GEESTELIKE DISSIPLINES VIR LYDENSTYD

Geestelike dissiplines vir Lydenstyd

Net soos die Here vir ons verskillende seisoene in die natuur gegee het, is daar ook verskillende seisoene in die Kerkkalender. Dis nou dinge soos Advent, Kerstyd, Lydenstyd, Paastyd, Hemelvaart, Pinkster, ensovoorts. In elkeen van dié seisoen word daar op ‘n ander tyd in Jesus se lewe gefokus.

Ons is op dié stadium in Lydenstyd of, soos dit in Engelse denominasies bekend staan, Lent. Dis ‘n tyd van voorbereiding, waar gelowiges hulle harte voorberei vir Paasfees, wanneer ons onthou wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het.

As deel van hierdie voorbereiding, is daar baie gemeentes wat fokus op drie verskillende geestelike dissiplines: gebed, vas en om te gee. Hierdie geestelike dissiplines is die drie waaroor Jesus in Mattheus 6:1-15 gepraat het. Ons gaan vandag ‘n bietjie oor die drie gesels – waarom elke dissipline belangrik is en ook hoe ons dit kan gebruik om ons harte voor te berei vir Paasfees.

GEBED AS GEESTELIKE DISSIPLINE.

Daar word nogal baie in die Bybel oor gebed gesê. Oral lees ons hoe mense tot God nader in gebed. Ons lees verses waarin ons aangemoedig word om te bid. En daar is selfs van die persone in die Bybel wie se gebede vir ons opgeteken is, sodat ons presies weet wat hulle gebid het.

Gebed is dus ‘n belangrike deel van ons verhouding met die Here. Dis die manier waarop ons met Hom praat. Dis wat ons gebruik wanneer ons Hom wil loof en prys of wil dankie sê. Ons gebruik gebed wanneer ons ons harte voor Hom wil uitstort, ons probleme voor Sy voete wil lê en Sy hulp wil vra. In gebed tree ons in vir die uitbreiding van Sy Koninkryk, vir ander mense en vir probleme in die algemeen. En dan is dit ook baie keer wanneer ons besig is om te bid, dat ons die stem van die Heilige Gees in ons harte hoor.

Gebed is dus altyd ‘n belangrike geestelike dissipline, wat ons elke dag in ons lewens moet beoefen. Maar tydens Lydenstyd is daar sekere dinge waarop ons so ‘n bietjie meer fokus, wanneer ons bid.

In hierdie tyd onthou ons dat ons, al is ons kinders van die Here, soms steeds die pad byster raak en sonde doen. Dis wanneer ons goed na ons lewens kyk en daardie sondes, selfs dié wat ons dink nie so erg is nie, raaksien en in gebed voor die Here bring. Ons vra Hom om vergifnis en ons vra Hom om ons te help om daardie sondes te laat staan. En dan ontvang ons ook in gebed die Here se genade en liefde vir ons.

JOU AKSIESTAP.

Jesus ‘n duur prys betaal om jou los te koop en van die houvas wat sonde op jou het, vry te maak. Kies dus om hierdie tyd van voorbereiding te gebruik om dié dinge in jou lewe te identifiseer, wat ‘n negatiewe invloed op jou verhouding met God en met ander mense het. Bring hulle voor die Here. Vra Hom om jou te vergewe en aanvaar Sy vergifnis. Vertrou ook op die Heilige Gees om jou nie net gewillig te maak om aan God gehoorsaam te wees nie, maar om jou ook die vermoë te gee om dit te doen.

VAS AS GEESTELIKE DISSIPLINE.

Vas as dissipline is nie iets waaroor Jesus baie geleer het nie. Hy het nooit die opdrag gegee dat gelowiges moet vas nie. Hy het ook nooit enige voorskrifte of bepalings daaroor gegee nie. Wanneer Hy wél daaroor gepraat het, was dit altyd in reaksie op hoe die Jode vas in hulle godsdiens beoefen het.

Volgens die Wet van Moses was daar sekere dae wanneer die hele volk verplig was om te vas, soos byvoorbeed op die Dag van Versoening (Levitikus 16). Maar teen die tyd wat Jesus op aarde geleef het, het daar al vasdae bygekom, wat God nooit beveel het nie. Sommige Jode het twee keer ‘n week gevas, op ‘n Donderdag en ‘n Maandag. Volgens tradisie het Moses teen Sinai opgegaan op ‘n Donderdag en weer van die berg afgekom op ‘n Maandag.

JESUS SE REAKSIE.

Wanneer ons lees wat Jesus oor die Jode se vasgebruike sê, sien ons dat Hy hulle kritiseer omdat hulle skynheilig is. In plaas daarvan om met ‘n hart vol ootmoed na God te kom, het hulle allerhande uiterlike maniere gebruik om almal rondom hulle te laat weet hulle vas. Vir hulle was vas dus nie iets wat oor God en hulle verhouding met Hom gegaan het nie, maar oor die applous van mense.

As ons dus kies om te vas tydens Lydenstyd, dan moet ons seker maak ons doen dit met die regte motief. Dit moet ‘n tyd wees waar ons iets opgee sodat ons meer tyd saam met die Here in gebed kan spandeer. Sommige mense gee ‘n maaltyd of dalk selfs twee of drie ‘n dag op, en gebruik die tyd wanneer hulle sou eet om te bid. Ander gee die tyd wat hulle op sosiale media of voor die TV sou spandeer op, sodat hulle kan bid. Sien jy hoe vas en gebed so hand aan hand met mekaar stap?

Omdat vas tydens Lydenstyd nie ‘n opdrag van God is nie, maak dit nie regtig saak wat jy kies om te vas of op te gee nie. Wat wél saakmaak is dat jy die tyd wat jy sou spandeer aan dit wat jy opgee, gebruik om tyd met die Here te spandeer. En moenie vas sodat jy ander kan beïndruk nie!

JOU AKSIESTAP.

Baie van ons sê dat ons nie tyd het vir daaglikse stiltetyd of Bybelstudie nie, want ons is so besig. Maar, as ons eerlik kyk na hoe ons ons tyd gebruik, dan is baie van ons skuldig daaraan dat ons soveel tyd mors op sosiale media of op Netflix. As jý sukkel daarmee om gereeld tyd met die Here te spandeer, oorweeg dit dan om tot en met Paasfees jou sosiale media- of Netflix-tyd op te gee sodat jy daardie tyd kan gebruik om jou Bybel te lees en te bid. Dit is dalk net wat jy nodig het om jou te help om in die gewoonte te kom om elke dag tyd saam met Jesus te spandeer!

OM TE GEE AS GEESTELIKE DISSIPLINE.

Ons dien ‘n God wat baie vrygewig is. Hy het geweet ons kan onsself nie red nie en daarom het Hy nie twee keer daaroor gedink om Sy Seun te stuur om vir ons sondes te sterf nie. Hy het die Heilige Gees vir ons gegee om ons te leer, te lei, te help, ensovoorts. Verder het Hy Sy Woord vir ons gegee sodat ons Hom daardeur kan leer ken. Hy gee vir ons familie en vriende om vir ons lief te wees en vir wie ons weer op ons beurt kan lief wees. Hy gee vir ons mede-gelowiges, sodat ons mekaar kan help en ondersteun. Dag na dag voorsien Hy in ons behoeftes. En dis maar net ‘n paar van die dinge wat ‘n mens kan opnoem wanneer jy dink aan hoe vrygewig die Here is.

Om vrygewig te wees is dus een van Sy karaktereienskappe. Ons as Sy kinders is veronderstel om ons lewens só te leef dat ander kan sien wie Hy is en wat Hy doen. Wanneer ons dus vrygewig is en met ander deel wat die Here vir ons gegee het, dan wys ons hulle nie net Hy is vrygewig nie, maar ons gee hulle in baie gevalle ook sommer hoop vir die toekoms.

Om van onsself en ons hulpmiddele te gee tydens Lydenstyd is ‘n goeie manier om onsself in die gewoonte te kry om op ‘n gereelde basis vir ander te gee, soos wat die Here op ‘n gereelde basis vir ons gee.

JOU AKSIESTAP.

Baie van ons dink onmiddellik aan geld, wanneer ons hoor dat ons moet gee. Maar mense het nie altyd geld nodig nie. Jy ken dalk iemand wat bemoediging en ondersteuning in ‘n moeilike tyd nodig het. Of dalk ken jy iemand wat dit nodig het dat jy net by haar sit en vir haar bid. Miskien is daar iemand in jou lewe wat jy kan help met die gawes en talente wat die Here vir jou gegee het. So, vir die volgende paar weke, wees op die uitkyk vir mense wat jy op een of ander manier kan help. As dit finansieel is, maak dan so. Maar moenie by geld vassteek nie. Dink aan die verskillende maniere hoe die Here jou help en vir jou gee en kyk hoe jy Sy voorbeeld kan volg en vir ander op daardie maniere help en gee.

HULPMIDDELE VIR JOU VOORBEREIDING.

Ek het netnou genoem dat vas en gebed hand aan hand gaan. ‘n Mens kan wel bid sonder om te vas, maar jy kan nie vas sonder om te bid nie! As jy nog nooit regtig gevas het nie en jy wil graag meer oor hierdie dissipline leer en dit dalk in Lydenstyd probeer, dan is 21 Dae Van Genade net waarna jy op soek is. Dis ons e-gids waarin ons gesels oor al die verskillende dinge wat jy oor vas moet weet om jou te help om daarmee te begin.

Daar is ook ‘n vastydjoernaal in PDF formaat beskikbaar, wat jy kan gebruik om jou in jou tyd met die Here te ondersteun. Dié twee produkte is as aparte e-boeke beskikbaar, maar jy kan hulle ook in ‘n kombinasiepakket aankoop, wat jou ‘n paar rand gaan spaar. Loer dus sommer vandag nog na hierdie twee hulpmiddele.

21 Dae van genade vasgids

SLOTGEDAGTE.

Lydenstyd is nie net ‘n kerktradisie of ‘n stel geestelike dissiplines nie, dis ‘n uitnodiging om ons harte voor te berei vir die Paasseisoen wat voorlê. Deur gebed maak ons ons harte oop voor die Here. Deur te vas maak ons doelbewus ruimte vir Hom. En deur te gee weerspieël ons Sy hart aan die wêreld rondom ons. Mag hierdie weke tot Paasfees vir jou ‘n tyd wees waarin jy nie net onthou wat Jesus vir jou gedoen het nie, maar waarin jy nader aan Hom kom, Sy liefde vir jou opnuut ervaar en jou liefde vir Hom sterker word!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *