WEDUWEES – WAT Sê DIE BYBEL?

Weduwees - wat sê die Bybel?

Vroue het deur die eeue heen baie swaargekry. In sommige kulture is hulle gesien as besittings, eerder as mense. En as jy ‘n weduwee was, het jy soms nóg swaarder gekry. ‘n Weduwee het swaargekry omdat sy ‘n geliefde verloor het en nou verder alleen deur die lewe moes gaan. Soms het weduwees ook swaargekry omdat diegene wat hulle moes ondersteun en help, hulle misbruik of summier eenkant toe geskuif het.

Maar ten spyte van hartseer en swaarkry waardeur baie weduwees gaan, kan hulle tog ook rus in die wete dat God ‘n plan vir hulle het. Hy hoor hulle wanneer hulle tot Hom roep. Hy sien hulle trane van hartseer en frustrasie. En Hy belowe om hulle justice when they are oppressed.

In hierdie artikel deel ek graag ‘n klompie verse uit die Bybel met jou, waar daar gepraat word van weduwees. Sommige verse leer ons hoe ons die weduwees onder ons moet behandel. Ander verse leer weer die weduwees hoe hulle moet leef noudat hulle weduwees is.

LEES OOK: Naomi – Van Swaarkry Na Vreugde

A. GOD IS AAN DIE KANT VAN DIE WEDUWEE.

Ons gaan eers kyk na verse waar God baie duidelik sê dat Hy aan die kant van die weduwee is….

DEUTERONOMIUM 10:17-18.

Die Here is immers julle God; Hy is die God van die gode en die Heer van die here; die groot, die magtige, die ontsagwekkende God wat onpartydig is en geen omkoopgeskenk aanvaar nie, wat vaderloses en weduwees se regte handhaaf en aan vreemdelinge liefde betoon deur aan hulle kos en klere te gee.

JESAJA 54:4-5.

Moenie bang wees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; moenie verneder voel nie, want jy sal nie verleë wees nie. Ja, die skande van jou jeug sal jy vergeet, en aan die gespot oor jou weduweeskap sal jy nie weer dink nie. Want Hy wat met jou trou, is jou Maker; die Here, Heerser oor alle magte is sy Naam. Hy wat jou loskoop, is die Heilige van Israel. God van die hele wêreld word Hy genoem.

MALEAGI 3:5.

“Ek sal na julle toe kom vir die oordeel en Ek sal sonder om te huiwer ‘n getuie wees teen towenaars, egbrekers en wie vals sweer; teen hulle wat dagloners, weduwees en vaderlose kinders verdruk en hulle wat vreemdelinge wegwys en nie ontsag vir My het nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte.

JEREMIA 49:11.

Laat jou vaderloses maar agter, Ék sal hulle aan die lewe hou; en jou weduwees – op My kan hulle vertrou!

SPREUKE 22:22-23.

Moenie ‘n arme beroof omdat hy arm is nie, en moenie die magtelose vertrap in die poort nie, want die Here sal hulle regstryd voer en van hulle plunderaars die lewe plunder.

PSALM 68:6.

‘n Vader vir vaderloses, ‘n regter vir weduwees, is God in sy heilige woonplek.

SPREUKE 15:25.

Die Here breek die huis van hovaardiges af, maar die gebied van ‘n weduwee baken Hy af.

PSALM 146:7b-9.

Die Here laat gevangenes vry; die Here maak blindes se oë oop; die Here rig dié op wat terneergedruk is. Die Here het regverdiges lief; die Here beskerm vreemdelinge;
vaderloses en weduwees help Hy op, maar die pad van goddeloses maak Hy krom.

LEES OOK: Rut: ‘n Vrou Wat God Kies

.

B. HOE ‘N GELOWIGE ‘N WEDUWEE MOET BEHANDEL.

In die volgende klompie verse sien ons hoe ons, as God se kinders, ‘n weduwee moet behandel. Sommige van die verse kom uit die Ou Testament en val onder die Wet van Moses. Ons as Nuwe Testament-gelowiges is nie gebonde aan die Wet van Moses nie, maar ons kan tog uit die verse leer hoe ons teenoor weduwees moet optree.

JAKOBUS 1:27.

Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou.

DEUTERONOMIUM 24:19-21.

Wanneer jy jou oes op die land insamel en jy vergeet ‘n gerf op die land, mag jy nie teruggaan om dit te kry nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly, sodat die Here jou God al jou handewerk kan seën. Wanneer jy jou olywe afslaan, mag jy nie die takke deursoek waar jy klaar is nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly. As jy jou wingerd oes, mag jy nie die naoes agter jou afoes nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly.

MARKUS 12:38-40.

In sy lering het Jesus gesê: “Pasop vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop, op die markpleine begroet te word, en die voorste sitplekke in die sinagoges en ereplekke by die feesmaaltye in te neem. Hulle verslind die huise van die weduwees, en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang.”

1 TIMOTHEUS 5:16.

As ‘n gelowige vrou weduwees in haar familie het, laat sy hulle help! Laat die gemeente nie belas word nie, sodat hulle ondersteuning kan gee aan dié wat werklik weduwees is.

DEUTERONOMIUM 24:17.

Jy mag nie die reg van vreemdelinge en vaderloses verdraai nie, en jy mag nie die bokleed van ‘n weduwee as pand neem nie.

JEREMIA 22:3.

So sê die Here: “Laat reg en geregtigheid geskied, en red dié wat beroof word uit die hand van verdrukkers. Vreemdelinge, vaderloses en weduwees moet julle nie mishandel of geweld aandoen nie, en onskuldige bloed moet julle nie vergiet in hierdie plek nie.”

1 TIMOTHEUS 5:3-4.

Betoon eer aan weduwees wat werklik weduwees is. as ‘n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle leer om in die eerste plek hulle godsdienstige pligte teenoor hulle eie familie na te kom, en hulle ouers en grootouers te vergoed; want dit is aanneemlik in die oë van God.

DEUTERONOMIUM 14:29.

Omdat die Leviete geen aandeel of erfenis saam met jou het nie, kan hulle sowel as die vreemdelinge, die vaderloses en weduwees in jou dorpe, dan kom en eet en versadig raak, sodat die Here jou God jou kan seën in alles wat jy aanpak.

JESAJA 10:1-2.

Wee hulle wat vaste voorskrifte van onreg uitvaardig, skrywers wat voortdurend iets neerskryf wat moeite besorg – om die regte van armes te dwarsboom, om die magteloses van my volk van hulle reg te ontneem, sodat weduwees hulle buit kan word, en hulle die vaderloses kan beroof.

HANDELINGE 20:35.

In alles het ek vir julle gewys dat ‘n mens deur hard te werk, die swakkes moet help, en die woorde van die Here Jesus moet onthou toe Hy gesê het, “Dit maak ‘n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.”

DEUTERONOMIUM 26:12-13.

Wanneer jy in die derde jaar, die jaar van die tiendes, die volle tiende van jou opbrengs klaar eenkant gesit en dit ook vir die Leviete, die vreemdelinge, die vaderloses en weduwees gegee het, en hulle eet en versadig raak in julle dorpe, moet jy voor die Here jou God verklaar, “Ek het die heilige gawes uit my huis verwyder en vir die Leviete, die vreemdelinge, die vaderloses en weduwees gegee in ooreenstemming met die volle opdrag wat U my gegee het. Ek het nie enige van u gebooie oortree nie, en ek het dit nie vergeet nie.”

SAGARIA 7:8-10.

Daarna was die woord van die Here aan Sagaria: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Laat die waarheid seëvier in julle regspraak; betoon troue liefde en barmhartigheid aan mekaar. Moenie weduwees, weeskinders, vreemdelinge en armes verdruk nie; moenie bose planne in julle harte teenoor mekaar bedink nie.'”

JESAJA 1:17.

Leer om goed te doen! Bevorder die reg! Lê die onderdrukker aan bande! Handhaaf die reg van die vaderloses! Verdedig die weduwees se regsake!

DEUTERONOMIUM 27:19.

“Vervloek is die een wat die vreemdeling, vaderlose en weduwee se reg verdraai.” En die hele volk moet “Amen’ sê.

JEREMIA 7:5-7.

As julle werklik julle doen en late goed maak, as julle werklik die reg handhaaf onder mekaar, vreemdelinge, vaderloses en weduwees nie verdruk nie, nie onskuldige bloed vergiet op hierdie plek nie, en agter ander gode nie aanloop tot onheil vir julleself nie, dan sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in die land wat Ek vir julle voorouers gegee het, van altyd af en vir altyd.

LEES OOK: Vasti: ‘n Beginselvaste Vrou

C. HOE ‘N WEDUWEE MOET LEEF.

Die laaste klompie verse leer ons hoe iemand wat ‘n weduwee is, haar lewe moet leef om God daarmee te eer.

1 TIMOTHEUS 5:14.

Daarom verwag ek van jonger weduwees dat hulle moet trou, kinders kry, huishoudings bestuur en die teenstander geen geleentheid gee om kwaad te praat nie.

1 KORINTHIëRS 7:8-9.

Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek dat dit vir hulle goed is om ook soos ek te bly. 9Maar as hulle nie hulleself kan beheer nie, laat hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.

1 TIMOTHEUS 5:5-6.

Maar sy wat werklik ‘n weduwee is, en alleen agtergelaat is, vestig haar hoop steeds op God, en sy bly bedags en snags smeek en bid; maar die weduwee wat uitspattig leef, is lewend dood.

LEES OOK: Ester: ‘n Vrou Met Moed

Deel hierdie blad

2 comments

  1. goeie dag.ek wil graag hê dat jy vir my help met die volgende.
    ek is 66jr oud
    2 maal weduwee
    nou na 10jr gaan ek in verhouding wil ek weet oor saambly en voorhuwelikse seks
    baie dankie

    1. Hallo San. Ek is bly om te hoor dat jy weer iemand in jou lewe het. Die huwelik is vir God ‘n ernstige saak, want dis ‘n beeld van Christus se verhouding met die kerk. Dit is dus nie volgens God se wil dat ons saambly voor ons trou nie. Dis ook nie volgens Sy wil dat ‘n mens seks het sonder dat jy getroud is nie. Beide hierdie dinge kan ernstige skade aan ‘n verhouding doen as ons dit ignoreer en ons eie paadjie volg. As die persoon met wie jy in ‘n verhouding is regtig vir jou omgee, sal hy nie van jou verwag om saam met hom te bly of saam met hom te slaap sonder dat julle getroud is nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *