
1 Korinthiërs 13 is ‘n hoofstuk in die Bybel wat ons baie leer oor die liefde. Ons leer daaruit ‘n bietjie meer oor wat liefde is, wat liefde doen en nie doen nie. Dit gee ons ‘n kykie na hoe God liefde teenoor ons uitleef. Dit leer ons dan ook hoe ons veronderstel is om liefde teenoor ander uit te leef. Elkeen van die verse in hierdie hoofstuk is belangrik, maar vandag wil ek in kort met jou gesels oor wat ons uit 1 Korinthiërs 13:7 kan leer.
Hierdie vers in die 2020-Bybelvertaling sê: “Dit [die liefde] bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.”
En in die Bybel Vir Almal sê 1 Korinthiërs 13:7: “Hy [iemand wat vir God lief is] word nooit moedeloos nie, hy hou aan om te glo en te hoop, hy bly geduldig.”
LIEFDE RAAK NIE MOEDELOOS NIE.
Liefde gee nie op nie.
Mense mag dalk dinge doen wat jou lus maak om jou hande in die lug te gooi en te sê, “Tot hier toe en nie verder nie!”, maar ware liefde doen dit nie.
God raak nie moedeloos met ons nie. Hy gee nooit op en besluit om ons maar net te vergeet nie. Nee, Hy bly lief vir ons ongeag wat ons doen.
LIEFDE HOU AAN GLO.
Ware liefde glo altyd die beste van mense.
Dit glo altyd dat ‘n persoon kan verander en meer soos Jesus word, selfs al lyk dit asof dit nooit gaan gebeur nie.
Hoekom glo ware liefde dit?
Want in Romeine 8:29 lees ons: “…want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees…”
En in 2 Korinthiërs 3:18 staan daar: “En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in ‘n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.”
Ons sien dus dat dit God se plan is dat almal wat in Jesus glo, verander sal word om meer soos Hy te wees.
LIEFDE HOU AAN HOOP.
Ware liefde het altyd hoop.
Dit bly altyd hoopvol dat God besig is om in ‘n ander se lewe te werk, en dat daar ‘n dag gaan kom wat daardie persoon ‘n ommekeer gaan maak en die pad begin stap wat God vir hom/haar uitgelê het.
En as jy gewonder het waarom ons altyd hierop kan bly hoop, dan is dit omdat God nie wil hê mense moet verlore gaan nie, soos ons sien in 2 Petrus 3:9.
Daar staan: “Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Ons sien ook in Efesiërs 2:10 dat God ‘n plan het vir ons wanneer ons Jesus as Verlosser aangeneem het. In hierdie vers staan: “Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.”
LIEFDE BLY GEDULDIG.
Ware liefde is blywend.
Dit hou nooit op nie.
Selfs wanneer die omstandighede waarin jy jou bevind dit moeilik maak om vir ‘n ander persoon lief te wees, hou ware liefde aan liefde gee.
Dis wat God vir ons gedoen het. Hy het nie opgehou om vir ons lief te wees toe ons die een sonde na die ander gedoen het nie. Hy het aangehou om ons lief te hê toe ons niks met Hom te doen wou hê nie.
En Hy het Sy liefde baie duidelik vir ons gewys toe Jesus vir ons gesterf het, toe ons nog sondaars was.
GOD SE LIEFDE IN JOU HART.
Jy het dalk tot hier gelees en nou dink jy, “Risa, dis maklik vir jou om so te sê, maar dis nie so maklik om liefde uit te leef nie!”
Maar jy is verkeerd.
Want sien, ons leef nie liefde teenoor ander uit in ons eie krag nie.
Ons het klaar God se liefde binne-in ons omdat die Heilige Gees in ons woon (Romeine 5:5).
En Hy help ons om, as ons kies om vir iemand lief te wees, daardie liefde uit te leef.
Ons as God se kinders kan dus vir ander lief wees sonder om moedeloos te word. Ons kan aanhou glo dat God in iemand se lewe werk en dat Hy besig is om daardie persoon te verander. Dan kan ons ook bly hoop dat die persoon op die regte tyd God se plan vir sy lewe gaan begin leef. En natuurlik kan ons vir iemand lief bly, self al is dit moeilik, omdat God ons daarmee help.
Ware liefde – God se liefde – word nooit moedeloos nie, hou aan om te glo en te hoop en bly geduldig.
Mag ons elkeen ‘n weerspieëling wees van 1 Korinthiërs 13:7. Mag ons elkeen ander liefhê soos God ons liefhet.