
As jy nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie, kan dit dalk vir jou soos ‘n berg voel wat jy moet uitklim. Jy wonder dalk: Waar moet ek begin? Wat moet ek lees? Hoe doen ‘n mens dit reg?
Moenie bekommer nie, jy hoef nie alles te weet voordat jy begin nie. Die Here vra nie van jou om dit perfek te doen nie. Hy vra net ‘n hart wat bereid is om te leer en nader aan Hom te kom. In hierdie artikel gaan ons gesels oor praktiese wenke wat jy kan gebruik om met Bybelstudie te begin en om ‘n Bybelstudie-roetine te vestig.
DEEL 1: HOE OM MET BYBELSTUDIE TE BEGIN.
As jy op ‘n plek is waar jy net wil begin, maar nie weet hoe nie, dan is hierdie eenvoudige wenke jou eerste stap om jou op jou reis te help.
‘N TYD EN PLEK.
Die heel eerste stap om met Bybelstudie te begin, is om te besluit waar en wanneer jy dit gaan doen. Kies vir jou ‘n tyd wanneer jy lekker wakker is en dit wat jy leer, kan inneem. Kies ook ‘n plek waar dit stil en rustig is en daar nie maklik onderbrekings gaan wees nie.
DIE REGTE HULPMIDDELE
‘n Mens het, natuurlik, ‘n Bybel nodig wanneer jy Bybelstudie wil doen. Maak net seker jy gebruik ‘n vertaling wat maklik is om te verstaan. Die 1983- of 2020-Afrikaanse vertaling is makliker om te lees as die ouer 1953-vertaling. Jy kan ook ‘n Engelse vertaling gebruik, soos die New Living Translation of die New International Version. Jy kans selfs ‘n Afrikaanse en ‘n Engelse vertaling gebruik as jy wil.
Dan is daar ook ander hulpmiddele wat van waarde kan wees. ‘n Joernaal, ‘n pen en gekleurde potlode is altyd ‘n goeie idee. Dan is ‘n Bybelwoordeboek, konkordansie of Bybelkommentaar ook handige hulpmiddele om te hê. Ons gaan in ‘n volgende artikel meer gesels oor die verskillende hulpmiddele en hoe hulle jou kan help in jou studies.
BEGIN ALTYD MET GEBED.
Dit maak nie saak of jy net jou Bybel lees en of jy dit studeer nie, onthou altyd om eerste met gebed te begin. Vra vir die Heilige Gees om jou te lei en jou hart oop te maak vir die Here se stem. Vra Hom ook om jou te help verstaan wat jy lees. Hy sal jou nie net daarmee help nie, maar ook vir jou wys hoe verskillende skrifgedeeltes bymekaar aansluit sodat jy verskillende gedeeltes beter kan verstaan.
BEGIN MET ‘N KORT BOEK.
As jy al so ‘n bietjie deur die Bybel gelees het, sal jy weet daar is boeke met baie hoofstukke en dan is daar boeke met net ‘n paar hoofstukke. Wanneer jy die eerste keer begin met Bybelstudie, begin met ‘n kort boek. Iets uit die Nuwe Testament, soos Filippense, Jakobus of Markus is ‘n goeie idee. Hierdie boeke is maklik om te verstaan en vol waarhede wat jy sommer dadelik kan toepas.
VRA VRAE OOR DIE TEKS.
Die beste manier om ‘n gedeelte in die Bybel te studeer is om vrae oor die teks te vra. Begin met vrae soos:
Wie het die boek geskryf?
Vir wie is dit geskryf?
Wat leer dit my oor die Vader, Jesus of die Heilige Gees?
Wat leer ek hieruit wat van toepassing is op my lewe?
SKRYF DINGE NEER.
Navorsing het bewys dat ‘n mens dit wat jy neerskryf, beter onthou. Maak dus ‘n punt daarvan om notas te maak oor wat jy leer. Skryf alles in die gedeelte wat vir jou uitstaan, neer. Jy kan selfs die hele gedeelte waaroor jy Bybelstudie doen, in jou joernaal neerskryf.
Skryf ook die vrae wat jy oor die gedeelte vra en die antwoorde daarop, neer. Skryf enige insig wat jy kry, neer. In kort, skryf alles wat jy in die gedeelte raaksien, daarin leer en sommer net jou gedagtes daaroor, neer. Op dié manier word jou joernaal ‘n plek waar jy met die Here gesels.
DEEL 2: HOE OM ‘N BYBELSTUDIE-ROETINE TE BEGIN (EN VOL TE HOU!).
Sodra jy die eerste tree geneem het, is die volgende stap om die gewoonte om Bybelstudie te doen, te bou. ‘n Roetine maak dit makliker om aan te hou.
WEET WAAROM JY DIT DOEN.
‘n Mens moet weet waarom jy net ‘n gewoonte wil begin, maak nie saak wat die gewoonte is nie. Skryf dus vir jouself neer waarom Bybelstudie vir jou belangrik is. Wat hoop om daaruit te kry en te leer? Hoe wil jy geestelik groei? Hou jou ‘waarom’ byderhand wanneer jy Bybelstudie doen. Dit gaan jou motiveer wanneer jy moedeloos voel.
BEGIN KLEIN.
Ek het netnou gesê dis belangrik om met ‘n kort boek te begin as jy vir die eerste keer begin met Bybelstudie. Dis ook belangrik om aan die begin net vir ‘n kort tydjie Bybelstudie te doen. Begin byvoorbeeld met 10–15 minute ‘n dag of drie keer per week. Jy kan later die tyd langer maak of meer dae byvoeg. As jy met te ‘n groot stuk tyd of te veel dae begin, gaan jy gou ophou wanneer jy oorweldig voel. Begin dus klein totdat jy lekker in roetine is voor jy die tyd langer maak of meer dae byvoeg.
GEBRUIK ‘N PLAN OF GIDS.
Een manier om te verseker dat jy gou ophou met Bybelstudie is om elke keer te wonder waar of wat jy volgende gaan studeer. Dit is waar ‘n Bybelstudieplan of studiegids van groot waarde is. As jy byvoorbeeld oor ‘n spesifieke onderwerp wil Bybelstudie doen, kan jy sommer ‘n Bybelleesplan, wat oor die onderwerp gaan, gebruik. Daar is ook baie verskillende studiegidse beskikbaar, wat jy kan gebruik. As jy op soek is na so ‘n studiegids, loer dan gerus na Die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is.
WEES GENADIG TEENOOR JOUSELF.
Jy kan die beste intensies hê om gereeld Bybelstudie te doen, maar dit gaan gebeur dat jy iewers ‘n dag gaan mis. As dít gebeur, moenie moed opgee nie. Begin net die volgende dag weer. Onthou, elke dag is ‘n nuwe kans om weer te begin.
SLOTGEDAGTES.
Die Bybel is nie net ’n boek nie — dis die Here wat met jou praat en Hy wil hê jy moet dit wat Hy vir jou sê, verstaan. Jy hoef nie ‘n Bybelkenner te wees om met Bybelstudie te begin nie, jy hoef net te begin — met ‘n oop hart, ‘n bietjie tyd, en ‘n eenvoudige plan.
My gebed is dat jou tyd in die Woord jou verryk, versterk, en jou verhouding met die Here verdiep. En moenie vergeet nie: een tree op ‘n slag is steeds beweging vorentoe!


Ek will graag begin om die bybel ,die wolrd van God beter te verstaan,