MOEDERSDAG – VERSE UIT DIE OU TESTAMENT

Moedersdag - verse uit die Ou Testament

Moedersdag bied vir elkeen van ons die geleentheid om vir ons ma’s dankie te sê vir wat hulle vir ons in die lewe beteken.

Sommige van ons het nie meer ‘n ma wat hier op aarde leef nie, maar dit beteken nie ons het van haar vergeet nie! En, al is sy dalk nie meer hier nie, is dit steeds ‘n geleentheid om haar te onthou en te eer vir wat sy alles vir jou gedoen het.

Vandag wil ek graag ‘n paar Bybelverse vir Moedersdag met jou deel. Maak gebruik van die geleentheid en spandeer hierdie Moedersdag tyd saam jou ma of jou kinders. Lees die Bybelverse in hierdie artikel vir mekaar. Herinner mekaar aan dié dinge wat ‘n ma vir haar kinders doen en aan die liefde wat daar tussen ‘n ma en haar kinders is.

VERSE UIT DIE OU TESTAMENT.

Jesaja 49:15: Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie.

‘n Ma vergeet nie maklik om na haar baba te kyk nie. Selfs ‘n vrou wat vir die eerste keer ma geword het, weet wat sy moet doen om na haar kindjie te kyk. God vergeet ook nie om na ons te kyk nie. Hy versorg Sy kinders en voorsien wat hulle nodig het. Hy beskerm hulle en help hulle om op die regte pad te bly.

Spreuke 22:6: Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie.

Hierdie vers verseker ons dat ‘n kind wat grootgemaak is om God en Sy Woord te volg, altyd die regte pad sal loop.

Spreuke 6:20-22: My seun, hou by die gebod van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie. Bind dit voortdurend aan jou hart, bind dit om jou nek. Wanneer jy rondgaan, sal dit jou lei; wanneer jy slaap, sal dit oor jou wag hou; wanneer jy wakker word, sal dít jou besig hou.

Spreuke 11:16: ‘n Bekoorlike vrou palm eer in, maar geweldenaars palm rykdom in.

Spreuke 14:1: Die wyses onder vroue bou elkeen haar huis, maar sotheid breek dit eiehandig af.

Genesis 3:20: Die mens het sy vrou “Eva” genoem, want sy is die een wat die moeder geword het van almal wat lewe.

VERSE UIT PSALMS.

Psalm 127:3: Kyk, seuns is ‘n erfdeel wat van die Here kom; die vrug van die moederskoot is ‘n beloning.

Kinders is ‘n geskenk uit God se hand. Daarom moet ons Hom gereeld dank vir die kinders wat Hy vir ons gegee het.

Psalm 139:13: Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het.

God het jou gemaak. Hy het jou presies volgens Sy unieke plan in jou moeder se skoot geskep. Daarom is jy uniek. Daar is niemand anders soos jy nie!

Psalm 113:9: Hy wat aan die onvrugbare vrou van die huis ‘n tuiste gee – ‘n gelukkige moeder van kinders. Halleluja!

DIE SPREUKE 31-VROU.

Spreuke 31:10-12: ‘n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan besittings sal dit hom nie ontbreek nie.

‘n Vrou wat knap is, is flink, fluks en bekwaam.

Spreuke 31:28–29: Haar kinders tree na vore en noem haar gelukkig; haar man, hy besing haar lof: “Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal.”

Elke vrou, of sy nou ‘n ma is of nie, het bemoedinging, ondersteuning en opbouende woorde nodig. Moenie vergeet om elke dag, maar veral op Moedersdag, die vroue na aan jou op te bou met woorde nie.

Spreuke 31:30-31: Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; ‘n vrou wat vir die Here ontsag het, sy moet geprys word. Gee aan haar ‘n deel van die vrug van haar hande; mag hulle haar in die stadspoorte vir haar dade prys!

Sjarme en skoonheid kan met die tyd verdwyn. Maar ‘n vrou wat God ken en Hom dien, is altyd ‘n seën vir ander en ‘n vreugde vir die Here.

Noudat jy deur al die verse gelees het, moenie vergeet om die Here te dank dat Hy vir elkeen van ons ‘n ma gegee het nie!

Deel hierdie blad

2 comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *