
Oral in die Bybel lees ons verskillende Name vir God. Elkeen van dié Name verteenwoordig ‘n unieke manier hoe God Homself aan ons bekend maak, want dit vertel ons meer omtrent Sy karakter. Sommige van die Name het God Self vir mense gegee. ‘n Voorbeeld hiervan is toe God in Genesis 17:1 aan Abraham verskyn het. Hy het vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige.” Dan is daar ook kere waar ‘n mens ‘n Naam vir God gegee het, nadat hy gesien het wat God doen. ‘n Voorbeeld hiervan kry ons in Genesis 16:13, waar Hagar sê: “U is die God wat my sien.”
Dis interessant dat Psalm 23 na sewe van God se saamgestelde Name verwys. In hierdie artikel gaan ons na Psalm 23 kyk, sodat ons kan sien na watter Name van God dit verwys en ook wat daar die Name ons oor die karakter van God leer.
GOD DIE HERDER.
Psalm 23:1a: ‘n Psalm. Van Dawid. Die Here is my herder…
In die eerste vers van die psalm noem Dawid God sy, en ons, Herder. In Hebreeus is dié Naam Jahweh-Rohi.
Dit is die enigste plek in die Ou Testament waar hierdie Naam vir God gebruik word. Maar as jy al deur die Bybel gelees het, sal jy weet daar word op meer as een plek na Jesus verwys as die Goeie Herder. Dink maar net aan wat Jesus oor Homself gesê het in Johannes 10.
In die Ou Testamentiese tyd was daar baie mense wat herders was.
Dit was hulle taak om die skape op te pas en hulle teen gevaar te beskerm. Verder het hulle sekergemaak die skape het genoeg om te eet en te drink. En hulle het die skape versorg wanneer hulle siek was.
Al hierdie dinge doen God vir ons omdat Hy ons Herder is. Jy sal in die res van die psalm sien hoe daar op hierdie dinge uitgebrei word.
Dan was dit ook so dat die herder en die skape soveel tyd saam spandeer het, dat die skape presies geweet het wanneer hulle die herder se stem hoor.
Onthou jy Jesus het gesê Sy skape ken Sy stem en dat hulle nie na die stem van ‘n vreemdeling sal luister nie?
DIE HERE VOORSIEN.
Psalm 23:1b-2a: …ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde laat Hy my rus…
Hierdie woorde verwys na die Naam van God wat ons kry in Genesis 22. In dié gedeelte sien ons hoe God vir Abraham opdrag gee om vir Isak te offer.
Abraham is gehoorsaam en pak die tog aan na die berg wat God vir hom gewys het, waar hy sy seun moet offer.
Maar net toe hy regmaak om vir Isak te slag, keer God hom. En toe Abraham opkyk, sien hy ‘n ram wat aan sy horings in ‘n bos vasgevang is.
Hy gebruik die ram as offer in Isak se plek en noem die plek Die Here Voorsien.
In Hebreeus is dié Naam Jahweh-Jireh.
God is die Een wat voorsien. Hy het in die eerste plek vir ons ‘n Verlosser voorsien. Maar Hy voorsien ook in elke ander behoefte wat ons het. Ons moet net na Hom toe kom en Hom daarvoor vra.
DIE HERE IS VREDE.
Psalm 32:2b: …na water waar daar rusplek is, lei Hy my.
Die Naam van God wat ons in hierdie woorde kry, is Jahweh-Shalom, of Die Here is Vrede. Gideon was die een wat hierdie Naam vir God gegee het in Rigters 6:24.
As jy sy storie ken, sal jy onthou dat God aan hom die opdrag gegee het om die Israeliete uit die hand van die Midianiete te verlos.
Toe Gideon besef dis God wat met hom praat, was hy baie benoud. Maar God het vir hom gesê: “Vrede vir jou! Moenie bang wees nie; jy sal nie sterf nie!”
Gideon het toe vir die Here ‘n altaar gebou en dit genoem Die Here Is Vrede.
Jesus word ook later in Jesaja 9 ons Vredevors genoem. Deur Hom het God vrede gemaak tussen Hom en ons. Dis by Hom waar ons rus kry vir ons gemoed (Mattheus 11:29). Hy het vir ons Sy vrede gegee, sodat ons harte nie bang en onsteld hoef te wees nie (Johannes 14:27).
DIE HERE WAT GESOND MAAK.
Psalm 23:3a: Hy gee my nuwe lewenskrag…
Dié woorde hierbo verwys na God as die Here Wat Gesond Maak.
Ons lees dit die eerste keer in Eksodus 15:26.
In die vorige verse sien ons hoe die Israeliete gekla het oor daar nie water was om te drink nie, omdat die water by Mara bitter was.
Die Here wys toe vir Moses ‘n stuk hout, wat hy in die water gooi. En die water het soet en drinkbaar geword.
Daarna het God vir hulle gesê dat, as hulle na Hom luister en Hom gehoorsaam, sal Hy nie al die siektes wat Hy oor die Egiptenare gebring het, oor hulle laat kom nie. En dan noem Hy Homself Die Here Wat Jou Gesond Maak.
In Hebreeus is dit die Naam Jahweh-Rapha.
God maak ons op verskeie maniere gesond. Ons het geestelike genesing nodig. Ons het ook soms emosionele of fisiese genesing nodig. Partykeer is dit genesing vir ‘n verhouding of ‘n huwelik wat nodig is.
Maar dit maak nie saak waar ons genesing nodig het nie, ons kan na God toe kom daarvoor. Hy is die Here Wat Gesond maak.
DIE HERE IS ONS GEREGTIGHEID.
Psalm 23:3b: …Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.
Die Naam van God wat ons in hierdie versie raakloop, is Die Here Ons Geregtigheid, of Jahweh-Tsidkenu.
Ons kry hierdie Naam die eerste keer in Jeremia 23:6.
Arme Jeremia het God se boodskap uitgedra in ‘n tyd toe die een koning slegter was as die ander een. Niemand het juis na hom geluister nie en dit het hom moedeloos gemaak.
God het hom egter bemoedig en in Jeremia 23 vir hom ‘n profesie oor die komende Messias gegee.
In verse 5-6 staan: “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek vir Dawid ‘n regverdige loot sal laat opkom. Hy sal as koning regeer en verstandig optree; hy sal in die land reg en geregtigheid handhaaf. In sy dae sal Juda verlos word, en Israel sal veilig woon. En dit sal sy naam wees wat hy genoem word, ‘Die Here is ons geregtigheid.'”
Ek en jy voel dalk ook soms om op te gee. Elke dag is daar iets nuuts wat in ons lewens, of in die wêreld, gebeur, wat ‘n mens moedeloos kan maak.
Maar ons hoef nie op te gee nie. Ons het God aan ons kant. Hy is ons Geregtigheid en sal ons elke dag lei op die pad wat ons moet stap. Ons moet net ons oë op Hom gevestig hou, na Sy stem luister en Hom volg.
DIE HERE IS DAAR.
Psalm 23:4: Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.
God is altyd by ons. Dit maak nie saak waar ons is nie, Hy is daar.
Dis dan ook die Naam waaraan vers 4 ons herinner: Die Here Is Daar. Dis die Hebreeuse Naam Jahweh-Shammah.
Dié Naam van God kry ons in Esegiël 48:35. Daar staan: “Rondom is dit agttienduisend el; en die naam van die stad is van nou af: Die-Here-is-daar.” Die stad waarvan hier gepraat word, is die Nuwe Jerusalem.
God is ‘n God van nabyheid. Wanneer ons in Jesus glo, is Hy so naby aan ons dat Hy deur die Heilige Gees binne ons is. Ons is dus nooit sonder Hom nie.
Daarom maak dit ook nie saak wat die lewe ons kant toe gooi nie. Ons kan God vertrou om deur alles by ons te wees.
Onthou hierdie Naam van God wanneer jy weer bid. Party mense sê dit voel of hulle gebede nie verder as die plafon trek nie. Maar jou gebede hoef nie eers so ver te trek nie, want as jy bid, is God daar. Hy is in jou. Hy hoor jou en sal jou op die regte tyd en die regte manier, antwoord.
DIE HERE IS MY BANIER.
Psalm 23:5: U dek vir my ‘n tafel voor die oë van my teenstanders. U verfris my kop met olie; my beker loop oor.
In Eksodus 17 kry ons nog ‘n Naam vir God. Die vers hierbo herinner ons dan ook aan daardie Naam.
Terwyl Moses en die Israeliete deur die woestyn trek, kom hulle te staan teen die Amalekiete. Hulle was gedugte soldate, terwyl die Israeliete op daardie stadium nie veel van oorlog geweet het nie. Jy kan jou indink dat dit ‘n krisis was vir hulle!
Omdat Moses te oud was om self te veg, maak hy staat op Josua om die geveg te lei. Hy self klim saam met Aäron en Hur op ‘n heuwel sodat hulle kan sien wat aangaan.
In Eksodus 17:11-12 lees ons: “Wanneer Moses sy hand omhoog hou, het Israel die oorhand gekry; maar wanneer hy sy hand laat rus, het Amalek die oorhand gekry. Toe Moses se hande swaar word, het hulle ‘n klip geneem en onder hom neergesit. Hy het daarop gaan sit. Aäron en Hur het, een aan elke kant, sy hande gestut. Sy hande het bestendig omhoog gebly totdat die son ondergegaan het.”
Josua-hulle wen die geveg en Moses bou ‘n altaar wat hy noem, Die Here Is My Banier. Dis die Hebreeuse Naam Jahweh-Nissi.
Ek en jy is elke dag in ‘n stryd met die wêreld, die duiwel en ons sondige aard. Maar ons behoort aan God en Hy is ons oorwinning. Ons kan dus altyd, wanneer ons in een of ander stryd gewikkel is, aan Hom dink en op Hom vertrou as ons banier, ons oorwinning.
GOD SE GUNS EN ONS EWIGE WONING.
Ons het nou gesels oor al sewe Name van God waaraan Psalm 23 ons herinner.
Maar, as jy mooi oplet, sal jy sien die psalm is nog nie klaar nie. Daar is nog vers 6, wat ons ook moet lees.
Daar staan: “Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae.”
Hoewel dié vers ons nie aan ‘n Naam van God herinner nie, is daar tog iets wat ons daaruit kan leer.
Ons sien hier dat God se goedheid en troue liefde, of guns soos in die ouer vertalings staan, altyd by ons is terwyl ons hier op aarde leef. Ons sal dus nooit ‘n gebrek hê daaraan nie.
En dan sien ons ook dat ons kan uitsien na ons hemelse woning, wanneer ons tyd hier op aarde verby is.
Onthou dat die Name van God jou altyd meer oor Hom en Sy karakter lees. So, wanneer jy weer een van Sy Name raaklees, doen ‘n bietjie moeite en kyk wat dit jou oor Hom leer.
Besoek Ons Aanlyn-Winkel Vir Bybelstudies En Oordenkingsboeke

