‘N BYBELSTUDIE-ROETINE – WAAR BEGIN EK?

Bybelstudie-roetine - Hoe begin ek?

Hierdie maklike stappe gaan jou help om, voor die einde van die jaar, die gewoonte aan te leer om ‘n Bybelstudie-roetine te volg.

Dit is die begin van die sesde maand van 2022. Baie gelowiges het aan die begin van die jaar besluit dat hulle hiérdie jaar gaan begin om gereeld Bybelstudie te doen.

Nou kyk hulle terug en sien daar het nie veel van dié besluit gekom nie.

Maar gelukkig is die jaar nog nie verby nie. Daar is nog ses maande oor, en baie dinge kan in ses maande gebeur!

So, as jy ook wou begin om Bybelstudie te doen, maar nooit sover gekom het nie, dan is hierdie artikel net waarna jy op soek was.

Gebruik die volgende maklike stappe om jou te help om ‘n Bybelstudie-roetine te begin.

HOEKOM WIL JY BYBELSTUDIE DOEN?

As jy al enige ‘goal-setting’ kursus gedoen of boek gelees het, sal jy weet dis baie belangrik om te weet waarom jy iets wil doen.

As jy nie ‘n goeie rede het nie, gaan jy nooit doen wat jy jou voorgeneem het nie.

Dieselfde is waar van Bybelstudie.

Jou eerste stap is dus om te bepaal waarom jy graag Bybelstudie wil doen.

‘n Rede soos: “Ek moet” of “Dis wat Christene doen” of “Want …. (persoon se naam) doen dit” is nie ‘n goeie rede nie.

Vra jouself dus: Hoekom wil ek Bybelstudie doen? Wat wil ek graag daardeur bereik? Hoe, dink ek, gaan dit my lewe verander as ek dit doen?

Skryf jou antwoorde neer sodat jy jouself gereeld kan herinner aan die rede of redes waarom Bybelstudie vir jou belangrik is.

LAAT VAAR DIE ‘EK MOET’-IDEES.

Almal van ons het vooropgestelde idees oor Bybelstudie.

Sommige idees kom van ander gelowiges. Maar daar is ook idees wat ons self uitgedink het.

Dit sluit dinge in soos:

“Ek moet elke week (of elke dag) Bybelstudie doen.”

“Ek moet elke keer oor ‘n ander gedeelte Bybelstudie doen.”

En dan natuurlik: “Ek moet altyd op dieselfde manier Bybelstudie doen.”

Hierdie ‘ek moet’-idees kan jou laat struikel. Dit gee vir die duiwel die ideale geleentheid om jou die leuen te vertel dat jou waarde gekoppel is aan wat jy doen.

Bybelstudie moenie iets wees wat ons doen net om dit van ons ‘doen-lysie’ vir die week af te merk nie. Dis iets wat ons doen omdat ons God beter wil leer ken, wil groei en ‘n liefde vir die Woord ontwikkel.

‘n Liefde vir die Woord en ‘n begeerte om dit te lees en studeer, is iets wat gelydelik groei. Hoe meer jy lees en studeer, hoe meer gaan jy dit wil doen. En hoe beter gaan jy die Bybel verstaan.

HOE LYK JOU SKEDULE?

Die volgende stap is om jou skedule ‘n bietjie te bekyk.

As jy reeds baie besig is, kan dit jou oorweldig om nóg iets by jou besige skedule te voeg.

Die maklikste manier om ‘n Bybelstudie-roetine te begin is om te kyk waar in jou week daar ‘n halfuur, ‘n uur of selfs langer is wat jy kan gebruik om Bybelstudie te doen.

Onthou, dit hoef nie eerste ding in die oggend te wees nie. Jy kan dit enige tyd doen – selfs wanneer die res van die gesin gaan slaap het. Onthou net om ‘n tyd te kies waar jou brein wakker is en jy dinge kan inneem.

As jy net ‘n halfuur beskikbaar het, gebruik daardie halfuur. Hoe meer jy Bybelstudie doen, hoe meer gaan jy dit wíl doen. En jy sal sien dat jy dan ook gaan agterkom jy het meer tyd vir Bybelstudie as wat jy gedink het.

Skryf die tyd wat jy vir Bybelstudie gaan gebruik in jou dagboek neer. Beskou dit as ‘n afspraak met God, wat jy nié gaan verbreek nie.

WERK MET ‘N PLAN.

Meeste mense kla hulle weet nie waar om te begin Bybelstudie doen nie. Daarom is dit ‘n goeie idee om ‘n plan te hê waarvolgens jy werk.

Jy kan ‘n Bybelstudie, wat iemand geskryf het, by jou plaaslike boekwinkel koop en deur dit werk.

Of jy kan leer om self Bybelstudie te doen deur van die metodes wat ek op Bybel En Gebed beskryf, te gebruik. Daar is ook Bybelstudie-planne wat jy kan aflaai sodat jy weet waar om elke keer Bybelstudie te doen.

Jy kan selfs gewone Bybelleesplanne gebruik en die gedeeltes wat aangedui word, studeer.

Die idees hierbo is soos ‘n ‘padkaart’. Elkeen sal vir jou wys waar om te begin, waar jy volgende heengaan, en waar jy gaan eindig.

As jy graag wil leer om self Bybelstudie te doen, vul jou inligting hieronder in. Ek sal dan vir jou die Bybelstudiemetode-e-boek stuur. In dié boekie is daar ‘n paar eenvoudige studiemetodes wat jy in jou studietyd kan gebruik.

STUDEER SAAM MET IEMAND ANDERS.

Party mense leer ‘n nuwe gewoonte makliker aan wanneer hulle dit saam met ander mense doen.

As jy dink dit gaan jou help, kry iemand saam met wie jy Bybelstudie kan doen.

Jy kan by die Bybelstudie-groep by jou kerk aansluit. Of jy kan ‘n paar vriendinne bymekaar kry en julle eie Bybelstudie-groep begin.

Jy kan selfs net een vriendin hê saam met wie jy Bybelstudie. En julle hoef nie fisies bymekaar te wees om dit te doen nie. Elkeen kan op haar eie tyd studeer. Kom dan agterna bymekaar en vertel vir mekaar wat julle geleer het.

Op dié manier gaan julle mekaar motifeer om by julle Bybelstudie-roetine te hou.

MOENIE MOED OPGEE NIE.

Die duiwel wil nie hê jy moet ‘n Bybelstudie-roetine hê nie. Hy sal enige iets doen om jou planne in die wiele te ry.

Maar moenie toelaat dat hy jou van stryk bring nie.

As jy agterkom jy het ‘n week of twee lank nie jou Bybelstudie-roetine gevolg nie, begin net weer. Gaan aan waar jy opgehou het in die Bybelstudieboek wat jy deurwerk of plan wat jy volg.

Hou aan om dit te doen. Selfs al begin jy tien keer weer, dan is dit ook goed.

Moet net nooit moed opgee en heeltemal ophou nie.

Onthou ook om die Here te vra om jou te help om die roetine deel van jou lewe te maak.

En moenie vergeet om enige vordering wat jy maak, te vier nie.

Dis dalk net ‘n klein bietjie vordering, maar dis vordering!

Wees bly daaroor, sê vir die Here dankie daarvoor, en gebruik dit om jou aan te moedig om te bly vorentoe gaan.

NOG ARTIKELS WAT JOU KAN HELP.

Hier is nog ‘n paar artikels wat jy kan lees om jou te help met jou Bybelstudie-roetine.

BYBELSTUDIEWENKE VIR JOU STILTETYD

LEES DIE BYBEL – ‘N PLAN VIR 2022

DOEN SELF BYBELSTUDIE – 7 MAKLIKE STAPPE

BYBELSTUDIEWENKE VIR BEGINNERS

Deel hierdie blad

7 comments

  1. Baie dankie vir al die wonderlike inligting wat jy met ons deel,ek is so opgewonde. Ek wil self leer hoe om bybelstudie te doen. Ek sal van jou metodes gebruik maak,en wil dit eers alleen doen. Baie baie dankie. Wees geseend.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *