
Het jy al ooit met jou Bybel voor jou gesit en gewonder: “Waar begin ek? Wat beteken hierdie vers regtig?” Jy is nie alleen nie. Baie kinders van die Here voel so. En hoewel jy regtig net jou Bybel en ‘n oop hart nodig het om God se Woord te bestudeer, is daar sekere hulpmiddele wat jou kan help wanneer jy Bybelstudie doen.
Hier is ‘n paar van die nuttigste hulpmiddele wat jy kan gebruik om jou tyd in die Woord meer betekenisvol te maak.
STUDIEBYBEL.
‘n Mens kan enige Bybel gebruik wanneer jy Bybelstudie doen, maar ‘n Studiebybel is altyd ‘n goeie belegging. En jy hoef dit nie net vir Bybelstudie te gebruik nie, jy kan dit sommer as jou elke-dag-leesbybel ook gebruik. ‘n Studiebybel bevat notas wat historiese konteks, kulturele agtergrond, moeilike terme en verduidelikings oor verskillende verse gee. Dit help jou om die teks nie net oppervlakkig te lees nie, maar regtig te verstaan.
Van die bekende Studiebybels is die Nuwe Lewende Vertaling Studiebybel, die Bybel In Praktyk, die Life Application Study Bible, of die ESV Study Bible.
Wanneer jy besluit om in so ‘n Bybel te belê, maak seker dit het ten minste ‘n paar van die volgende:
- Skrifverwysings of kruisverwysings;
- ‘n Oorsig van die hooftemas van elke boek;
- Agtergrondnotas;
- Tydlyne, kaarte en diagramme;
- Verduidelikings van verse.
BYBELKOMMENTARE.
Bybelkommentare is boeke waar Bybelkenners vers-vir-vers of gedeelte-vir-gedeelte verduidelik wat in die Bybel staan. Dit kan jou help om die oorspronklike taal, kultuur en konteks van ‘n gedeelte beter te verstaan. Daar is sommer baie verskillende kommentare beskikbaar. Maar jy hoef gelukkig nie ‘n klomp fisiese boeke te gaan koop om kommentare te gebruik nie, want daar is heelwat van hulle aanlyn beskikbaar. Hier is ‘n paar skakels:
StudyLight Kommentaarblad (Engels)
Blue Letter Bible (Engels, met oorspronklike Griekse/Hebreeuse hulp)
Enduring Word Commentary (Engels, duidelik en maklik verstaanbaar)
BYBELSE ENSIKLOPEDIEë EN WOORDEBOEKE.
Hierdie bronne help jou om vinnig agtergrondinligting te kry oor mense, plekke, gebruike, feeste en dinge wat in die Bybel genoem word. Party sluit selfs foto’s, kaarte en illustrasies in.
‘n Paar nuttige opsies wat jy kan probeer:
- Bybelse Ensiklopedie
- Handboek By Die Bybel
- The Zondervan Pictorial Bible Encyclopedia
- Illustrated Bible Dictionary
- Bible Hub – Encyclopedia (aanlyn, gratis)
‘n JOERNAAL OF NOTABOEK.
Dit maak nie saak of jy Bybelstudie doen of jou Bybel tydens stiltetyd lees nie, dis altyd ‘n goeie idee om neer te skryf wat jy leer, hoor, en ervaar wanneer jy tyd met God spandeer. Dit help jou om te fokus én te onthou. Jy kan vir jou ‘n mooi joernaal koop wat jy net vir jou tyd in die Woord gebruik. Maar jy kan ook ‘n gewone skryfboek, soos die skoolkinders gebruik, gebruik. Skryf vrae neer, maak aantekeninge oor insig wat jy kry of dinge wat jy leer, of skryf ‘n gebed as reaksie op wat jy gelees het.
BYBELNAAM-DUIMDRUKKE.
Nie almal van ons weet presies waar elke boek in die Bybel is nie. En dit kan tyd vat as jy eers voor in die Bybel moet kyk waar ‘n spesifieke boek is, voor jy dit kan naslaan. Daarom is Bybelnaam-duimdrukke ‘n goeie idee. Daar is Bybels wat sulke duimdrukke het, maar as jou Bybel dit nié het nie, kan jy dit by baie skryfbehoeftewinkels koop en self in jou Bybel plak. Dit maak dit soveel makliker om tussen boeke te beweeg – veral as jy ‘n gedeelte tydens ‘n preek of Bybelstudie wil naslaan.
BYBELSTUDIEGIDSE.
As jy nog nie seker is hoe om self Bybelstudie te doen nie, is dit regtig nuttig om eers ‘n studie, wat iemand anders opgestel het, deur te werk. Dit help jou om gewoond te raak aan vrae, patrone en maniere van dink oor die teks.
Daar is baie Bybelstudiegidse of -boeke in boekwinkels beskikbaar. Jy kan gerus ook kyk na die Gelykenisse van Jesus Bybelstudie in ons aanlyn-winkel. In dié studie kyk ons na die gelykenisse wat Jesus vertel het. Ons doen ook Bybelstudie oor die sleutelonderwerpe van elke gelykenis.
BYBELSTUDIE-METODES.
‘n Bybelstudie-metode gee vir jou struktuur vir jou studie. Of jy nou die WIT-metode, die SOAP-metode, die 5 P’s- of 4 R’e-metode gebruik – om ‘n plan te hê help jou om nie verlore te voel nie.
Onthou dat ons ‘n Bybelstudie-metode boekie het wat jy gratis kan aflaai. As jy dit graag wil ontvang, vul dan net jou inligting hieronder in en ek stuur dit vir jou.
BONUS: DIGITALE HULPMIDDELE.
Daar is vandag ook uitstekende aanlyn-hulpmiddele wat jy gratis of teen ‘n klein fooi kan gebruik:
YouVersion Bible App – met verskeie vertalings en leesplanne.
Logos Bible Software (gratis en betaalde weergawes) – vir gevorderde studie.
BibleProject – gratis videos wat elke boek en tema van die Bybel visueel verduidelik.
ScriptureTyper of Verses app – help met memorisering van Bybelverse.
DIE BELANGRIKSTE HULPMIDDEL.
Al hierdie hulpmiddele is baie nuttig en kan jou tyd in die Woord ryker en voller maak. Maar sonder die hulp van die Heilige Gees gaan die ander hulpmiddele jou ook net sover bring. Maak dus altyd ‘n punt daarvan om, voor jy met Bybelstudie begin, die Heilige Gees te vra om jou te help. Sy hulp is van onskatbare waarde, want uiteindelik is dit nie hulpmiddele wat ons verander nie, maar God self.
Laat weet my gerus watter hulpmiddele jy reeds gebruik of wil probeer. En onthou: dit gaan nie oor hoeveel hulpmiddele jy gebruik nie, maar oor Wie jy leer ken!
Ek wil graag bybelstudie doen en sal dit waardeer indien julle my sal inteken op hierdie groep
Hallo Annette. Daar is ‘n vorm op elke blad waar jy net jou inligting moet invul sodat jy kan inteken op ons weeklikse nuusbrief.