DIE EVANGELIE VOLGENS MARKUS – ‘N INLEIDING

As jy ingeteken het vir ons aanlyn-Bybelstudie, dan het jy Vrydag reeds jou eerste studiestuk gekry. Vandag gaan ons ‘n bietjie kyk na ‘n paar interessante dinge omtrent die Evangelie volgens Markus, voordat ons volgende week meer gaan fokus op elke hoofstuk en wat ons daaruit kan leer.

Die Evangelie volgens Markus - 'n Inleiding

AGTERGROND.

Die Evangelie volgens Markus is geskryf deur Markus, maar niemand is presies seker watter Markus nie. Meeste geleerdes meen egter dat dit dieselfde Markus is van wie ons ook elders in die Bybel lees.

Markus was self nie ‘n dissipel nie, maar hy het nou met Petrus saamgewerk. Hy het waarskynlik sy inligting by hom gekry. Hy het Petrus, en ook andere, se vertellinge oor Jesus se lewe en leringe neergeskryf om dit te bewaar.

Die Evangelie is iewers tussen 50 en 70 AD geskryf, en is die eerste van die Evangelies wat geskryf is.

Hoewel ons nie seker is waar Markus was toe hy die Evangelie geskryf het nie, is dit moontlik dat hy in Sirië of selfs Rome was.

Die Evangelie is geskryf aan die heidene wat nou Christene is. Juis omdat hy aan mense skryf wat nie Jode is nie, verduidelik hy baie keer die Joodse gebruike en vertaal hy die Aramees vir sy lesers.

TEMAS VAN DIE EVANGELIE.

Jesus is die tema van die Evangelie volgens Markus. Dit gaan alles net oor Hom. Maar in hierdie Jesus-tema kan ons vyf verskillende temas identifiseer.

a. Jesus, die Seun van God.

Markus se skrywe openbaar Jesus se gesag as ‘n leermeester.
Hy wys dat Jesus die gesag het om sondes te vergewe.
Verder wys hy dat Jesus gesag het oor die Sabbat, onrein geeste, die natuur, die Wet, die tempel en die geheimenis van die Koninkryk van God.

b. Jesus, die Seun van die Mens.

Jesus deins nie, soos die godsdienstige leiers, weg van dinge wat Hom onrein kan maak nie. Hy skram nie weg van tollenaars, sondaars en prostetute nie. Hy wys Sy deernis en toeganklikheid deur met mense te assosieer, aan hulle te raak en saam met hulle te eet.

c. Jesus, die Messias.

Jesus se verwerping, lyding en dood was die middelpunt van God se verlossingsplan. Markus wys duidelik hoe die dissipels aanvanklik nie Jesus se identiteit en rol as Messias verstaan en herken nie.

d. Jesus, ‘n model van lyding.

Jesus het openlik oor Sy lyding en dood gepraat. Hy het ook die dissipels gewaarsku dat hulle vervolging en verdrukking sal ervaar as gevolg van hulle geloof in Hom.

e. Jesus, die Verlosser van almal wat glo.

Jesus is die Verlosser van almal wat Hom in geloof aanvaar. Markus fokus op Jesus se bediening in die Heidense gebiede. Hy verduidelik Joodse terme en gebruike. Hy skryf oor ‘n heiden se beleidenis van geloof (15:39), die uitstuur van die eerste heidense sendeling (5:18-19) en hy noem die tempel ‘n “huis van gebed vir al die nasies” (11:17).

Jesus was die Seun van God, wat mense geleer en wonderwerke gedoen het. Maar Hy was ook ‘n Dienskneg van God, wat vir die sondes van die mensdom aan die kruis kom sterf het.

LEES OOK: DIE NUWE LEWE IN JESUS CHRISTUS

JOHANNES DIE DOPER.

In Markus 1 maak ons kennis met Johannes die Doper.

Net soos Jesus se geboorte ‘n wonderwerk was, was Johannes s’n ook een. Sy ouers was al die jare kinderloos, en toe sy geboorte aangekondig is, reeds op gevorderde ouderdom. Maar ‘n engel verskyn aan sy pa, Sagaria, terwyl hy tempeldiens doen en kondig Johannes se geboorte aan.

Johannes het sy bediening in die woestyn. Hy dra klere van kameelhaar en ‘n leergordel. Dit is egter onwaarskynlik dat dit die duur, gevlegde kameelhaar kledingstuk was, maar eerder klere wat van kameelvel gemaak is. Sommige geleerdes vermoed dat Elia se mantel ook hiervan gemaak was (2 Konings 1:8).

Dan leer ons ook uit Markus dat hy geleef het van sprinkane en heuning. Sprinkane was volgens die Wet rein, dus mag die Jode dit geëet het.

Volgens Lukas 1:16 het Johannes voor die Here uitgegaan in dieselfde gees en krag as Elia.

Hy het die mense voorberei vir die koms van die Messias.

In daardie tyd was dit gebruiklik om ‘n boodskapper vooruit te stuur, om die koms van ‘n koning aan te kondig. Die mense kon hulleself dus voorberei vir die koms van die koning.

MARKUS IN ‘N NEUTEDOP.

Markus begin sy Evangelie deur te vertel van Jesus, die Seun van God, wat wonderwerke doen en mense met eenvoudige verhale leer oor die Koninkryk van God.

Ons sien hoe die mense in verwondering is oor Jesus.

Dan kom daar ‘n keerpunt.

Nou lees ons van die Seun van God wat moet ly en sterf sodat mense kan leef en met God versoen kan word.

Om regtig te weet wie Jesus is, moet ons hierdie twee dele van Markus se Evangelie goed bekyk.

Alleenlik wanneer ons altwee fasette van Jesus as Persoon kyk, sal ons verstaan wie Hy regtig is.

Ek weet nie of jy vir die volgende sestien weke die Markus Bybelstudie saam met ons doen nie, maar as jy dit nie doen nie, kom maak in elk geval elke Maandag ‘n draai op die blad.

Ons gaan elke week kyk na ‘n ander hoofstuk van Markus, en saam leer wat God vir ons in die hoofstuk wil sê.

Deel hierdie blad

4 comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *