Hebreërs 11:1: “Geloof is dan ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”
Vandag wil ek ‘n bietjie met jou gesels oor geloof.
Ons het geloof in verskillende natuurlike en algemene dinge, asook in God.

GELOOF IN ‘N PILLETJIE.
As jy ‘n hoofpyn het, gaan jy na die medisynekas en kry vir jou ‘n Disprin of ‘n Adcodol of Grandpa. Jy drink dit en glo dat dit jou hoofpyn gaan wegvat.
Hoekom?
Want die vervaardiger daarvan het op die houertjie waarin die pille kom, die versekering gegee dat dit presies is wat die pilletjie gaan doen as jy dit neem – jou pyn wegvat.

Jy twyfel nie vir ‘n oomblik dat dit gaan werk nie. En, as dit sou gebeur dat jy regtig baie pyn het, en een pilletjie werk nie heeltemal nie, dan drink jy nog een. Weereens met die vaste vertroue dat dit gaan doen wat die vervaardiger sê dit gaan doen – help om pyn weg te neem.
GELOOF IN ‘N VLIEGTUIG.
Nie almal hou van vlieg nie, maar niemand koop ‘n vliegtuigkaartjie met die veronderstelling dat die vliegtuig, na jy jou sitplek ingeneem en die loods tot op die aanloopbaan getaxi het, net daar gaan staan met brullende engins nie.
Nee, jy glo dat daardie lawaaierige engins die vliegtuig gaan laat beweeg, in die lug op vat, en laat vlieg tot by jou eindbestemming.
Jy vertrou die maatskappy, wat die vliegtuig vervaardig, se woord dat hulle vliegtuig veilig is en jou van punt A na punt B kan neem.

Jy vertrou ook die lugredery om hulle beloftes wat aan jou gemaak is, na te kom. Hulle het gesê die vliegtuig vlieg na Kaapstad en dus glo jy dat dit is waarheen jy op pad is en dat jy wel jou vergadering in Kaapstad sal kan bywoon.
Op ‘n internasionale vlug belowe die redery om jou van kos en drinkgoed te voorsien en jy vertrou hulle dat dit wel so sal gebeur en jy nie flou van die honger aan die ander kant gaan uitkom nie.
Jy het geen sigbare bewys dat hulle wel hulle belofte gaan nakom nie, maar jy het vir jou kaartjie betaal, en hulle het belowe dat die kaartjie kos insluit. Jy het net hulle woord, maar dit is goed genoeg, en jy vertrou dat hulle die belofte gaan nakom.
GELOOF IN MENSE.
Op dieselfde manier glo jy die woord van ‘n ander persoon.
Jy glo dat die ou wat aan jou kar werk, sy woord gestand sal doen en regtig nuwe parte gebruik.
Jy glo die bouer gaan by sy kwotasie hou en jou net vra wat hy gekwoteer het.
Jy glo jou kind as sy vir jou sê die juffrou het nie vandag vir haar huiswerk gegee nie.
En jy verwag dat ander mense sal glo wat jy vir hulle sê.
In elkeen van bogenoemde gevalle het jy die woord of belofte van ‘n mens of maatskappy of besigheid.
Jy het die woord van ‘n vervaardiger dat sy produk ‘n spesifieke taak gaan verrig of dat daar ‘n spesifieke uitkoms gaan wees wanneer jy sy produk gebruik.
Jy het die belofte van ‘n maatskappy dat hulle ‘n diens aan jou kan lewer, dat hulle dit met uitnemendheid gaan doen, en dat hulle jou ‘n voorafbepaalde bedrag gaan vra en nie ‘n sent meer nie.
Oral, in elke gebied van jou lewe, het jy te doen met mense wat woorde gebruik om een of ander belofte te maak.
Jy glo daardie woorde. Jy plaas jou vertroue in die mens wat die woorde gesê het, en jy verwag dat dinge presies gaan uitwerk soos hulle beloof het.
Ons sukkel nie regtig om mense te glo en te vertrou nie. Om die waarheid te sê, soms glo ons enige ding wat ons vertel word, selfs dié dinge wat baie duidelik nié die waarheid is nie.
As dit so maklik is om mense se woorde te glo, en ons vertroue in hulle beloftes te stel, waarom is dit vir ons so moeilik om God te glo?
Hy het ook woorde gespreek en belofte gemaak en dit laat opteken in Sy Woord.
Ons leer uit die Woord dat Hy nie kan lieg nie, dat elke woord uit Sy mond die waarheid is (Numeri 23:19; Johannes 17:17).
En, as ons al ‘n ruk lank ‘n pad met Hom gestap het, dan weet ons uit ondervinding dat ons Hom maar kan glo, want Hy doen altyd wat Hy gesê het.
GOD KAN VERTROU WORD.
In Numeri 13 en 14 lees ons die storie van die twaalf verkenners, wat Moses in opdrag van eie Here gestuur het om die land Kanaan te gaan verken. Tien van hulle het ‘n negatiewe verslag oor die land teruggebring. Net twee het geglo dat God dit bedoel het toe Hy gesê het dat Hy die land vir hulle gaan gee.
Ons lees God se reaksie op hulle negatiewe verslag, wat die hele volk se geloof negatief beïnvloed het, in Numeri 14:11, waar God vir Moses sê: “Hoe lank sal hierdie volk My almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?”
Wanneer ek en jy met God se Woord besig is, en ons lees daar ‘n belofte, maar ons glo dit nie regtig nie, dan is ons ook besig om Sy almag te onderskat.

God is wie Hy sê Hy is.
Hy kan doen wat Hy sê Hy kan doen.
En Hy sál doen wat Hy sê Hy sal doen.
Ons kan Sy woorde glo en op Sy beloftes vertrou.
As Hy sê dít is hoe ‘n situasie gaan uitspeel as jy Sy opdragte uitvoer, dan kan jy maar rustig slaap en wéét dit gaan presies so gebeur.
Geloof in God is dus, eenvoudig gestel, om te glo wat Hy vir jou sê.
Dit is om te vertrou dat Sy woorde die waarheid is.
Dit is om dan, omdat jy glo wat Hy vir jou gesê het, dieselfde te sê en ‘n onwankelbare verwagtig te hê dat Sy woorde presies in jou lewe gaan uitspeel, soos Hy gesê het dit gaan.
Psalm 25:5: “Laat U waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting.”

Hallo Risa,oulike pilletjie.Raakvatter.
Ek wil graag iets deel met jou oor `n eenvoudige en praktiese Evangelie.
Kan ek asb aanstuur om jou insig en raad te kry?
Groetnis,
Frans