
Ontdek 7 maklike Bybelstudie-metodes wat jou help om met selfvertroue in God se Woord te delf. Perfek vir beginners.
Wanneer jy by ons FB-groep aansluit, is daar twee vrae wat jy moet antwoord. Een van dié vrae vra: “Waarmee sukkel jy die meeste wanneer dit by Bybelstudie kom?” Die antwoord wat ek die meeste kry, is dat mense nie regtig weet hoe en waar om met Bybelstudie te begin nie. Dis waar dat ‘n mens maklik kan voel asof jy in ‘n groot boek verdwaal sonder dat jy enige rigting het.
Dit is waar ‘n Bybelstudie-metode ‘n verskil maak! ‘n Goeie metode help jou om nie net so bolangs deur die Bybel te lees nie, maar die diep geestelike waarhede daarin te ontdek. Dit help jou om die verband tussen verse te sien, God se boodskap duideliker te hoor, en Sy Woord beter in jou daaglikse lewe toe te pas. ‘n Studiemetode bring ook struktuur, sodat jy nie moed opgee as jy iets nie dadelik verstaan nie.
Daar is baie verskillende Bybelstudie-metodes wat ‘n mens kan gebruik. Sommige is geskik vir diegene wat nou net met Bybelstudie begin, terwyl ander weer meer geskik is vir persone wat al vir ‘n rukkie lank Bybelstudie doen.
Vandag wil ek sommer net in kort sewe maklike Bybelstudie-metodes met jou deel, wat jy in jou studietyd kan gebruik.
DIE 5-VRAE METODE.
Lees ‘n kort gedeelte uit die Bybel en vra jouself die volgende vyf vrae:
- Wat sê hierdie gedeelte oor God?
- Wat sê dit oor mense?
- Is daar ‘n belofte wat ek my eie kan maak?
- Is daar ‘n opdrag wat ek moet gehoorsaam?
- Hoe kan ek dit wat ek hier uit leer, in my lewe toepas?
DIE DRIE-KLEUR METODE.
As jy nie omgee om in jou Bybel te skryf nie, kan hierdie metode nogal vir jou werk. Gebruik drie kleure om verskillende temas in die Bybel te merk:
- Geel: Belangrike waarhede oor God.
- Blou: Opdragte wat jy moet gehoorsaam.
- Rooi: Beloftes van God.
Hierdie metode sal jou help jou om vinnig enige patrone en herhalende temas in die Bybel raak te sien.
DIE S.O.A.P.-METODE.
Hierdie is ‘n metode met ‘n Engelse akroniem, wat dit maklik maak om die stappe van die metode te onthou.
- S staan vir ‘Scripture’ (Skrif): Kies ‘n spesifieke vers of gedeelte waarna jy wil kyk en lees dit so twee of drie keer deur. Jy kan selfs die vers of gedeelte in jou joernaal of notaboek neerskryf.
- O staan vir Observation (Waarneming): Wat staan in die teks? Waaroor gaan dit? Skryf alles wat jy in die gedeelte raaksien, in jou joernaal neer.
- A staan vir Application (Toepassing): Volgende gaan jy jouself die vraag vra hoe jy die lesse wat jy uit die gedeelte geleer het, in jou eie lewe kan toepas. Skryf dit ook in jou joernaal neer.
- P staan vir Prayer (Gebed): Bid oor wat jy geleer het en vra die Here om jou te help om dit wat jy geleer het, in jou lewe toe te pas.
DIE TEMA-METODE.
Kies vir jou ‘n tema waaroor ky meer wil weet en bestudeer verskeie Bybelgedeeltes oor daardie onderwerp. Skryf alles wat jy leer neer om ‘n breër begrip van die tema te kry.
DIE KARAKTERSTUDIE-METODE
Almal van ons het ‘n gunsteling karakter of twee in die Bybel. Kies vir jou een en bestudeer sy of haar lewe. Let op hoe hulle die lewe saam met God aangepak het, watter uitdagings hulle in geloof oorkom het, en watter lesse jy daaruit kan leer.
Jy kan selfs ‘n karakter kies wat dalk nie regtig so ‘n goeie lewe geleef het nie, soos koning Agab en sy vrou Isebel, want ‘n mens kan ook uit hierdie karakters se lewens iets leer. Al is dit net wat jy liewer nié in die lewe moet doen nie!
DIE EEN-VERS METODE.
Hierdie metode werk goed vir verse wat jy graag wil memoriseer. Kies vir jou ‘n vers en memoriseer dit. Maak seker jy weet wat in die vers voor en na jou vers staan, sodat jy die konteks daarvan het.
Dink dan na oor die vers deur vir jouself vrae te vra soos: Wat beteken hierdie vers? Hoe kan ek dit in my lewe toepas? Op hierdie manier kan jy jou geloof stadig maar seker verdiep.
DIE PARAFRASE-METODE.
Iemand het op ‘n keer gesê as jy ‘n konsep vir iemand anders in jou eie woorde kan verduidelik, sodat hulle dit verstaan, dan beteken dit jy verstaan ook die konsep.
Hierdie metode werk so ‘n bietjie soos die idee hierbo.
Lees ‘n gedeelte uit die Bybel en skryf dit dan in jou eie woorde oor. Probeer om dit so eenvoudig te hou dat selfs ‘n kind in graad 1 of 2 kan verstaan waaroor die gedeelte gaan. Dit gaan jou beslis help jou om regtig te verstaan wat die teks sê en om dit persoonlik te maak.
Ek hoop dat een van hierdie maklike Bybelstudie-metodes vir jou interessant klink en dat jy dit gaan probeer. Deur so ‘n eenvoudige Bybelstudie-metode te gebruik, maak jy jou tyd in die Woord van God betekenisvoller en help jy jouself om geestelik te groei. So, kies en en begin sommer vandag nog en sien hoe die Here deur Sy Woord met jou praat!
Baie danki Dat ek. nou n goeie begin pint beryk het het lank na dit gesoek al die Eer Kom die Here toe wat Hy by mekaar Kan voeg danki Baie Salom