudio-leerders onder ons. As jy so ‘n leerder is, oorweeg dan metodes waar jy na die Bybel kan luister of saam in ‘n groep oor die Bybel gesels. Bybelstudie-groepe is ideaal hiervoor.
Dan is daar ook mense wat die maklikste leer wanneer hulle een of ander aktiwiteit by hulle leermetode insluit. Vir hierdie mense is ‘n metode waar jy jou gedagtes in jou Bybel neerskryf of dinge wat vir jou uitstaan onderstreep, ‘n goeie idee. Of jy kan doen wat ek doen, en dit wat jy leer en jou gedagtes daaroor in ‘n joernaal of notaboek neerskryf.
HOEVEEL TYD HET JY?
Net soos ons nie almal op dieselfde manier leer nie, het ons ook nie almal dieselfde hoeveelheid tyd om aan Bybelstudie te spandeer nie.
As jy min tyd het vir Bybelstudie, kan onderwerpstudies of ‘n studie waar jy net na ‘n paar verse op ‘n slag kyk, werk. Die VOLG-metode is ideaal vir wanneer jy só ‘n studie wil doen. As jy meer oor die VOLG-metode wil weet, loer dan gerus na Jesus, Die Bybel, En Jy – dis ons VOLG-metode e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is.
En as jy so gelukkig is om heelwat tyd te hê vir Bybelstudie, kan jy ‘n metode soos die WIT-metode (Inductive Study in Engels) oorweeg. Karakterstudies neem ook langer, so jy kan hierna ook kyk.
WAT IS JOU DOELWIT?
Ons leer nie almal op dieselfde manier nie en ons het nie almal dieselfde hoeveelheid tyd om aan Bybelstudie te spandeer nie. Dan is dit ook so dat ons nie almal dieselfde doelwit vir ons Bybelstudie het nie. Wanneer jy besluit watter studie-metode jy wil volg, is dit belangrik om eers te bepaal wat jou doelwit vir jou studies is.
Wil jy ‘n spesifieke onderwerp beter verstaan? Oorweeg dan om onderwerpstudies te doen en om konkordansies te gebruik.
Dalk wil jy ‘n spesifieke boek van die Bybel beter verstaan. As dit jou doel is, dan is die WIT-metode ‘n goeie idee. Dis ook ‘n goeie idee om, voor jy met jou studie begin, eers die boek ‘n paar keer deur te lees.
Of dalk is jou doel om uit te vind hoe jy die Bybel in jou daaglikse lewe kan toepas. Soek dan na metodes wat jou aanmoedig om oor die verse wat jy studeer na te dink en neer te skryf hoe jy dit wat jy leer, prakties in jou lewe kan toepas. Jy kan die 5 P’s, 4 R’e of 5 S’e van Bybelstudie hiervoor gebruik.
EKSPERIMENTEER MET VERSKILLENDE METODES.
Dis ‘n goeie idee om ‘n paar verskillende metodes te kies wat jy wil probeer. Eksperimenteer vir ‘n ruk lank met elkeen van die metodes.
Moenie bang wees om iets nuuts te probeer of om op te hou met iets wat eenvoudig net nie vir jou werk nie.
Moet ook nie bang wees om die verskillende stappe van verskillende metodes bymekaar te sit en so jou eie metode te ontwerp nie.
Onthou net dat die metodes wat jy op die ou end kies om aan te hou gebruik, metodes moet wees wat jou regtig help om die Bybel te verstaan en toe te pas in jou lewe.
GESELS MET ANDER GELOWIGES OOR HULLE METODES.
Ek skryf al lank oor verskillende Bybelstudie-metodes, so ‘n mens sal dink dat ek al van al die metodes wat daar is, gehoor het. Maar ek kom gereeld op nuwes af!
Ek stel dus voor dat jy met ander gelowiges gesels oor die studiemetodes wat hulle gebruik. Iemand vertel jou dalk net van een waarvan ek en jy nog nie een gehoor het nie en wat presies is waarna jy op soek is.
SLOTGEDAGTES.
Jy hoef nie al die antwoorde te hê voordat jy begin nie. Jy hoef ook nie by een metode te bly as dit nie vir jou werk nie. Die belangrikste is dat jy begin en aanhou soek na die Bybelstudie-metode of metodes wat die beste vir jou werk.
Onthou, Bybelstudie gaan nie oor hoe goed jy dit doen nie, maar oor verhouding. Dis tyd saam met Jesus. Dis ‘n geleentheid om Hom beter te leer ken en om saam met Hom te werk sodat jy meer soos Hy kan word.
So, kies vandag net een metode om mee te begin. En as jy reeds een gebruik, kyk of daar ‘n ander een is wat jy dalk kan byvoeg of ook kan probeer. Mag jou tyd in die Woord nie net jou kennis verbreed nie, maar werklik jou hart verander!

