STILTETYD-IDEES VIR BESIGE MENSE

Is jy só besig dat jy sukkel om tyd met die Here te spandeer? Gebruik hierdie stiltetyd-idees om jou te help om tyd saam met die Here in Sy Woord en in gebed te spandeer.

Stiltetyd-idees vir besige mense

Iemand het onlangs vir my gesê, “Ek is klaar so besig. Hoe moet ek nog tyd met die Here ook in my skedule inwerk?”

Dalk sit jy met dieselfde probleem.

Die antwoord is eintlik eenvoudig, maar jy gaan dalk nie daarvan hou nie.

Maar hier is dit in elk geval: jy maak tyd!

Die tyd om die dinge te doen wat ons graag wil doen, verskyn nie uit die niet nie.

As iets vir ons belangrik is, maak ons tyd daarvoor.

Dit werk presies dieselfde met die tyd wat ons met die Here spandeer.

Ek wil vandag met jou ‘n paar stiltetyd-idees deel om jou te help om tyd met die Here te spandeer, selfs al is jy besig.

BID DAAROOR.

In die eerste plek moet jy die Here vra om jou ‘n honger te gee na Hom.

Vra Hom om jou die begeerte te gee om tyd saam met Hom te spandeer.

Dit gaan maar moeilik wees om die besluit te neem om tyd te maak vir stiltetyd as jy dit nie eers wil doen nie!

BESLUIT OP ‘N TYD.

Besluit wanneer jy elke dag jou stiltetyd gaan hou.

Skryf dit neer in jou dagboek en beskou dit as ‘n afspraak.

As dit moontlik is, doen dit op dieselfde tyd elke dag.

As jy nie kan nie, maak dan ‘n punt daarvan om die vorige dag jou dagboek te bekyk en te besluit wanneer jy die volgende dag stiltetyd gaan hou.

Sommige mense verkies om dit in die oggend te doen, voor die res van die gesin wakker is.

Ander verkies weer die aand, nadat hulle geliefdes gaan slaap het.

En nog ander doen dit weer in hulle etensuur by die werk.

Dit maak nie regtig saak wanneer jy dit doen nie, solank jy dit net doen!

LEES OOK: 6 MANIERE OM MEER TYD IN DIE BYBEL TE SPANDEER

DOEN DIT ELKE DAG.

Maak jou tyd met die Here ‘n prioriteit in jou dag.

Beplan die res van jou skedule rondom jou tyd met God.

Moenie probeer om jou stiltetyd iewers in te pas nie, want dan gaan jy dit nooit doen nie.

WAARMEE HOU JY JOU BESIG?

Wees eerlik oor die dinge waarmee jy jou besig hou, wat verhoed dat jy tyd met God spandeer.

Dit kan goeie dinge wees, soos ‘n bediening.

Maar dit kan ook dinge wees wat eintlik jou tyd mors, soos TV kyk, speletjies speel of om heeltyd op sosiale media te wees.

Waarmee hou jy jou besig?

Is daar iets wat jy kan ophou doen, of minder van doen, sodat jy tyd kan maak om stiltetyd te hou?

‘N NUTTIGE HULPMIDDEL.

Soms is ‘n mens besig met jou stiltetyd, maar jou kop is nie regtig by wat jy besig is om te doen nie.

Jy dink dalk heeltyd aan jou doen-lysie en maak notas in jou kop oor dinge wat jy wil byvoeg.

Hou ‘n notaboekie byderhand waarin jy dinge kan neerskryf sodat jy dit nie vergeet nie.

Dit sal jou help om meer gefokus te bly as jy weet jy het dit iewers neergeskryf.

KIES ‘N PLEK.

Ons het reeds daaroor gepraat dat dit ‘n goeie idee is om ‘n spesifieke tyd te kies wanneer jy elke dag jou stiltetyd gaan hou.

As dit moontlik is, kies ook vir jou ‘n spesifieke plek.

Dit kan iewers in jou huis of kantoor wees.

Dalk hou jy van die natuur en verkies om dit buite te doen.

Sommige mense hou selfs daarvan om na ‘n koffiewinkel te gaan en hulle tyd met die Here daar te spandeer.

MAAK SEKER JY HET ‘N PLAN.

Daar is mense wat nie regtig daarmee sukkel om tyd te maak vir stiltetyd nie, maar hulle weet nie regtig wat om te doen wanneer hulle stil word voor die Here nie.

‘n Plan van wat jy gaan doen tydens jou stiltetyd, is dus een van die beste stiltetyd-idees.

Daar is oral op die Internet Bybelleesplanne beskikbaar. Kry vir jou een.

Nog een van die goeie stiltetyd-idees is om ‘n lysie te maak van mense en situasies waarvoor jy wil bid. Dan weet jy sommer waarvoor om elke keer te bid ook.

As daar ‘n spesifieke onderwerp is waarvan jy meer wil weet, kry vir jou Bybelstudies of Christelike boeke daaroor. Gebruik van jou stiltetyd om dit te studeer of te lees.

Party mense hou van stilte wanneer hulle tyd met die Here spandeer. Ander hou van musiek. As jy van musiek hou, maak vir jou ‘n ‘playlist’ van jou gunsteling geestelike liedjies en luister daarna terwyl jy in die Here se Teenwoordigheid is.

Ek hou daarvan om ‘n joernaal te hou van alles wat die Here my leer. As dit ook iets is wat jy geniet, is hierdie idee vir jou. Kry vir jou ‘n joernaal of ‘n gewone notaboek om jou reis met God in aan te teken.

GEBRUIK DIE ‘TUSSEN-IN’ TYE.

Hoewel dit goed is om ‘n spesifieke tyd vir jou stiltetyd te hê, waar jy elke dag rustig tyd saam met die Here kan spandeer, is dit ook ‘n goeie idee om die ‘tussen-in’ tye te gebruik. Jy weet, daardie tydjies wanneer jy nie regtig met iets sinvol besig is nie en jy op die Here kan fokus.

WANNEER JY WAG.

Om in ‘n ry te staan is iets wat meeste van ons amper elke dag doen. En as gevolg van die gesondheidskrisis wat tans heers, staan ons nóg meer in rye.

Gebruik die tyd wat jy in ‘n ry staan, om te bid. Bid sommer vir almal om jou.

As jy ‘n afspraak by die dokter het, en jy sit in die wagkamer, lees jou Bybel. Dit is deesdae so maklik om die Bybel op jou foon af te laai.

Wanneer jy in jou motor is, luister na ‘n preek.

Bid terwyl jy vir oefening hardloop of loop.

Of begin jou dag deur in die bed te lê en eers vir ‘n paar minute te bid voor jy opstaan.

DIE DRIE-WOORDE GEBED.

Gebruik die drie-woorde gebed wanneer jy oor iets wil bid.

Dra die persoon of situasie aan die Here op in net drie woorde.

Bid iets soos:
Help haar, Here.
Genees hom, Here.
Red hom, Here.
Gee krag, Here.

‘n Mens kan amper enige gebedsversoek in net twee, drie of vier woorde bid. Dit is ‘n goeie manier om te bid sonder ophou.

WEES BEWUS VAN GOD.

Die Bybel leer ons dat ons alles wat ons doen, moet doen tot eer van die Here.

Dit beteken jy kan eet, oefen, bestuur, werk, en tyd saam met die familie spandeer, alles tot eer van die Here.

Skryf verse op mooi kaartjies neer en plak dit oral in jou huis en kantoor. Dit sal jou help om te onthou om op die Here te fokus en alles tot Sy eer te doen.

Lara Casey het ‘n nota bokant haar lessenaar wat sê, ‘Look up’. Dit herinner haar om op die Here te fokus en oor alles te bid.

TYD SAAM MET ANDER GELOWIGES.

Om Sondae kerk toe te gaan, of om ‘n Bybelstudie of selgroep by te woon, is ook ‘n goeie manier om ekstra tyd saam met God te spandeer.

Of, as dit vir jou moontlik is, maak ‘n plan en spandeer ‘n ekstra uur elke naweek saam met die Here. Dit is nou bo en behalwe die tyd wat jy in elk geval gedurende die naweek saam met Hom spandeer!

Daar is soveel stiltetyd-idees wat jy kan gebruik om tyd saam met die Here te spandeer, al is jy besig.

Jy moet net die besluit neem dat jou verhouding met Hom die heel belangrikste is.

As jy dít doen, gaan jy agterkom dat jy wel tyd in jou besige skedule het om Hom eerste te stel en tyd saam met Hom te spandeer!

Watter van hierdie stiltetyd-idees gaan jy gebruik om meer tyd saam met die Here te spandeer?

Deel hierdie blad

1 comment

  1. Hello
    My naam is Riandi en elke oggend opad skool toe in die motor doen ek en my 11jr dogter stilte tyd (want dis n gejaag in die oggend om klaar te kry) Ons ry van die plaas af en sodra ons uit is by die hek begin sy. Sy lees die daglikse stukkie uit n boek en dan praat ons oor wat gelees is.
    Ek sal dan gebed doen vir die dag en voor ons by die skool stop is ons klaar met die daglikse woord
    Ons boek is nou al deurgelees en ek het gewonder of daar nie n link is om elke dag se stukkie te kry nie. Maklik genoeg vir sussie om dit ook te lees, party is nog baie moeilik vir haar. Sal dit opreg waardeer,
    Groete
    Riandi Loots
    Bloemhof nw

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *