
As jy nou al ‘n rukkie Bybel En Gebed se artikels lees, sal jy weet dat ons gereeld gesels oor verskillende Bybelstudie-metodes. Een van die metodes waaroor ons al gesels het, is die S.O.A.P.-Bybelstudie metode. Ek het ‘n rukkie terug ‘n mini-Bybelstudie oor Psalm 18:1-7 gedoen, waar ek die S.O.A.P.-metode gebruik het. Vandag wil ek graag dit wat ek geleer het, met jou deel.
Maar voor ons daarby kom, gaan ons net eers vinnig weer kyk na die S.O.A.P.-metode en hoe dit werk.
WAT IS DIE S.O.A.P.-METODE?
S.O.A.P. is ‘n Engelse akroniem wat staan vir:
S – Scripture (Skrifgedeelte)
O – Observation (Waarneming)
A – Application (Toepassing)
P – Prayer (Gebed)
As ons dit in Afrikaans vertaal is dit ongelukkig nie meer ‘n akroniem nie, maar omdat daar nie baie stappe is nie, is dit steeds maklik om te onthou.
HOE DIE METODE WERK.
S – SCRIPTURE (Skrifgedeelte)
Jou eerste stap is om die skrifgedeelte wat jy studeer, fisies met die hand uit te skryf. Jy sal verbaas wees oor wat jy alles raaksien as jy ‘n gedeelte skryf in plaas daarvan om dit net te lees.
O – OBSERVATION (Waarneming)
Die tweede stap is om te kyk wat jy raaksien in die verse wat jy gelees en geskryf het. In die Bybelstudie wat jy kan aflaai, is daar vrae wat jy kan antwoord om jou hiermee te help.
A – APPLICATION (Toepassing)
Die derde stap is om neer te skryf hoe jy dit wat jy geleer het, in jou lewe gaan toepas. Onthou, ons is veronderstel om doeners van die Woord te wees, nie net hoorders nie! In die mini-Bybelstudie is daar ook vrae om jou hiermee te help.
P – PRAYER (Gebed)
Die laaste stap is om God se Woord terug te bid tot Hom. In die mini-Bybelstudie is daar plek waar jy jou gebed kan neerskryf, voor jy dit tot God bid.
PSALM 18: MY MINI-BYBELSTUDIE.
Goed, noudat jy ‘n idee het van die stappe van die S.O.A.P.-Bybelstudie-metode, kan ons gesels oor wat ek, deur die metode te gebruik, oor Psalm 18 geleer het.
STAP 1: SKRYF DIE WOORD.
Soos ek hierbo genoem het, is stap 1 om die gedeelte wat jy wil studeer, uit te skryf. Hier is myne:

STAP 2: NEEM WAAR.
Die volgende stap is om te kyk wat ons in die gedeelte raaksien. Ek het ‘n paar verskillende vrae gebruik om my hiermee te help.
WIE HET DIE PSALM GESKRYF EN HOEKOM?
Dawid is die skrywer van die psalm. Dis ‘n lied wat hy geskryf en vir die Here voorgedra het toe Hy hom uit die hand van sy vyande en van Saul verlos het.
WAT LEER DIE GEDEELTE OOR GOD?
God is ons sterkte. Hy is ons rotsvesting en bergskuiling, die rots by wie ons kan skuil. Hy is vir ons ‘n toevlugsoord en ons skild. Elkeen van hierdie dinge sê vir my dat ek veilig is by God. Die vyand kan my nie bykom as ek by Hom skuil nie.
Dit is God wat ons bevry en ons red. Dit maak dus nie saak wat in my lewe gebeur en waar ek redding of bevryding nodig het nie, ek kan na God toe gaan en Hy sal my red en bevry.
God is die Een wat geloof moet word.
God hoor ons wanneer ons tot Hom roep. Hy is nie doof vir ons hulpgeroep nie en Hy kom altyd tot ons redding.
WAT LEER DIE GEDEELTE OOR DAWID EN, DEUR HOM, OOR DIE MENS?
Dawid skroom nie om te erken dat hy God liefhet nie. Ons as God se kinders moet ook nie skaam wees om te erken dat ons God liefhet nie. Dawid praat ook van ‘my God’, met ander woorde hy het ‘n persoonlike verhouding met God. Deur Jesus het ons ook ‘n persoonlike verhouding met God en kan Hom nie net ons God noem nie, maar ook ons Vader.
Dit het vir Dawid gevoel asof die bande van die dood om hom gesluit het en hy was baie bang. In sy benoudheid roep hy tot God en vra Hom om hom te help. Hy hou ook nie op nie, maar bly tot God roep. Dit is wat ek ook moet doen wanneer ek benoud is. Ek moet tot God roep en bly roep. Ek moet vertrou dat Hy my hoor en dat Hy, op die regte tyd, my sal antwoord.
IS DAAR WOORDE WAT HERHAAL WORD?
Die woord ‘roep’, ‘hulp geroep’ en ‘hulpgeroep word vier keer herhaal. Dit wys weereens vir my dat Dawid aangehou het om te roep na God.
‘n Verwysing na die dood (bande van die dood, bande van die doderyk, vangstrikke van die dood) word drie keer herhaal. Dawid was dus regtig baie oortuig daarvan dat die dood hom in die gesig gestaar het.
Daar word ses keer na God verwys as ons rots of rotsvesting, hoewel dieselfde woord nie elke keer gebruik word nie. Al die woorde is militêre beelde wat beskryf dat God ons beskerm.
Daar word twee keer verwys na God as ons bevryder of redder en een keer na die feit dat Hy Dawid verlos het van sy vyande. Dieselfde woorde word weer nie gebruik nie, maar die idee is dieselfde.
Daar word twee keer, weereens nie met dieselfde woorde nie, verwys na die feit dat God gehoor het toe Dawid om hulp geroep het.
IS DAAR WOORDE WAT UITSTAAN?
Die woorde wat vir my uitstaan is elkeen waar Dawid beskryf dat God vir ons ‘n rots, ‘n rotsvesting, ‘n bergskuiling is.
WAT IS DIE BOODSKAP WAT DAWID WOU OORDRA?
Daar is geen einde aan die beskerming wat God vir Sy kinders bied nie. Dit maak nie saak wat in ons lewens gebeur nie, ons kan na Hom toe vlug en om hulp roep. Hy hoor altyd en Hy sal tot ons redding kom.
STAP 3: TOEPASSING.
Die volgende stap is om te kyk hoe ons, wat ons geleer het, in ons lewens kan toepas. Ek het weer ‘n paar vrae gebruik om my te help.
WAT HET EK GELEER WAT EK MOET GLO?
Ek moet glo dat God my wil en sal beskerm, dat ek altyd veilig is by Hom. Ek moet glo dat Hy my hoor wanneer ek roep en dat Hy op die regte tyd tot my redding sal kom.
WAARVOOR MOET EK DANKBAAR WEES?
Ek moet dankbaar wees dat daar geen einde is aan God se beskerming nie en dat ek altyd veilig is by Hom. Ek moet dankbaar wees dat Hy my hoor wanneer ek om hulp roep en dat Hy my altyd sal help.
MOET EK GOD VIR IETS PRYS?
Dieselfde dinge wat ek hierbo geskryf het waarvoor ek dankbaar is, is die dinge waaroor ek God moet prys. Hy is immers die Een wat geloof en geprys moet word!
IS DAAR IETS IN DIE GEDEELTE WAT MY HOOP GEE?
Dit gee my hoop dat ek God kan vertrou om my altyd te beskerm, ongeag wat in my lewe aangaan. Dit gee my ook hoop dat ek Hom kan vertrou om te hoor wanneer ek om hulp roep en dat ek kan weet, verseker kan weet, dat Hy my sal help en my sal red uit enige situasie waarin ek my bevind.
STAP 4: GEBED.
Die laaste stap is om dit wat God jou geleer het te gebruik om ‘n gebed te skryf. Hier is die gebed wat ek geskryf het na aanleiding van wat ek geleer het:
Hemelse Vader, baie dankie dat U my rotsvesting, my bergskuiling, my skild en toevlugsoord is. Baie dankie dat ek kan weet ek is altyd veilig by U en dat daar geen einde is aan die beskerming wat U vir my bied nie.
Ek sê vir U dankie dat U ook my bevryder en die horing van my redding is. Dankie dat niks my uit U hand kan ruk of van U liefde kan skei nie. Dankie dat ek op U kan vertrou om my te red uit enige situasie, selfs al is dit my eie skuld dat ek redding nodig het!
Baie dankie dat U hoor wanneer ek tot U roep en dat ek U altyd kan vertrou om op die regte tyd tot my redding te kom.
Dankie vir Dawid, wat psalm 18 geskryf het, en dat ek deur hierdie Bybelstudie meer kon leer oor U, die beskerming wat ek by U het en ook die redding en hulp wat U vir my gee. Ek loof en prys U Naam en eer U vir alles wat U vir my doen. Amen.
DOEN JOU EIE STUDIE.
Ek hoop dat hierdie mini-Bybelstudie oor Psalm 18 se eerste sewe verse vir jou net soveel beteken het as vir my. Ek hoop ook dit het jou gewys dat dit eintlik nie so moeilik is om die Bybel te studeer nie. Gebruik ‘n Bybelstudie-metode wat vir jou werk, vra die regte vrae, en jy kan so baie oor die Bybel leer.
Waaroor gaan jy volgende Bybelstudie doen? Watter metode gaan jy gebruik? Deel met ons in die kommentaar hieronder.

Baie dankie die studie plan doen wonders. ek so bly ht op afgekom dt so wow,sal dt toepas ht altyd gesoek vr bybelstudie plan dt is die beste u maak my dag .alle eer aan die Here en mag God u ryklike seen mooi dag
Hallo Jeany. Ek is so bly die artikel het iets vir jou beteken. Seën vir jou met jou tyd in die Bybel!
Baie dankie! Baie leersaam. Dankie vir die leiding tot Bybelstudie.
Ek sit vanoggend by Jesus se voete en belei my ongeduld en swaar gemoed en dat ek my gedurig bekommer.
Vanoggend kyk ek op na U o God en dankie dat U my Rots en veilige vesting is by wie ek kan skuil waar ek weer my geloof kan versterk. By U vind ek kalmte en vrede. Amen
Goeie more Risa ek vind dit Baie interesant Om hierdie Bybelstudie te doen bid dat God my sal help Om te verstaan
Baie dankie Risa! Dit was nou so insiggewend..sal my definitief baie help..want ek wil so graag dieper in gaan in God se Woord en daaruit leer. Baie dankie.
Dis sommer ‘n groot plesier. Ek is bly die artikels beteken iets vir jou.
BaieDankie. ek het dit nodig om Bybelstudie te doen. my lewe is omgekeur al van 2018. maar ek roep die Here hy is my redder.en ek kan op die Rots van vaste Vesting staan sonder om te wankel want Hy hou my vas en laat my Veilig voel. dankie vir die aanlyn Bybelstudie. Geseende daggie
Ek is bly die artikel het iets vir jou beteken. Alle eer aan die Here vir hoe Hy jou dra in hierdie tyd.