DOGTERS VAN SELOFGAD – LESSE UIT HULLE VERHAAL

dogters van Selofgad

Die dogters van Selofgad is van die minder bekende vroue in die Bybel, maar ons kan baie by hulle leer.

Daar is sommer baie vroue van wie ons in die Bybel lees. Sommige van hulle is bekende vroue en ons weet presies wat in hulle verhale gebeur. Maar dan is daar ook vroue wie se verhale minder bekend is en wat meeste van ons nie eers regtig geweet het is in die Bybel nie.

Vyf van hierdie minder bekende vroue kry ons in Numeri 27. Hulle verhaal is egter vervleg met wat in Numeri 26 staan, so ons moet eers ‘n bietjie daar stilstaan.

‘N SENSUSOPNAME.

In Numeri 26 lees ons dat die Here vir Moses en Eleasar beveel het om ‘n sensusopname van die volk te doen. Hulle moes al die mans, twintig jaar en ouer, wat militêre diens kon doen, tel. Daarna moes hulle die land tussen die families verdeel. ‘n Groot familie het ‘n groot stuk grond gekry en ‘n klein een ‘n kleiner stuk grond.

Daar was niemand, wat voorheen in die Sinaiwoestyn getel is, wat in hierdie sensus getel is nie omdat almal wat toe getel is, in die woestyn dood is. (Jy kan meer hieroor in Numeri 14 lees.)

Dan lees ons in Numeri 27:1-11 van die dogters van Selofgad, dis nou die vyf vroue van wie ek hierbo gepraat het. Hulle pa is een van die Israeliete wat in die woestyn dood is. Hy het net sy dogters agtergelaat, geen seuns nie.

Omdat die grond aan die mans in elke familie gegee is, het dit beteken dat Selofgad se dogters nie grond sou kry nie.

Dit was vir hierdie vrouens onaanvaarbaar en hulle maak toe ‘n plan.

Hulle bring hulle saak voor Moses, Eleasar, die leiers van die volk en sommer die hele volk en vra dat hulle ook die geleentheid gegee word om grond te kry.

Moses bring op sy beurt hulle versoek voor die Here en Hy gee opdrag dat Selofgad se dogters die grond moet kry wat hulle pa sou kry.

Verder gee Hy opdrag dat dit ‘n bindende voorskrif bly – as ‘n man nie ‘n seun het nie, moet sy grond vir sy dogter gegee word.

.

WAT KAN ONS LEER?

Daar is ‘n hele paar dinge wat ons uit hierdie gedeelte kan leer. Kom ons kyk na vier van dié dinge.

STAAN OP VIR WAT REG IS.

In die eerste plek leer ons dat ‘n mens moet opstaan vir wat reg is.

Dit was dalk nie maklik vir Selofgad se dogters om hulle saak te gaan stel nie. Hulle het nie geweet wat Moses en die leiers van die volk daaroor sou sê nie. Sou hulle luister en die saak na God toe vat? Of sou hulle sommer self besluit dat God reeds gesê het die mans in die familie moet die grond kry en dis hoe dit gaan wees?

En as die leiers luister en die saak na God toe vat, wat gaan Hý daaroor sê?

Maar al het hulle nie geweet wat gaan gebeur nie, het dit hulle nie afgeskrik nie.

Hulle het geglo dit wat besig is om te gebeur is nie reg nie en daarom het hulle opgestaan vir wat reg was.

Ek en jy moet dieselfde doen.

Daar is so baie dinge in hierdie lewe wat nie reg is nie. Soms word mense nie reg behandel nie. Daar is ook situasies wat nie reg hanteer word nie.

Soms kan ons, deur op te staan vir wat reg is, iets aan die saak doen.

Ons moet net bereid wees om uit ons gemaksone te beweeg, selfs al weet ons nie of dit wat ons doen enigsins ‘n impak gaan hê en die situasie gaan verander nie.

Onthou, niks gaan verander as niemand bereid is om op te staan vir wat reg is nie!

VAT DIE SAAK NA GOD TOE.

In die tweede plek leer ons dat ‘n mens met alles na God toe moet gaan.

Moses het nie sommer self besluit hoe om Selofgad se dogters se saak te hanteer nie. Hy het dit na God toe gevat om by Hom te hoor wat hulle moes doen. En na die Here vir hom gesê het wat om te doen, het hy Sy opdrag uitgevoer.

Ek en jy moet ook dieselfde doen.

Ons moet met alles na die Here toe gaan.

Soms kan ons vir en oor iets bid voor dit gebeur. Dink byvoorbeeld aan ‘n voorlegging wat jy by die werk moet doen. Jy weet jy moet dit doen, so jy kan vooraf daaroor bid en die Here se hulp, wysheid en bystand vra.

Ander kere gebeur ‘n ding sonder dat ‘n mens dit verwag en kan jy eers na die tyd daaroor bid. Dink hier byvoorbeeld aan iemand wat skielik siek word, waarvoor daar eers gebid word na hy siek geword het.

Dit maak egter nie saak of ons vooraf van iets weet, sodat ons daaroor kan bid, of eers na die tyd nie. Die punt is dat ons met alles na die Here toe moet gaan sodat Hy ons leiding, wysheid, hulp, ensovoorts kan gee.

KRY DIE REGTE HULP.

Die dogters van Selofgad kon nie self hulle saak oplos nie en het dit daarom na Moses en die leiers van die volk toe gevat.

Ek en jy het ook nie al die kennis, hulpmiddele, ensovoorts wat nodig is om elke saak of situasie wat ons teëkom, self te hanteer en op te los nie.

Soms – dalk meeste van die tyd! – het ons ook hulp van buite nodig.

‘n Mens moenie skaam wees wanneer jy agterkom jy het iemand anders se hulp nodig nie. God het ons juis so gemaak dat ons mekaar se hulp nodig het.

Wanneer jy dus in ‘n situasie beland waar jy hulp nodig het, vra daarvoor. En as iemand hulp aanbied, aanvaar dit.

Patykeer gaan jy vir die hulp moet betaal. Doen dit dan en moenie daaroor kla nie. Onthou, daar is kere wat jy ook betaal word vir die hulp wat jy gee!

Ander kere gaan iemand jou help sonder om vergoeding te verwag. Wees dan dankbaar daarvoor en sê dat jy dankbaar is.

GOD IS GETROU.

Laastens leer ons uit hierdie gedeelte dat God getrou is om Sy beloftes na te kom.

Hy het vir Abraham belowe dat Hy die land vir sy nageslag sou gee. En dit is presies wat Hy hier doen.

Hy sluit ook niemand uit van hierdie belofte nie.

Hoewel die vrouens nie in die sensus getel is nie en ook nie kon gaan veg nie nie, gee God ook vir hulle hulle regmatige deel van die land.

Die Bybel leer ons dat God nooit verander nie, dat Hy gister, vandag en altyd dieselfde is.

Die God wat ons dus in die Bybel leer ken – Sy karakter, manier van doen, ensovoorts – is vandag nog presies dieselfde.

Daarom kan ons ook weet dat Hy vandag steeds die beloftes wat Hy maak en gemaak het, nakom.

Hy is getrou en ons kan Hom altyd vertrou en reken op Sy getrouheid.

dogters van Selofgad: Vroue in die Bybel

VROUE IN DIE BYBEL.

As jy meer wil weet oor van die vroue oor wie ons in die Bybel lees, dan is die Vroue In Die Bybel Oordenkingsboek net waarna jy op soek is.

In hierdie oordenkingsboek kyk ons na vroue, soos die dogters van Selofgad, by wie ons positiewe dinge omtrent ons verhouding met God kan leer. Ons kyk ook na vroue wie se voorbeeld ons nié moet volg nie, omdat hulle ver van God af geleef het.

Hierdie oordenkingsboek is ‘n digitale produk in PDF-formaat. Jy kan dit dus sommer op jou foon aflaai sodat jy dit enige tyd, enige plek kan lees.

So, maak ‘n draai in ons aanlyn-winkel en kry jou kopie van Vroue In Die Bybel. Laat God toe om die lesse wat jy by hierdie vroue kan leer, te gebruik om jou lewe te verander!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *