Die Swaard Bybelstudie Metode is ‘n eenvoudige studiemetode wat jy dadelik kan begin gebruik om jou Bybel te bestudeer.

As jy die woorde ‘Bybelstudie metodes’ op Google intik, kry jy sommer ‘n hele klomp verskillende metodes wat jy kan gebruik.
Sommige van dié metodes is bietjie meer ingewikkeld terwyl daar ander is wat baie eenvoudig is.
Nou dink jy dalk dat die ingewikkelder metodes jou meer oor die Bybel gaan leer, maar dis nie noodwendig waar nie.
Soms is dit juis die eenvoudiger Bybelstudie metodes wat jou help om dinge in die Bybel raak te sien.
Vir die volgende drie weke gaan ons hier op Bybel En Gebed ‘n bietjie kyk na ‘n paar van hierdie studiemetodes.
Omdat daar ‘n hele klomp studiemetodes is, en ons nie na almal gaan kyk nie, het ek vir jou ‘n gratis Bybelstudie metodes e-boek bymekaar gesit. Daarin verduidelik ek tien verskillende studiemetodes wat jy kan gebruik. Laai die e-boekie af, lees daardeur en besluit watter metode jy gaan gebruik. Dalk is daar meer as een wat jou aandag trek. Gebruik dan ‘n paar weke die een metode, dan weer die ander een. Op dié manier sal jy gou uitvind watter metode vir jou gaan werk!
DIE SWAARD BYBELSTUDIE METODE.
Vandag gaan ons kyk na ‘n baie maklike en eenvoudige Bybelstudie metode. Dit word die Swaard Bybelstudie metode genoem.

‘n Mens dink nie altyd daaraan nie, maar ‘n swaard bestaan uit vier dele: ‘n punt, ‘n handvatsel, en die snykant, wat uit ‘n linker- en ‘n regterkant bestaan.
In Hebreërs 4:12 lees ons: “Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.”
Hierdie prentjie van die swaard help ons om te onthou watter ses vrae ons moet vra van elke skrifgedeelte waarmee ons besig is.
WAT LEER DIT MY OOR GOD?
Die Bybel is ‘n boek oor God. Daaruit leer ons wie Hy is en wat Hy doen.
Die punt van die swaard wys na die hemel, na God.
Daarom is ons eerste vraag dan ook oor God.
Na jy die skrifgedeelte wat jy wil studeer ‘n paar keer deurgelees het, vra jouself hierdie vraag: Wat leer hierdie gedeelte my oor God?
Sommige skrifgedeeltes leer ons iets oor God se karakter. Ander leer ons wat God doen. Dan is daar skrifgedeeltes waar ons leer hoe God dink of hoe Hy voel.
Kom ons gebruik die Swaard Bybelstudie metode sommer nou en kyk wat ons uit ‘n gedeelte in die Woord kan leer.
VOORBEELD: MATTHEUS 9:1-8.

Wat leer hierdie gedeelte ons oor God?
- Jesus sien die mense wat die verlamde man na Hom bring, se geloof. God sien ons geloof in die dinge wat ons doen.
- Jesus stel die man gerus. God is by ons wanneer ons deur moeilike dinge gaan. Hy wil ons ook gerusstel sodat ons kan aanhou glo.
- Jesus vergewe die man se sonde. Dit maak nie saak wat ons verkeerd gedoen het nie, God het ons in Jesus klaar daarvoor vergewe.
- Jesus weet wat die skrifkenners dink. God weet wat in ons harte en gedagtes aangaan. Ons kan dit dalk vir mense wegsteek, maar nie vir God nie.
- Jesus genees die man. Daar is geen siekte, kwaal of gestremdheid wat God nie kan, en wil, genees nie.
- God gee gesag aan mense.
Ek het die antwoorde op die vraag kort gehou, sodat jy net ‘n idee kan kry van hoe die metode werk. Jy kan natuurlik uitbrei op elkeen van die antwoorde. Dink daaroor na en laat die Heilige Gees toe om jou meer te leer. En, as Hy jou herinner aan ‘n ander skrifgedeelte wat met dié gedeelte verband hou, gaan lees dit. Jy sal verseker nóg meer leer.
WAT LEER DIE GEDEELTE MY OOR MENSE?
Die handvatsel van die swaard op ons prentjie wys na onder. Dit wys ons na mense.
Die volgende vraag gaan dan ook oor mense.
Noudat jy alles neergeskryf het oor wat jy oor God geleer het, vra jouself: Wat leer die gedeelte my oor mense?
Wat leer die skrifgedeelte oor mense in die algemeen? Waarom tree hulle op soos hulle optree? Waarom dink hulle en voel hulle soos hulle dink en voel? Met wie identifiseer jy en hoekom?
Hierdie vraag gaan jou help om jouself, en ander, beter te verstaan.
‘N KYKIE NA ONS VOORBEELD.
In die gedeelte uit Mattheus 9:1-8 leer ons die volgende:
- Die verlamde man se vriende het hom na Jesus toe gebring. Vriende staan mekaar by en help mekaar wanneer hulle in nood is.
- Die skrifkenners was nie beïndruk met wat Jesus gedoen het nie. Mense sien nie altyd vir God in ‘n situasie raak nie, en dan kla hulle oor wat Hy doen.
- Die verlamde man gehoorsaam Jesus se opdrag. Ons as mense het ‘n keuse wanneer God ons ‘n opdrag gee. Ons kan besluit om te gehoorsaam en goeie vrugte pluk. Of ons kan besluit om God se opdrag te ignoreer. As ons kies om dít te doen, gaan daar ook vrug wees. En ons gaan beslis nie baie van daardie vrugte hou nie!
- Die skare het God geprys. Wanneer ons God se hand in ‘n situasie raaksien, moet ons Hom altyd die eer daarvoor gee.
Na jy die vraag oor mense geantwoord het, dink ‘n bietjie oor jouself. Wat leer jy oor jouself uit die gedeelte? Hoekom tree jý op soos jy optree? En hoekom dink jy of voel jy soos jy dink en voel?
WAT WIL GOD Hê MOET EK DOEN?
Die lem van die swaard het twee snykante – een links en een regs.
Hierdie snykante herinner ons daaraan om te vra wat God wil hê ons moet doen.
Die linkerkantste deel van die lem fokus op ‘n sonde om te vermy of belofte om te glo.
Die regterkantste deel fokus op ‘n voorbeeld om te volg of opdrag om te gehoorsaam.
Gehoorsaamheid aan God is die sleutel tot geestelike groei. Dit help ons ook om die Woord beter te verstaan.
WAT LEER ONS UIT ONS VOORBEELD?
Kom ons kyk nou weer na ons skrifgedeelte.
- ‘n Sonde om te vermy is die gemor van die skrifgedeeltes. Jesus sê hulle bedink bose dinge in hulle harte. Ons moet versigtig wees met wat in ons harte en gedagtes aangaan, want dit kom altyd op een of ander stadium by ons monde uit.
- Hier is nie ‘n belofte in die gedeelte nie, maar wel ‘n waarheid wat ons moet glo. Jesus is die Seun van God en Hy het volmag om sonde te vergewe. Glo jy dat Hy jou sondes vergewe het?
- Die mense wat die verlamde man na Jesus toe gebring het, is vir ons ‘n goeie voorbeeld om te volg. Hulle het hulle vriend in sy nood bygestaan en hom na Jesus toe gebring. Ons moet ons vriende ook so bystaan. Ons kan vir hulle bid en, waar dit moontlik is, hulle ook fisies bystaan.
- Die skare het God geprys vir wat hulle gesien het. Ons moet God se hand in ons lewens raaksien en Hom die eer daarvoor gee.
DIE SWAARD BYBELSTUDIE METODE.
Die Swaard Bybelstudie metode is seker een van die maklikste metodes wat jy kan gebruik. Dis só maklik dat jy dit selfs vir jou kinders kan leer!
Dit is ook ‘n goeie metode om vir ‘n nuwe gelowige te leer sodat hy/sy kan begin om die Bybel te bestudeer.
Onthou net dat elke skrifgedeelte nie noodwendig al die vrae wat jy met die Swaard Bybelstudie metode vra, gaan antwoord nie. As jy nie ‘n vraag kan antwoord nie, moenie bekommerd raak nie! Antwoord net die vrae waarvoor jy antwoorde raaksien. En vertrou die Heilige Gees om jou meer te wys, soos jy leer om die Swaard Bybelstudie metode te gebruik.
Hierdie studiemetode is baie effektief omdat dit die Woord toelaat om met jou praat. Jy maak ook jou hart vir die Heilige Gees deur die verskillende vrae te vra.
As jy meer oor Bybelstudie metodes wil weet, vul dan jou inligting hieronder in en laai die Bybelstudie Metode e-boek af. Lees sommer gou daardeur en besluit watter studiemetode jy eerste gaan beproef!
LEES OOK: DIE ‘INDUCTIVE’ BYBELSTUDIE METODE – DEEL 1, DEEL 2 EN DEEL 3

Hi môre Rosa ek het ingeteken by u Ebook ek dankbaar en ek is bly dit is n interesant en ek waardeer dit
Dis sommer ‘n groot plesier!
Goeie dag Risa,
Ek het n rukkie terug ingeteken op jou nuusbrief en dit is vir my regtig n blessing.
Ek het vanoggend die mail vir verskillende Bybelstudie metodes gesien en my besonderhede submit vir die gratis E-boek maar ek kry nie n mail vir die skakel om dit af te laai nie.
Ek het al twee keer probeer.
Kan jy my dalk help, want ek wil vanaand nog begin want ek sukkel met my daaglikse Bybelstudie. Baie dankie en blessings, Wimpie