
Hier by Bybel En Gebed kyk ons elke nou en dan na ‘n boek in die Bybel, en van die interessante inligting wat jy moet hê wanneer jy ‘n Bybelstudie daaroor wil doen. Vandag is dit dan ook weer tyd vir so ‘n artikel. Die boek waarna ons gaan kyk, is Spreuke.
ONTSTAANTYD EN AGTERGROND.
Van die spreuke wat in die boek vervat is, is waarskynlik tydens Salomo se bewind versamel. Andere is weer versamel toe Hiskia aan bewind was.
WIE HET SPREUKE GESKRYF?
Daar is drie verskillende mense wat hierdie boek geskryf het.
Die eerste gedeelte van Spreuke word aan koning Salomo toegeskryf. Volgens 1 Konings 4:32 het hy drieduisend spreuke geskryf.
Dan is daar ook van die latere gedeeltes wat deur Agur en Lemuel geskryf is. Hulle was waarskynlik Noord-Europese wyse manne.
Agur vertel vir ons hoe groot God is en hoe klein ons is.
Lemuel leer ons wat sy ma hom geleer het sodat hy ‘n goeie koning kon wees.
WAT SE TIPE BOEK IS SPREUKE?
Spreuke is een van die wysheidsliteratuurboeke.
In wysheidsliteratuur word daar op ‘n spesifieke manier na die lewe en die wêreld gekyk.
Die spreuke in hierdie boek bestaan gewoonlik uit twee reëls.
Soms word dieselfde gedagte herhaal. Ander kere brei die tweede reël uit op die eerste een. En nog ander kere word twee gedagtes teenoor mekaar gestel, sodat ons altwee kante van dieselfde saak sien.
DIE DOEL VAN DIE BOEK.
Die doel van Spreuke is om die persoon wat dit lees met Goddelike wysheid en insig toe te rus. Wanneer ons dit wat ons daaruit leer in ons lewens toepas, sal ons ‘n ordelike en vroom lewe lei.
Dis belangrik om te onthou dat alles wat in Spreuke geskryf is, veralgemenings is. Dis nie onveranderlike waarhede nie en is daarom ook nie op elke situasie in die lewe van toepassing nie.
HOOFTREKKE VAN SPREUKE.
Ons kan die boek in vyf hoofdele deel, wat elkeen weer in kleiner onderafdelings verdeel kan word. Dis maklik om te sien waar elke hoofdeel begin, omdat die opskrifte by 1:1, 10:1, 22:17, 25:1 en 30:1 dit duidelik vir ons wys.
Die eerste gedeelte, 1:1-9:18, bestaan uit langer gedigte. Hier leer ons meer oor die voordele wat ‘n wyse en verstandige lewe, inhou.
In 10:1-22:16, die tweede gedeelte, kry ons ‘n klomp kernatigte spreuke. Dis baie soos die spreekwoorde wat ons vandag nog gebruik en wat elkeen sy eie waarheid inhou.
Die derde gedeelte kry ons in 22:17-24:34. In dié gedeelte is die woorde van die ‘wyse manne’ bymekaar gesit. Dis interessant dat baie van die spreuke in 22:17-23:11 ooreenstem met ‘n versameling spreuke wat uit Egipte kom.
Hoofstukke 25-19 is die Hiskiaversameling. Dis opgebou uit los spreuke en gaan oor dinge soos die landbou, die natuur en die politiek.
Laastens is daar hoofstukke 30-31. Hier kry ons vier kleiner versamelings wat bemekaar gesit is. Daar is Agur se woorde en dan ‘n reeks gedigte waar daar elke keer vier sake met mekaar vergelyk word. Volgende kom Lemuel se woorde en laastens ‘n gedig oor die staatmakervrou.
JESUS IN SPREUKE.
In 1 Korinthiërs 1:30 lees ons die volgende oor Jesus: “Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding.”
Ons sien Jesus dan ook oor en oor in die boek Spreuke, as die Wysheid van God.
UNIEKE FEITE.
Daar word verskeie literêre vorms in Spreuke gebruik.
Ons kry poësie, kort gelykenisse, koeplette en ook soms skerp vrae.
Dan word daar ook verskillende stylmiddele gebruik. Dis dinge soos teenstellings, personifikasie en vergelykings.
SLEUTELVERS IN SPREUKE.
Daar is twee sleutelverse in Spreuke.
Die eerste een kry ons in Spreuke 1:7. Daar staan: “Ontsag vir die Here is die begin van kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit.”
Die tweede sleutelvers is Spreuke 2:6: ” Ja, net die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstandigheid.”
SPREUKE IN JOU LEWE.
Daar is sommer baie dinge wat ons uit Spreuke kan leer. Hier is drie van dié lesse.
In die eerste plek leer ons dat ‘n mens bereid moet wees om ‘n gesonde verhouding met God, met ander mense, en met die wêreld te hê. Dit sal ons help om suksesvol en gelukkig te wees.
Dan leer ons ook dat wysheid ‘n lewenskuns is. Dis nie net om slim te wees nie, maar om weet hoe God bedoel het ons moet leef en dan ook so te leef.
En laastens leer ons dat ‘n mens terugkry wat jy in die lewe gee. As jy net vir jouself leef en geen respek het vir ander nie, is jy self verantwoordelik vir die teëspoed wat jou tref.
VORIGE ARTIKELS.
As jy van die vorige artikels oor verskillende boeke in die Bybel misgeloop het, kan jy dit HIER lees.
