
Ek weet nie van jou nie, maar dis vir my lekker as ek ‘n Bybelstudie-metode of stiltetydmetode het waar elke stap met dieselfde letter begin of waar die stappe ‘n woord vorm, sodat ek dit maklik kan onthou.
As jy die Bybelstudie-metode e-boekie deurgewerk het, sal jy weet daar is byvoorbeeld die BAAT-metode. Dit staan vir Bepaal, Aandui, Aanmoedig en Toepassing – die stappe wat jy volg wanneer jy die metode gebruik.
Vandag wil ek drie maklike Bybelstudie-metodes met jou deel, wat jy kan gebruik as jy ‘n beginner is, wat op dié manier werk. Al drie metodes se stappe begin met dieselfde letter – P, R of S – wat dit natuurlik baie makliker maak om te onthou wat die stappe is wat jy moet volg.
Kom ons kyk in kort na elkeen van die metodes en hoe die stappe van elke metode, werk.
DIE 5 P’s VIR BYBELSTUDIE.
Hierdie metode help jou om met insig en doelgerig die Bybel te bestudeer:
Plaas – Lees die vers of gedeelte in konteks. Waar in die Bybel staan dit? Wat gebeur voor en na die teks?
Persoon – Wie praat? Met wie word daar gepraat? Watter persone word genoem?
Punt – Wat is die kernboodskap van hierdie teks? Wat wil God hier sê?
Prakties – Wat leer ek hieruit? Hoe kan ek dit in my lewe toepas?
Praat – Bid oor wat jy geleer het. Jy kan ‘n kort gebed neerskryf en dit dan tot die Here bid.
DIE 4 R’e VIR BYBELSTUDIE.
Hierdie is ‘n eenvoudige en kragtige manier om God se Woord met aandag en oorgawe te bestudeer:
Raak Stil – Lees die teks stadig en met ‘n nederige hart. Lees dit meer as een keer, en as dit moontlik is, gebruik ‘n paar verskillende vertalings. Wees ontvanklik vir wat die Here wil sê.
Raak Opmerkend – Merk sleutelwoorde en belangrike waarhede. Skryf neer wat jy sien oor God, Sy karakter, beloftes of opdragte. Gebruik ‘n notaboek of joernaal om alles wat jy leer en raaksien, neer te skryf.
Raak Bewus – Dink na oor die betekenis van die teks en hoe dit op jou lewe van toepassing is. Wat sê God vandag vir jou deur hierdie gedeelte?
Reageer – Hoe kan jy in geloof en gehoorsaamheid reageer op dit wat jy geleer het? Vra die Here se hulp om Sy Woord te leef.
DIE 5 S’e VIR BYBELSTUDIE.
Dié een is ‘n maklike metode om diep en persoonlik met God se Woord te werk:
Stilword – Soek ‘n stil plek waar daar niks is wat jou aandag kan aftrek nie en jy dus jy sonder afleiding tyd saam met die Here kan spandeer. Berei jou hart voor om Sy stem te hoor.
Studeer – Lees die teks ‘n paar keer, dalk in verskillende vertalings. Skryf in jou eie woorde neer wat jy verstaan.
Sien Die Waarheid – Let op geestelike beginsels in die teks. Wat leer jy oor God, Sy karakter en Sy wil?
Soek Toepassing – Vra vir jouself: Wat sê God vir my persoonlik? Hoe raak dit my lewe of denke?
Stel ‘n Plan Op – Besluit hoe jy gaan reageer op wat die Here jou gewys het. Skryf ‘n aksieplan neer. Onthou dat jou plan iets moet wees wat jy so gou as moontlik in jou lewe kan uitvoer.
Dit is dan drie van die maklike Bybelstudie-metodes wat jy kan probeer wanneer jy ‘n beginner is en op soek is na ‘n spesifieke studiemetode om te gebruik. Onthou om altyd, voor jy enige van die metodes gebruik, eers te bid en die Here te vra om jou te help met jou studie. Bid ook na die tyd, selfs al is gebed nie die laaste stap van jou studiemetode nie, en vra die Here om jou te help om uit te leef wat jy geleer het.