
Hier op Bybel En Gebed het ons al heelwat gesels oor verskillende Bybelstudie-metodes.
As jy van die vorige artikels gelees het, sal jy weet die beste manier om die Bybel te bestudeer, is om vrae daaroor te vra.
Dis dan ook nie anders wanneer jy ‘n tema wil studeer nie.
WAT IS ‘N TEMA-BYBELSTUDIE?
‘n Tema-studie beteken dat jy ‘n spesifieke tema in die Bybel bestudeer.
Jy doen dit deur ‘n klompie vrae (nie meer as vyf nie) oor die spesifieke tema te vra. Hierdie vrae gaan altyd te doen hê met wat, hoekom, wanneer, hoe, waar en wie.
Na jy die vrae gevra het, skryf jy neer wat jy leer het en ook hoe jy dit in jou lewe kan toepas.
DIE VERSKIL TUSSEN ‘N TEMA-STUDIE EN ‘N ONDERWERPSTUDIE.
‘n Tema-Bybelstudie verskil van ‘n onderwerpstudie. Eerstens is ‘n tema-studie korter as ‘n onderwerpstudie.
‘n Onderwerp het gewoonlik verskillende temas. Byvoorbeeld: gebed is ‘n onderwerp. Maar die gebede van Jesus of van Paulus, gebed vir ander, en voorwaardes vir gebed wat beantwoord word, is gebedstemas.
Wanneer jy ‘n onderwerpstudie doen, kyk jy na al die verse wat verband hou met die onderwerp wat jy studeer. Wanneer jy ‘n tema-studie doen, konsentreer jy net op ‘n gedeelte in die Bybel wat verband hou met die tema.
Die tweede verskil is dat ‘n tema-studie minder vrae het as ‘n onderwerpstudie. Wanneer jy ‘n onderwerp studeer, vra jy soveel moontlik vrae oor die onderwerp. Wanneer jy ‘n tema-Bybelstudie doen, vra jy vyf of minder vrae.
Hoekom net ‘n paar vrae?
Want daar kan honderde verskillende verse oor ‘n spesifieke tema in die Bybel wees. As jy 20 vrae oor elke vers wil vra, gaan dit jou so lank besig hou, dat jy gaan moeg raak om die studie te doen. Jy gaan dan ook maklik opgee en aanbeweeg na iets anders.
DOEL VAN ‘N TEMA-BYBELSTUDIE.
Die doel van ‘n tema-Bybelstudie is om soveel moontlik te leer oor die tema wat jy gekies het.
Onthou dat jy net vyf vrae oor elke vers wat jy studeer gaan vra. Jy kan ook minder vrae vra – selfs net een is genoeg!
VOORDELE VAN ‘N TEMA-STUDIE.
Daar is sommer ‘n hele paar voordele verbonde aan ‘n tema-studie.
- Jy het nie baie hulpmiddele nodig om ‘n tema-Bybelstudie te doen nie. Solank jy ‘n Bybel het wat ‘n konkordansie agter in het, kan jy klaar nogal ver kom met ‘n tema-studie. ‘n Konkondansie is ook ‘n goeie idee, want daar gaan jy ‘n langer lys kry van verse wat oor die tema gaan. As jy nie ‘n konkordansie het nie, kan jy aanlyn-konkordansies gebruik. HIER en HIER is twee webblaaie waar jy konkordansies kan kry.
- Dis ‘n goeie Bybelstudie-metode om te gebruik wanneer jy nie tyd het om ‘n onderwerp te studeer nie.
- Dis ook ‘n goeie metode om te gebruik voor jy ‘n onderwerpstudie doen. Jy kan dit ook gebruik wanneer jy net sekere vrae wat jy oor ‘n tema het, wil beantwoord.
- Hierdie metode is een van die maklikste Bybelstudie-metodes om te gebruik wanneer jy ‘n les vir Sondagskool moet voorberei. Nadat jy jou studie gedoen het, gebruik elke vraag wat jy gevra het as ‘n hoofpunt in die les. Deel dan die antwoorde met die kinders in jou klas.
- Laastens is hierdie metode ‘n goeie een om te gebruik wanneer jy ‘n nuwe Christen is. Dit is eenvoudig genoeg om te gebruik wanneer jy nog nie baie Bybelstudie gedoen het nie.
WENKE VIR ‘N TEMA-STUDIE.
Hierdie metode is heel eenvoudig, en daarom is dit maklik om dinge te ver te vat. Gebruik dus hierdie wenke wanneer jy ‘n tema-studie doen.
- Moenie te veel vrae gebruik nie. Te veel vrae beteken jy gaan nie ‘n effektiewe studie doen nie. Vra dus net tussen 3 en 5 vrae.
- ‘n Tema-studie kan selfs met net 1 vraag gedoen word. Vra byvoorbeeld:
Wat is die dinge wat God haat?
Watter karaktertrekke van ‘n dwaas word in Spreuke genoem?
Wat leer die Nuwe Testament omtrent volharding?
- Jy gaan nie altyd ‘n antwoord op al die vrae wat jy oor ‘n vers vra, kry nie. As jy nie ‘n vraag kan antwoord nie, gaan aan na die volgende vraag.
- As jy nie een van die vrae in enige van die verse wat jy gekies het, kan antwoord nie, dan vra jy dalk die verkeerde vrae. Kyk wat God regtig in die verse sê en pas jou vrae daarvolgens aan.
- As jy wil weet wat God regtig alles oor ‘n sekere onderwerp sê, gaan jy ‘n omvattende konkordansie moet gebruik. Dis nou iets soos Strong’s of Young’s. Jy kan hierdie konkorandansies ook aanlyn kry. Maar onthou, om so ‘n studie te doen gaan baie tyd vat, so moenie haastig wees wanneer jy besluit om dit aan te pak nie!

HOE OM ‘N TEMA-STUDIE TE DOEN.
Noudat ons meer weet oor ‘n tema-Bybelstudie, is dit tyd om te kyk na die verskillende stappe wat jy gaan gebruik wanneer jy so ‘n studie doen.
STAP 1.
Kies ‘n tema waaroor jy meer wil weet. Maak seker dis nie ‘n hooftema is, wat eerder kan deurgaan as iets waaroor jy ‘n onderwerpstudie kan doen nie.
Jy kan byvoorbeeld ‘n studie oor lofprysing in Psalms doen. Kyk na woorde soos prys, lofprysing, danksegging of dankbaarheid, vreugde, ensovoorts.
STAP 2.
Maak ‘n lys van verse wat jy wil studeer. Gebruik jou studie-Bybel, ‘n Bybel met ‘n konkordansie agter in en ‘n omvattende konkordansie om die lys te maak.
Onthou om op te let na sinonieme en ander soortgelyke woorde en konsepte wanneer jy die konkordansie gebruik.
Kies verse wat die belangrikste is om te studeer om meer oor die tema te wete te kom.
STAP 3.
Volgende gaan jy besluit watter vrae jy van die verse gaan vra.
Wat is die dinge rondom die tema waaroor jy graag meer wil weet? Skryf vrae neer wat dit gaan antwoord.
Maak nou ‘n lys van vrae – nie meer as vyf nie. Onthou ook dat jy net een vraag ook kan vra.
In ons voorbeeld oor lofprysing in Psalms, kan jy vrae vra soos:
a. Waarom moet ons die Here prys?
b. Hoe moet ons die Here prys?
c. Wanneer moet ons die Here prys?
d. Wat is die resultaat van lofprysing?
STAP 4.
Lees deur die verse wat jy gekies het en vra die vrae oor elkeen van die verse.
Skryf die antwoorde neer.
Jy gaan soms al jou vrae uit ‘n vers kan antwoord, ander kere nie.
As jy nie een van jou vrae uit die verse kan antwoord nie, begin weer en dink aan ‘n nuwe klompie vrae om te vra.
STAP 5.
Nadat jy na al die verse wat jy gekies het gekyk het en antwoorde neergeskryf het, is die volgende stap om ‘n opsomming of gevolgtrekking te skryf van al die antwoorde wat jy gekry het.
STAP 6.
Dis belangrik om altyd toe te pas wat jy in ‘n Bybelstudie geleer het.
Skryf neer hoe jy prakties kan toepas wat jy oor jou tema geleer het.
Hou hierdie wenke in gedagte wanneer jy jou toepassing skryf:
- Die toepassing moet persoonlik wees. Skryf dit dus in die eerste persoon. Gebruik woorde soos ek, my, myne.
- Jou toepassing moet iets wees wat jy prakties kan doen. Skryf ‘n plan van aksie neer, sodat jy presies weet hoe jy dit in jou lewe gaan toepas.
- Die toepassing moet moontlik wees. As dit iets is wat jy nie gaan kan doen nie, gaan jy moedeloos raak en opgee.
- Jou toepassing moet meetbaar wees. Jy moet dus op een of ander manier kan bewys dat jy wel die lesse wat jy geleer het, in jou lewe toegepas het.
Kom ek gee jou ‘n voorbeeld:
Persoonlik – Ek moet….
Prakties – Ek moet geld spaar….
Moontlik – Ek moet R500 spaar….
Meetbaar – Ek moet R500 spaar teen die einde van die maand….
‘N TEMA-STUDIE – PRAKTIESE VOORBEELD.
In die volgende artikel gaan ons saam ‘n tema-studie doen oor Jesus se definisie van ‘n dissipel.
Dit sal jou prakties wys hoe jy ‘n tema-studie moet doen.
NOG BYBELSTUDIE-METODES.
As jy graag meer oor ander Bybelstudie-metodes wil leer, kan hierdie artikels jou help:
DIE S.O.A.P.-METODE – IDEAAL VIR JOU STILTETYD
HOE OM ‘N KARAKTERSTUDIE TE DOEN
BYBELSTUDIE: DIE HOOFSTUK-STUDIEMETODE

Wil graag die studie reg doen
Mariana, ek hoop jy het die volgende artikel, waarin ons saam ‘n Temastudie doen, ook gelees. Jy kan dit hier lees – https://www.bybel-en-gebed.co.za/doen-n-tema-bybelstudie-voorbeeld/