
Ons het in die laaste artikel klaargemaak met ons geselsies oor die ses ankers wat Jesus vir die dissipels, en ook vir ons, in Johannes 14 gegee het. Dié hoofstuk is van die laaste woorde wat Jesus vir Sy dissipels gesê het, voor Sy kruisiging. Vandag wil ek teruggaan na ‘n preek wat Hy gelewer het, daar aan die begin van Sy bediening. Jesus het dié preek teen ‘n berghang gelewer en daarom staan dit bekend as die Bergrede. Ons kry dit in Mattheus 5-7.
Daar is baie lesse wat ons uit die drie hoofstukke kan leer, maar ons gaan fokus op die eerste paar verse van hoofstuk 5. In die verse praat Jesus oor die gesindhede wat Hy in almal wat Hom volg, wil sien. Hy noem dan ook elkeen wat hierdie gesindhede het, gelukkig, want God het vir hulle ‘n spesiale beloning.
Dis interessant dat elkeen van die gesindhede net mooi die teenoorgestelde is van dit wat in die wêreld as die norm aanvaar word. Geen wonder dat Jesus die gedeelte afsluit met die waarskuwing dat ‘n mens baie keer teenkanting gaan ervaar wanneer jy probeer om hierdie gesindhede aan te leer en uit te leef nie!
‘n Mens kan lank oor elkeen van die gesindhede gesels, so ek gaan hier vir jou net ‘n paar dinge omtrent elke gesindheid gee. En dan wil ek jou uitdaag om dit wat ek gee te gebruik om self oor elke gesindheid Bybelstudie te doen. Onthou, dis wanneer ‘n mens self Bybelstudie doen dat jy leer hoe om Bybelstudie te doen. Dis ook wanneer jy self saam met God in Sy Woord is, wat Hy jou dinge leer wat spesifiek op jóú van toepassing is.
DIE GESINDHEDE WAT JESUS IN SY VOLGELINGE WIL SIEN.
Daar is agt gesindhede waaroor Jesus in Mattheus 5:3-10 praat.
Vir elke gesindheid gee ek jou ook ‘n vers of verse in die Ou Testament wat daarmee verband hou.
Ek gee ook vir jou ‘n vers of verse wat vir ons wys hoe ons te werk kan gaan om die gesindheid aan te leer.
GESINDHEID: AFHANKLIKHEID VAN GOD.
WAT JESUS GESÊ HET.
Mattheus 5:3: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
OU TESTAMENTIESE VERSE WAT VERBAND HOU.
Jesaja 57:15: “So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ‘n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.”
HOE DIE MENSE IN DIE WÊRELD LEEF.
Hoogmoed en onafhanklikheid is die waardes wat die wêreld aanhang en uitleef.
GOD SE BELONING.
God belowe die Koninkryk van die hemele aan diegene wat hierdie gesindheid het.
HOE OM DIE GESINDHEID AAN TE LEER.
Jakobus 4:7-10: “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”
GESINDHEID: TREURENDES.
WAT JESUS GESÊ HET.
Mattheus 5:4: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”
OU TESTAMENTIESE VERSE WAT VERBAND HOU.
Jesaja 61:1-2: “Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos…”
HOE DIE MENSE IN DIE WÊRELD LEEF.
Die wêreld sê ons moet ons eie geluk najaag en enige iets doen om dit te verseker, selfs al is dit ten koste van andere.
GOD SE BELONING.
God belowe troos vir almal wat treur – “In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig…” (2 Korinthiërs 1:4).
HOE OM DIE GESINDHEID AAN TE LEER.
Jakobus 4:7-10: “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Sien ook Psalm 51.)
GESINDHEID: SAGMOEDIGHEID.
WAT JESUS GESÊ HET.
Mattheus 5:5: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”
OU TESTAMENTIESE VERSE WAT VERBAND HOU.
Psalm 37:5-11: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ‘n skelm nie. Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende. Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hulle vertroue in die Here stel, sal in besit bly van die land. Nog ‘n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie; ‘n mens sal hom soek waar hy was, maar hy sal nie daar wees nie. Dié wat nou verdruk word, sal die land besit en hulle verlustig in hulle welvaart.”
HOE DIE MENSE IN DIE WÊRELD LEEF.
Die wêreld is behep met mag en selfhandhawing.
GOD SE BELONING.
Diegene wat hierdie gesindheid het, sal die nuwe aarde ontvang.
HOE OM DIE GESINDHEID AAN TE LEER.
Mattheus 11:28-30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
GESINDHEID: REGVERDIGHEID EN GEREGTIGHEID.
WAT JESUS GESÊ HET.
Mattheus 5:6: “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”
OU TESTAMENTIESE VERSE WAT VERBAND HOU.
Jesaja 1:5: “Daar is nie meer plek waar nog aan julle geslaan kan word nie, en tog hou julle aan om van My af weg te draai. Die hele kop is vol seerplekke en die hele gestel is verswak.”
Jesaja 42:1-4: “Hier is my dienaar, Ek stel hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan die nasies bekend maak. Hy sal nie roep nie, hy sal nie hard skree nie, hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie. ‘n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ‘n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. Hy sal my wil bekend maak soos dit is. Self sal hy ook nie uitgedoof of geknak word nie totdat hy my wil op aarde gevestig het. Die eilande wag op wat hy hulle sal leer.”
HOE DIE MENSE IN DIE WÊRELD LEEF.
Persoonlike bevrediging is waaroor die wêreld begaan is en wat almal ten alle koste najaag.
GOD SE BELONING.
God belowe volkome tevredenheid vir diegene wat streef na regverdigheid en geregtigheid.
HOE OM DIE GESINDHEID AAN TE LEER.
Filippense 3:7-11: “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”
GESINDHEID: BARMHARTIGHEID.
WAT JESUS GESÊ HET.
Mattheus 5:7: “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
OU TESTAMENTIESE VERSE WAT VERBAND HOU.
Psalm 41:2: “Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke. Die Here sal hom red op die dag van nood…”
HOE DIE MENSE IN DIE WÊRELD LEEF.
Die wêreld is gevul met harteloosheid en elkeen leef net vir homself.
GOD SE BELONING.
Die genade van die Here word belowe aan diegene wat barmhartig is.
HOE OM DIE GESINDHEID AAN TE LEER.
Efesiërs 5:1-2: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir God aanneemlik was.”
GESINDHEID: REIN HARTE.
WAT JESUS GESÊ HET.
Mattheus 5:8: “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
OU TESTAMENTIESE VERSE WAT VERBAND HOU.
Psalm 24:4-5: “Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie. So iemand sal van die Here seën ontvang, en God, sy redder, sal reg aan hom laat geskied. Die mense wat na sy wil vra en Hom dien, is die geslag van Jakob.”
Psalm 51:12: “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.”
HOE DIE MENSE IN DIE WÊRELD LEEF.
Die wêreld sê jy mag maar bedrog pleeg, solank jy net nie uitgevang word nie.
GOD SE BELONING.
Almal wat rein harte het, het die versekering dat hulle God sal sien.
HOE OM DIE GESINDHEID AAN TE LEER.
1 Johannes 3:1-3: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.”
GESINDHEID: VREDEMAKERS.
WAT JESUS GESÊ HET.
Mattheus 5:9: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
OU TESTAMENTIESE VERSE WAT VERBAND HOU.
Jesaja 57:18-19: “Ek het gesien wat met hom gebeur, en Ek sal hom genees. Dié van hom wat treur, sal Ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee. Ek stel hulle in staat om My weer te loof. Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is, sê die Here. Ek sal hulle genees.”
Jesaja 60:17: “Ek gee vir jou goud in die plek van brons, silwer in die plek van yster, brons in die plek van hout, yster in die plek van klip. Ek laat vrede oor jou regeer, Ek laat geregtigheid jou bestuur.”
HOE DIE MENSE IN DIE WÊRELD LEEF.
Ongelowiges jaag hulle eie vrede na en steur hulle min aan die chaos wat daar in die wêreld is.
GOD SE BELONING.
God belowe dat diegene wat vrede maak, Sy kinders genoem sal word.
HOE OM DIE GESINDHEID AAN TE LEER.
Romeine 12:9-13: “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.
Romeine 12:14-18: Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
Romeine 12:19-21: Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
GESINDHEID: GETROUHEID.
WAT JESUS GESÊ HET.
Mattheus 5:10: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
OU TESTAMENTIESE VERSE WAT VERBAND HOU.
Jesaja 53:12: “Daarom gee Ek hom ‘n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.”
HOE DIE MENSE IN DIE WÊRELD LEEF.
Die wêreld sê jy hoef net jou woord te hou wanneer dit jou pas, maar as dit vir jou ongerieflik is of jou iets gaan kos, kan jy dit maar los.
GOD SE BELONING.
God belowe die Koninkryk van die hemel vir diegene wat getrou is.
HOE OM DIE GESINDHEID AAN TE LEER.
2 Timotheus 3:12: “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.”
JOU AKSIESTAP VIR DIE WEEK.
Praat met die Here oor die gesindhede in Mattheus 5:1-10. Vra Hom aan watter gesindheid jy op hierdie stadium moet werk. Gebruik dan die verse oor daardie gesindheid en doen saam met die Heilige Gees ‘n Bybelstudie daaroor. Die VOLG-metode is ‘n goeie metode om vir so ‘n studie te gebruik.
As jy nog nie die VOLG-metode gebruik het nie en jy wil meer daaroor weet, onthou dan van Jesus, Die Bybel, En Jy – die VOLG-gids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is.

