2 Timotheus 3:16-17 leer ons die verskillende dinge wat God se Woord in ons lewens doen. Maar hoe pas ons dit toe? Lees hier vir die antwoord.

In 2 Timotheus 3:16-17 in die Ou Vertaling staan daar: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
DIE TOEPASSINGSPROBLEEM.
En dis nou net hier waar ons partykeer ‘n probleem het.
Jy sien, dit maak nie saak hoe goed ons die Bybel ken nie, as ons nie toepas wat ons weet nie, gaan dit ons niks baat nie.
Geen wonder Jakobus skryf in sy brief dat ons moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie. Die persoon wat net hoor sonder om te doen, bedrieg homself (Jakobus 1:22).
Uit die teksvers in 2 Timotheus, sien ons ons kry lering, weerlegging, teregwysing en onderwysing in geregtigheid uit die Woord van God. Ons het ook nou uit Jakobus gesien dat ons hierdie dinge in ons lewens moet toepas.
Maar wat beteken elkeen van hierdie dinge en hoe pas ‘n mens dit in jou lewe toe?
Ek het die volgende verduidelikings vir elkeen van die dinge wat in verse 2 Timotheus 3:16-17 genoem word, in my Engelse Bybel gekry. Daar is ook by elkeen ‘n sleutel om ons te help om dit in ons lewens toe te pas.
Kom ons gesels daaroor.
LEES OOK: 6 MANIERE OM MEER TYD IN DIE BYBEL TE SPANDEER
LERING OF IN WAARHEID ONDERRIG.
Lering, soos die woord in die Ou Vertaling vertaal is, is wat die Woord van God sê oor ‘n bepaalde onderwerp. Daardie lering is altyd die waarheid. Dit beteken alles wat God oor ‘n bepaalde onderwerp in die Woord sê, is die absolute waarheid.
Die eerste stap wat ons moet neem om iets te kan toepas, is om uit te vind wat God oor ‘n onderwerp sê.
Ons moet goed waarneem wat die teks sê en dit korrek interpreteer.
Wanneer jy verstaan wat God in Sy Woord oor ‘n onderwerp leer, is dit jou plig voor Hom om dit as die waarheid te aanvaar en om dit uit te leef.
Laat vaar enige valse idees of leringe wat jy geglo het. Neem God se waarheid aan en glo dit. As jy dít gedoen het, het jy toegepas wat jy geleer het.
Skryf in vir ons aanlyn-Bybel wat in Augustus begin. Kom leer saam met ons wat God in Sy Woord vir ons sê.
WEERLEGGING OF DWALING BESTRY.
Volgende kyk ons na weerlegging of om dwaling te bestry.
Almal van ons glo, dink en doen dinge wat nie in lyn is met God se Woord nie. Weerlegging ontbloot daardie dinge. Dit wys jou waar jy die verkeerde ding glo, dink of doen.
Om weerlegging in jou lewe toe te pas, beteken dat jy dit aanvaar en saam met God stem daaroor.
Dit beteken jy erken jy was verkeerd in wat jy gedink of gedoen het.
Dít is hoe ‘n mens vrygemaak word van ongeloof en sonde.

TEREGWYSING OF VERKEERDHEDE REGSTEL.
In Spreuke 1:23 lees ons wat Wysheid sê: “As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp..”
En in Spreuke 3:11-12 kry ons hierdie waarskuwing: “My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie, want die Here straf die mens wat Hy liefhet net soos ‘n vader doen met sy seun.”
Ons kry nog ‘n waarskuwing in Spreuke 10:17: “Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af.”
Die volgende stap van toepassing is teregwysing of verkeerdhede regstel. Dit is gewoonlik ook die moeilikste.
Baie keer sien ons wat verkeerd is, maar ons is onwillig om te doen wat dit kos om dit reg te maak.
God het ons egter nie sonder die nodige hulp of sonder antwoorde gelos nie.
Soms is die antwoorde nie so maklik om te kry nie, maar hulle is altyd daar. As jy die Vader wil behaag, vra Hom vir hulp. En die Heilige Gees sal jou elke keer wys wat om te doen om dit reg te kry.
Baie keer vra hierdie stap dat jy erken jy was verkeerd en om op te hou om dit te doen. Ander kere gee die Here baie spesifieke stappe wat geneem moet word. ‘n Voorbeeld hiervan kry ons in Mattheus 18:15-17. Hier leer die Here ons leer hoe ons ‘n broer moet nader wanneer hy sonde doen.
Wanneer jy God toelaat om jou tereg te wys, en jy verander wat jy doen of jou ingesteldheid, sal God in jou gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer (Filippense 2:13).
En jy sal vreugde ervaar omdat jy aan God gehoorsaam was.
KWEEK ‘N REGTE LEWENSWYSE.
Hoewel God se Woord groot waarde het om dwaling te bestry en verkeerdhede reg te stel, is dit ook vir ons gegee as ‘n handboek vir die lewe.
Wanneer ons tyd in die Woord spandeer deur dit te lees of te bestudeer, rus die Here ons toe deur:
Lering
Opdragte
Beloftes
Vermaning
Waarskuwings
Die lewens van Bybelse karakters
En deur ons te help om Sy karakter en hoe Hy met die mens omgaan, te verstaan.
Ons vind alles wat ons nodig het om enige iets in die lewe te hanteer, in die Bybel, sodat ons “volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk”.
Die effektiefse toepassing vind plaas wanneer ons tyd met die Here spandeer en met Hom praat oor die dinge wat ons gelees, bestudeer, gesien en gehoor het.

TYD IN DIE WOORD.
Ek vertrou dat alles wat jy vandag hier oor 2 Timotheus 3:16-17 geleer het, jou inspireer om meer tyd saam met die Here in Sy Woord te spandeer.
Laat Hom toe om jou die waarheid te leer en jou gedagtes te vernuwe.
Gee Hom die geleentheid om jou te wys waar jy die verkeerde ding glo, dink of doen.
Werk saam met Hom om hierdie dinge reg te stel. Dan sal jy volkome voorberei en toegerus wees vir elke goeie werk wat Hy vir jou beplan het!
Moenie vergeet om in te teken vir ons aanlyn-Bybelstudie nie!
