God gee nie aan Sy kinders ‘n gees van vreesagtigheid of lafhartigheid nie. Die gees in ons is een van krag, liefde en selfbeheersing.

‘n Paar dae gelede word ek die nag wakker met 2 Timotheus 1:7 wat in my kop rondmaal.
“Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (Sommige van die Engelse vertalings vertaal die laaste woord nie as ‘self-control’ nie, maar as ‘a sound mind’.)
Die res van die nag het die Here vir my dinge gewys omtrent hierdie vers. Ek het nou en dan aan die slaap geraak, maar elke keer wat ek wakker geword het, het ek weer oor die vers gedink.
Die volgende oggend, tydens my stiltetyd, het ek alles wat ek kon onthou, neergeskryf. Ek wil dit vandag met jou deel.
NIE ‘N GEES VAN VREESAGTIGHEID NIE.
Ek is seker jy het al iemand hierdie vers hoor aanhaal. In só ‘n aanhaling is die klem gewoonlik op die eerste deel van die vers.
En dit is reg so. Ons moet weet dat God ons nie ‘n gees van vreesagtigheid of lafhartigheid (Nuwe Vertaling) gegee het nie.
Dit is egter ook belangrik dat ons verstaan wat ons wél ontvang het. Ons het ‘n gees van krag, liefde, en selfbeheersing, of ‘n gesonde verstand, soos van die Engelse Vertalings sê.
‘n Mens hoef nie lank op die ou aarde te leef om uit te vind dat daar baie dinge is wat mense bang maak nie.
Sommige van ons vrese het ‘n grondige rede terwyl ander maar bietjie vreemd is.
Dit maak egter nie saak waarvoor ons bang is nie, die Here sê vir ons in Sy Woord om nié bang te wees nie.
Ek het al gehoor daardie woorde, of woorde wat dieselfde impliseer, staan 365 keer in die Bybel! Ek weet nie of daar regtig presies soveel verse is nie, maar ek weet die stelling staan sommer baie keer in die Woord.
PSALM 91: BELOFTES VAN BESKERMING.
Nou mag jy dalk wonder waarom God vir ons sê dat ons nie bang moet wees nie, as daar so baie dinge is waarvoor mense bang is?
Kom ons begin by hierdie waarheid: Hy is God, en ons is Sy kinders. ‘n Vader waak oor sy kinders en beskerm hulle so goed soos hy kan.
God is nie soos ‘n aardse vader nie. ‘n Aardse vader gaan dit dalk nie altyd regkry om sy kinders te beskerm nie. Maar God se hand van beskerming is altyd oor Sy kinders.
In Psalm 91 sê God as ons op Hom vertrou en Hom sien as ons veilige skuilplek, dan word ons beskut onder Sy vleuels en beskerm Sy trou ons aan alle kante (vs. 2;4).
Wanneer ons Hom aanroep, sal Hy ons verhoor. In nood sal Hy by ons wees, en ons red en eer aan ons gee (vs.14-16).

LIEFDE VERDRYF VREES.
Hier is nog ‘n waarheid: God is liefde (1 Johannes 4:8).
Liefde is nie iets wat Hy doen nie, dit is wie Hy is.
As ons regtig verstaan hoe lief God ons het, sal ons vir niks bang wees nie.
In 1 Johannes 4:18 lees ons God se volmaakte liefde verdryf vrees. As ons dan nog bang is, beteken dit ons het nog nie Sy volmaakte liefde ten volle ondervind nie.
Kom ons kyk vervolgens na ‘n paar waarhede omtrent God se liefde.
GOD SE LIEFDE GEE…
Adam en Eva was in die Tuin van Eden aan God ongehoorsaam en hulle het gesondig. Dít het die verhouding tussen God en die mens verbreek.
God het ons egter te liefgehad om ons te los met ‘n lewe waar ons van Hom geskei is.
Sy liefde vir ons het Hom gedring om Sy enigste Seun vir ons te gee. Dié wat in Hom glo, word gered en kan weer in ‘n verhouding met God staan. Hulle word deel van Sy famile as Sy kinders.
Maar God het nie daar opgehou nie.
In Sy groot liefde het Hy nie net Sy Seun gegee nie, maar saam met Hom skenk Hy ons al die ander dinge uit genade (Romeine 8:32).
Hy het ook vir ons die Heilige Gees gegee as die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat Hy belowe het (Efesiërs 1:13-14).
LEES OOK: JESUS GEE TERUG WAT ONS VERLOOR HET

GOD SE LIEFDE IS…
God se liefde vir ons is onvoorwaardelik. Ons verdien dit nie en ons kan nie daarvoor werk nie. Daar is ook niks wat ons kan doen om God se liefde vir ons meer of minder te maak nie. Hy is lief vir ons omdat dit is wie Hy is.
God se liefde is ewigdurend. Mense se liefde kan op en af gaan. Die een dag is iemand lief vir jou, net om die volgende dag nie meer so te voel nie. Maar God is nie so nie. Sy liefde vir ons sal nooit ophou nie.
OMDAT HY ONS LIEFHET…
God is by ons en vir ons, en daarom hoef ons nooit bang te wees nie.
Die Bybel leer ons in Romeine 8:38-39 dat daar niks is wat ons van Sy liefde kan skei nie. Omdat ons dáárdie versekering het, kan ons met vrymoedigheid ons man staan. Ten volle geklee in die wapenrusting van God, kan ons die duiwel en enige iets wat hy ons kan toe bring, teenstaan.
Omdat ons glo dat God ons liefhet, en omdat ons Sy liefde op soveel manier ervaar, weet ons dat ons nie ‘n gees van vreesagtigheid het nie, maar een van vrymoedigheid.
Ons kan, deur geloof in Jesus, met groot vrymoedigheid voor die troon van genade verskyn. Daar sal ons barmhartigheid en genade ontvang wanneer ons dit die nodigste het (Hebreërs 4:16).
Ons het ook vrymoedigheid omdat die Gees van God in ons woon. In Handelinge 3:12-26 lees ons hoe Petrus, wat uit vrees vir Jesus verloën het, Hom nou met vrymoedigheid verkondig. Die Heilige Gees is kort tevore op die dissipels uitgestort (Handelinge 3:12-26) en daarom het Petrus nou vrymoedigheid. Dieselfde Heilige Gees woon in elkeen van ons as God se kinders. Hý gee ons die vermoë om met vrymoedigheid oor Jesus te getuig, sonder om bang of lafhartig te wees.
WAT IS ONS SLOTSOM?
God is liefde. Hy het Sy liefde vir ons bewys toe Hy ons liefgehad het toe ons nog sondaars was. In Sy groot lief het Hy Jesus gegee het om vir ons te sterf sodat ons weer in ‘n verhouding met Hom kan staan.
Hy het vir ons die heilige Gees gegee om altyd by ons te wees. Hy leer ons wat ons moet weet en help ons om te leef soos God van ons vra. Verder gee Hy ons ook die vermoë om God se wil uit te voer en om Jesus met vrymoedigheid te verkondig.
Nee, God het ons verseker nie ‘n gees van vreesagtigheid of lafhartigheid gegee nie!
Volgende week gaan ons gesels oor die drie (of vier, as mens die Engelse vertaling ook in ag neem!) wat die Here wél vir ons gegee het: krag, liefde, selfbeheersing en ‘n gesonde verstand.
