
Hier by Bybel En Gebed praat ons gewoonlik oor Bybelstudie, maar vandag wil ek vir jou ‘n maklike wenk gee wat jy kan gebruik wanneer jy sommer net jou Bybel lees.
Dié Bybelleeswenk sal jou help om regtig in te neem wat jy lees.
Al wat jy nodig het, is jou Bybel, ‘n pen en 5 ‘highlighters’. Kom ons veronderstel jy het ‘n pers, blou, oranje, pienk en geel ‘highligter’.
HOE DIE BYBELLEESWENK WERK.
Jy gaan jou ‘highlighters’ gebruik om die volgende mee aan te dui:
- Pers is vir gedeeltes oor God // Verse wat beskryf wie Hy is, wat Hy doen of gedoen het, enige iets wat op een of ander manier met die Drie-eenheid te doen het.
- Blou is vir gedeeltes oor ons // Verse waarin ons opdragte of voorbeelde sien, of beloftes wat God vir ons gegee het.
- Oranje is vir gedeeltes oor sonde // Dit sluit sonde in van karakters in die Bybel, asook waarskuwings oor sonde wat van toepassing is op die lewe.
- Pienk is vir gebede // ‘Highlight’ enige gebede wat jy raaklees. Jy kan ook verse wat ‘n mens in gebede kan verander, ‘highlight’.
- Geel is vir gunstelinge // Wat is jou gunsteling verse in die Bybel? Gebruik die geel ‘highlighter’ vir hierdie verse.
Jou Bybellees-roetine gaan dan ongeveer só lyk:
- Lees jou gedeelte vir die dag een keer deur.
- Lees dit weer deur en gebruik jou ‘highlighters’ volgens die sisteem wat ons hierbo oor gesels het.
- Maak notas oor wat jy leer. Jy kan dit in die kantlyn van jou Bybel of in ‘n notaboek of joernaal doen.
VRAE OM TE VRA.
Eindig jou tyd in die Bybel deur jouself hierdie twee vrae te vra:
- Wat het die gedeelte my oor God en wie Hy is geleer?
- In die lig van wat ek geleer het, hoe moet ek leef?
Die vrae is eenvoudig, maar dit sal jou help om jou fokus op die regte plek te hou.
Onthou, die Bybel gaan eintlik oor God, nie oor ons nie. Dis in die eerste plek veronderstel om ons te leer wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het. En eers wanneer ons weet wie Hy is en wat Hy gedoen het, kan ons begin dink oor hoe ons in antwoord daarop moet reageer.
Ek hoop dat jy hierdie Bybelleeswenk gaan probeer en dat dit sommer baie vir jou in jou stiltetyd en Bybelleestyd gaan beteken!

goeie more Risa, baie dankie vir hierdie web tuiste eks opgewonde om dieper te delf in God’s Woord, mag die Here u ryklik seen, dankie vir die tyd wat u spandeer om ons geestelik te kan seen, ek Eer die Here daarvoor. Geseende dag aan u hulle.
goeie naand,ek is so bly ek het hierdie weblad ontdek,mag God u en u bree famlie reiklik seen
Lekker om jou by ons te hê!
Baie dankie mag die Here jou seën en mag jy n geseënde dag he.
baie dankie waardeer opreg mag Jesus jou reiklik seen
Baie dankie! Baie seën vir jou ook.