
As jy gereeld hier op Bybel En Gebed ‘n draai maak, sal jy weet dat ons elke nou en dan gesels oor agtergrond-inligting van ‘n spesifieke Bybelboek, wat vir jou van waarde gaan wees as jy oor daardie boek wil Bybelstudie doen. Hierdie inligting kan ‘n mens nogal help om die boek ‘n bietjie beter te verstaan. Vandag se artikel is deel van dié reeks, so kom ons gesels oor interessante dinge wat jy oor die boek Obadja moet weet.
NAAM VAN DIE BOEK.
Die boek is vernoem na die profeet Obadja, wie se boodskappe daarin opgeneem is. Die naam Obadja beteken ‘dienskneg van die Here’ of ‘aanbidder van die Here’.
WAT SE TIPE BOEK IS OBADJA?
Obadja is ‘n profetiese boek en is deel van ‘n groep Bybelboeke wat ons die Klein Profete noem.
WIE HET DIE BOEK GESKRYF?
Die boek is deur die profeet self geskryf.
VIR WIE IS DIE BOEK GESKRYF?
Obadja se boodskappe was vir die Edomiete en vir die Judeërs wat in ballingskap was. Maar dit is ook van toepassing op al God se kinders, ongeag van watter tyd hulle leef.
ONTSTAANTYD VAN DIE BOEK.
Die boek het waarskynlik sy onstaan gehad na die val van Jerusalem in 586 vC en voor die vyfde eeu vC, toe die Edomiete deur die Nabateërs verdring is.
DOEL VAN DIE BOEK.
Die Here het Obadja gebruik om aan te kondig dat ‘die dag van die Here’ oordeel vir die Edomiete en herstel vir die bannelinge van Juda beteken.
AGTERGROND VAN DIE BOEK.
Vir jare was daar vyandskap tussen Edom, Juda en Israel. In die tyd van Dawid is Edom aan Israel onderwerp. Daarna was Edom soms onderdanig aan die Jode en soms het hulle losgebreek van hulle oorheersing. En toe Babilonië vir Juda inval, blyk dit dat die Edomiete deelgeneem het aan vyandelikhede.
BELANGRIKE KARAKTERS EN PLEKKE IN DIE BOEK.
Die belangrike karakters in die boek is die mense van Edom en die Judeërs in ballingskap.
Daar is ook twee belangrike plekke in die boek, naamlik Edom en Jerusalem.
HOOFTREKKE IN OBADJA.
Obadja se boodskap aan Edom is dat hulle aangeval en vernietig gaan word (vs.1-10) omdat hulle Juda gespot het en die Babiloniërs gehelp het toe hulle Jerusalem aangeval het (vs.11-15).
Vir die ballinge van Juda sê Obadja dat Jerusalem op die ‘dag van die Here’ in sy eer herstel gaan word en dat Edom op daardie dag onderwerp gaan word (vs.15-21).
GOD SE KARAKTER IN OBADJA.
In hierdie boek sien ons dat God nie net die kwaad straf wanneer Hy as Regter optree nie, maar dat Hy ook reg verskaf aan die wat verontreg is.
GELOOFSLESSE IN OBADJA.
Daar is drie geloofslesse wat ons uit die boek kan leer:
- Die Here belowe vir ons oorwinning oor die vyand en daarom kan ons hoop hê vir die toekoms
- Die Here is die Soewereine Heerser oor alle nasies.
- Uit hierdie boek verstaan ons dat vermetelheid en verwaandheid twee van die wortels is waaruit hoogmoed spruit.
JESUS IN OBADJA.
In Obadja sien ons Jesus as die Regter oor die nasies (vs.15-16), die Redder van Israel (vs.17-20) en die Heerser van die Koninkryk (vs.21).
SLEUTELVERSE IN DIE BOEK.
Die sleutelvers is vers 15: “Die dag van die Here is naby, naby vir al die nasies. Wat jy gedoen het, Edom, sal aan jou gedoen word, jou dade sal op jou eie kop afkom.”
Hierdie vers is amper soos ‘n skarnier waarop die boek draai. Die eerste deel van vers 15 is ‘n vooruitwysing na wat in verse 16-21 kom. Die tweede deel gee weer ‘n opsomming van wat in die eerste 14 verse staan.
VERDERE OPMERKINGS.
Hierdie boek gee vir ons ‘n nuwe betekenis aan ‘die dag van die Here’.
In Amos en van die vorige profete het dit ‘n dag van vergelding en straf vir Israel beteken.
In Obadja word dit nou ‘n dag van afrekening vir ander volke. Israel is, as straf, in ballingskap weggevoer en die land wat die Here vir hulle gegee het, is van hulle af weggevat. Maar nou gaan hulle bevry word en hulle gaan hulle land terugkry.
OBADJA IN JOU LEWE.
Uit die boodskappe van Obadja sien ons twee waarhede oor God:
- Hy is regverdig. Toe die Israeliete verkeerd was, het Hy hulle gestraf. En toe hulle straf uitgedien was, het Hy alles omgedraai. Vir ons beteken dit dat die Here nie ons vyande sal ‘terugkry’ nie, maar dat Hy hulle straf vir wat hulle teen Hom verkeerd gedoen het.
- Hy is die Regter. Daar is ‘n ‘dag van die Here’ wat in die toekoms wag. Op daardie dag gaan die Here die ongehoorsames straf en die gelowiges troos. Die belofte dat Israel die land sal terugkry en die rol wat die tempel op Sionsberg op daardie dag sal speel, is simbole van die belangrikheid wat die Here vir alle mense gaan hê.
AS JY MEER WIL WEET.
As jy meer wil weet oor die ander boeke van die Bybel waaroor ons reeds oor gesels het, kan jy gerus HIER ‘n draai maak. Op dié blad is skakels na al die vorige artikels.
En as jy op soek is na ‘n eenvoudige metode wat jy kan gebruik om Jesus beter te leer ken en meer oor Sy Woord te leer, dan is Jesus, Die Bybel, En Jy – ons VOLG-metode e-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is – net waarna jy op soek is. Dié e-gids leer jou nie net hoe die stappe van die VOLG-metode werk nie, maar ook hoe jy dit in jou stiltetyd en ook in jou Bybelstudietyd kan gebruik.
Saam met die e-gids kry jy ook die e-studie, Waag Dit Om Anders Te Wees, sodat jy die VOLG-metode sommer dadelik kan begin gebruik om meer te leer oor dinge wat ons as kinders van God, anders maak as die res van die wêreld.
