HOE OM ‘N BIOGRAFIE-STUDIE TE DOEN

Hoe om 'n biografie-studie te doen

Die Bybel is vol verhale van mense wat ‘n pad met God gestap het. Om hulle lewens van nader te bekyk, kan interessant en baie leersaam wees. By sommige van hulle kan ons leer hoe ‘n kind van God optree. En by ander leer ons weer wat ‘n kind van God nié doen nie. Die biografie-studie is die ideale metode om te gebruik wanneer ons ‘n bietjie meer oor Bybelkarakters se lewens wil leer.

DIE BIOGRAFIE BYBELSTUDIE-METODE.

Onthou jy nog wat ‘n biografie is?

Volgens die HAT is dit ‘n lewensbeskrywing.

Wanneer ons ‘n biografie-studie doen, dan is dit eintlik waarmee ons besig is.

Die idee is dat jy ‘n karakter uit die Bybel kies, van wie jy meer wil weet. Dan gebruik jy al die gedeeltes in die Bybel, waar daardie persoon genoem word, om hom of haar beter te leer ken. Jy gaan nie net meer leer oor die persoon se lewe nie, maar ook oor wat in sy of haar binnekant aangegaan het. En dit sal jou help om te sien waarom die persoon se lewe ‘n geestelike sukses of mislukking was.

Die toepassing van die studie gebeur wanneer jy jou eie lewe bekyk in die lig van wat jy in jou studie geleer het. Dan vra jy vir God om te verander waar jy nodig het om te verander. Die resultaat is geestelike groei en volwassenheid.

Groot dele van die Ou Testament bestaan uit verhale oor mense se lewens. God het hierdie verhale vir ons gegee om as voorbeelde en waarskuwings te dien, soos Paulus in Romeine 15:4 en in 1 Korinthiërs 10:11 skryf.

Dit is een van die beste maniere om die Ou Testament te studeer, om na die mense wat daarin voorkom, te kyk. Die biografie studie-metode is ook een van die maklikste metodes wat jy kan gebruik om by ‘n persoonlike toepassing uit te kom.

WAT JY GAAN NODIG Hê.

Vir dié studie-metode het jy hierdie dinge nodig:

‘n Studie-bybel
Konkordansie
Bybelse woordeboek of ensiklopedie

Hierdie hulpmiddele is ook aanlyn beskikbaar, maar ongelukkig net in Engels. Op Studylight is daar:

Woordeboeke

Konkordansies

Ensiklopidieë

WENKE VIR ‘N GOEIE BIOGRAFIE-STUDIE.

Hier is ‘n paar dinge om in gedagte te hou wanneer jy ‘n biografie-studie doen.

  1. Begin met ‘n persoon na wie daar nie baie verwys word nie. Oor sommige Bybelkarakters kan ‘n mens in net ‘n paar uur baie leer. Ander gaan jou ‘n paar weke vat om alles te leer. En dan is daar diegene wat jou ‘n leeftyd lank kan besig hou. Moenie met iemand soos Jesus of Abraham begin nie. Kyk eerder na mense soos Andreas, Barnabas of Maria, Martha en Lasarus se suster.
  2. Leef saam met die persoon wat jy studeer. Dit beteken jy probeer om dinge vanuit hulle perspektief te sien. Probeer agterkom hoe hulle dink, voel en optree. Hoor met hulle ore, kuier saam met hulle vriende en veg teen hulle vyande. Dis net moontlik wanneer jy baie tyd aan jou studie spandeer en die verwysings na hulle oor en oor lees.
  3. Daar is karakters in die Bybel wat dieselfde naam het. Moenie deurmekaar raak met hulle wanneer jy verwysings naslaan nie. Daar is byvoorbeeld dertig verskillende mans wat die naam Sagaria gehad het. Daar is sewe vroue wat Maria genoem is en agt mans met die naam Judas. Dan is daar ook vyf wie se naam Johannes was en vyf wat Jakobus genoem was. Die konteks van die vers behoort vir jou te sê van watter persoon gepraat word.
  4. Onthou dat daar karakters is wat verskillende name gehad het. Petrus was byvoorbeeld ook bekend as Simon, Simeon en Sefas. Maak dus seker jy weet wat die verskillende name van ‘n persoon is, sodat jy al die verwysings kan naslaan.
  5. Doen eers self Bybelstudie voor jy ander boeke, wat oor die karakter wat jy studeer geskryf is, lees.

STAPPE OM ‘N BIOGRAFIE-STUDIE TE DOEN.

Die biografie-studie het tien stappe.

STAP 1: KIES ‘N KARAKTER.

Die karakter wat jy kies om te studeer kan iemand wees wat ‘n karaktertrek het wat jy wil ontwikkel. Of dit kan iemand wees wat dieselfde swakheid het as jy.

Kies iemand wie se lewe jou gaan leer hoe om ‘n heilige lewe te leef en meer soos Jesus te word.

STAP 2: LYS JOU VERWYSINGS.

Gebruik jou verskillende hulpmiddele en soek al die skrifgedeeltes waarin daar na die persoon wat jy studeer, verwys word.

Dit kan dinge insluit soos sy geboorte, groot gebeurtenisse in sy lewe en dinge wat hy bereik het. Dit kan ook dinge insluit soos wat ander van hom gesê het en moontlik sy dood.

Onthou dat jy nie al hierdie inligting oor elke karakter in die Bybel gaan kry nie. Maar probeer om soveel moontlik oor die karakter wat jy gekies het, uit te vind.

En moenie vergeet om na die historiese agtergrond van jou karakter se lewe ook te kyk nie. As jy byvoorbeeld ‘n biografie-studie oor Ester doen, is dit belangrik om die Persiese ryk ook van nader te bekyk. En as jy ‘n studie oor Paulus doen, moet jy sy sendingreise ook studeer.

STAP 3: EERSTE INDRUKKE.

Lees deur elkeen van die verskillende skrifverwysings wat jy het en maak aantekening oor wat jy leer.

Wat is jou eerste indruk van die persoon wat jy studeer? Skryf dit neer.

Volgende gaan jy enige basiese dinge wat jy oor die persoon waarneem, neerskryf. Skryf ook enige belangrike inligting wat jy oor hom ontdek, neer.

Maak ook ‘n lys van enige iets waarmee jy sukkel of vrae wat jy het.

STAP 4: ‘N KRONOLOGIESE UITLEG.

As jy ‘n biografie-studie oor ‘n belangrike karakter in die Bybel doen, is die vierde stap om ‘n kronologiese uitleg van sy lewe te doen. Dit sal jou help om ‘n goeie perspektief van die karakter se lewe te kry. Jy sal kan sien hoe verskillende gebeurtenisse in sy lewe met mekaar verband hou.

As jy ‘n studie doen oor ‘n karakter wat minder belangrik is, of oor iemand van wie daar nie baie inligting gegee word nie, gebruik wat jy het om ‘n uitleg van sy lewe te skryf.

Probeer om al die verskillende skrifverwysings op een slag deur te lees. Wees op die uitkyk vir enige gebeurtenisse wat iemand se lewe natuurlik in verskillende dele indeel. Soek ook na maniere hoe die persoon se lewe, of hy self, ontwikkel het. Skryf al hierdie dinge neer.

Hier is ‘n voorbeeld om jou te help. As ons na Moses se lewe sou kyk, kan ons dit so indeel:

  1. Veertig jaar aan die Farao se hof – leer om iets te wees.
  2. Veertig jaar in die Midian woestyn – leer om niks te wees nie.
  3. Veertig jaar in die Sinai woestyn – leer dat God alles is.

Hierdie stap is die sleutel om die karakter van ‘n persoon te studeer. In dié stap kan ons sien hoe God mense gevorm en verander het of hoe die duiwel hulle die verkeerde pad laat loop.

STAP 5: INSIG IN DIE KARAKTER.

In hierdie stap gaan jy weer ‘n keer deur al die skrifverwysings wat jy het, lees. Dan gaan jy antwoorde soek op ‘n klomp vrae sodat jy meer insig in die karakter wat jy studeer, kan kry. In volgende week se artikel gaan ons saam ‘n biografie-studie oor Stefanus doen. Jy sal dan ook die vrae wat jy hier moet gebruik, kan aflaai.

Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

STAP 6: KARAKTEREIENSKAPPE.

Lees weer deur al jou skrifverwysings en maak ‘n lys van al die karaktereienskappe wat jy raaksien. Dit kan goeie of slegte eienskappe wees. Skryf ook neer in watter teksvers jy hierdie eienskap gesien het.

STAP 7: ANDER BYBELSE WAARHEDE.

Die volgende stap is om te kyk watter ander Bybelse waarhede daar in die karakter se lewe geïllustreer word. Word die beginsel, ‘wat jy saai sal jy maai’, byvoorbeeld in sy lewe geïllustreer?

Hier kan jy Spreuke en Psalms gebruik en jouself afvra of een van die beginsels wat in dié boeke bespreek word, deur die karakter se lewe geïllustreer word. Maak seker dat jy kruisverwysings het oor wat die Bybel sê oor die karaktereienskappe wat jy by die persoon raaksien.

STAP 8: DIE BELANGRIKSTE LES.

Jou volgende stap is om neer te skryf wat, volgens jou, die belangrikste les is wat deur die persoon se lewe geleer of geïllustreer word.

Jy kan dit in ‘n paar sinne neerskryf of, as dit in net een woord vasgevang kan word, dan net daardie woord.

Skryf ook neer watter karaktertrek van die persoon die meeste uitstaan.

STAP 9: PERSOONLIKE TOEPASSING.

Die tweede laaste stap is om ‘n persoonlike toepassing te skryf. Hier is ‘n artikel wat jy kan lees vir meer inligting daaroor.

Jy kan jouself ook hierdie vrae vra:

  • Sien ek iets van myself in hierdie karakter se lewe?
  • Het hy ‘n swakheid wat ek ook het?
  • Het hy ‘n sterk punt wat ek ook het?
  • Is daar iets omtrent sy lewe wat my beïndruk het?
  • Waar skiet ek te kort in daardie gebied van my lewe?
  • Wat gaan ek daaraan doen?

STAP 10: OM ANDER TE LEER.

Die beste manier om iets wat jy geleer het te onthou, is om dit weer vir iemand anders te vertel.

Die laaste stap is dan ook om ‘n opsomming te skryf van dit wat jy geleer het. Doen dit op so ‘n manier dat jy gaan onthou wat jy geleer het en dit weer vir iemand anders kan leer.

Vra jouself wat die karakter wat jy studeer het, se lewe vir iemand anders kan beteken. Hoe kan dit wat jy geleer het, iemand anders help?

Deel die inligting op in die natuurlike vloei van tyd en/of gebeurtenisse en lesse wat jy geleer het. Skryf dan ‘n titel, wat jy maklik gaan onthou, vir elke gedeelte. Jy kan hier gebruik maak van rympies, alliterasie of enige iets anders wat jou help om dinge te onthou. Gebruik jou verbeelding!

‘N LAASTE GEDAGTE.

Probeer om die skrifverwysings wat jy gebruik ten minste vier keer tydens jou studie deur te lees. Dis die minimum hoeveelheid. Hoe meer kere jy dit egter lees, hoe meer gaan jy raaksien oor die persoon wat jy studeer. Lees dit dus soveel keer as moontlik.

As jy graag ‘n biografie-studie oor ‘n karakter in die Bybel wil doen, kan jy met iemand soos Maria (Martha se suster), Andreas, Rut of Daniël begin.

Onthou om volgende week weer ‘n draai te kom maak, want dan gaan ons saam ‘n biografie-studie oor Stefanus doen, sodat jy presies kan sien hoe die studie werk.

Sterkte met jou studies!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *