
Ons kyk elke nou en dan na ‘n boek in die Bybel, en van die agtergrond-inligting wat jy moet hê wanneer jy ‘n Bybelstudie daaroor wil doen. Vandag kyk ons dan ook weer na nog ‘n boek. Hierdie keer is dit Psalms.
DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Die naam van die boek in beide Hebreeus en Grieks beteken ”n gedig wat gesing word’ of ‘lofprysingsliedere’.
ONTSTAANTYD EN AGTERGROND.
Die boek het tussen die tyd van Moeses en die tyd van die Babiloniese ballingskap, in 586 vC, ontstaan.
Hoewel die meeste psalms nie historiese beskrywings is nie, is daar tog paralelle tussen van die psalms en historiese gebeure.
Dink byvoorbeeld aan die tyd toe Dawid owerspel gepleeg het met Batseba. Of die tyd toe hy vir Saul gevlug het.
WIE HET PSALMS GESKRYF?
Verskillende psalms word aan verskillende mense toegeskryf.
Daar word 73 aan Dawid toegeskryf.
Twaalf word aan Asaf toegeskryf.
Aan die Koragiete word daar nege toegeskryf.
Twee word aan Salomo en twee aan Heman (saam met die Koragiete) toegeskryf.
En dan word daar een elk aan Etan en Moses toegeskryf.
Dan is daar ook 51 wat anoniem is.
Dis interessant dat die verwysings van Dawid, Salomo en andere nie noodwendig altyd beteken hulle het daardie betrokke psalm geskryf nie. Soms verwys dit na ‘n moontlikheid dat die psalm kom uit ‘n versameling wat hulle naam dra.
WAT SE TIPE BOEK IS PSALMS?
Psalms word gewoonlik gesien as een van die poësieboeke van die Bybel.
Dit bevat dan ook gebede en liedere, wat in poësievorm geskryf is. Daar is egter ook baie teologie wat deel van die boek uitmaak.
DIE DOEL VAN DIE BOEK.
Die doel van die boek is poësie te gebruik om uiting te gee aan aanbidding, lofprysing, klagtes en belydenisse.
HOOFTREKKE VAN PSALMS.
Die boek bestaan uit vyf dele.
Elkeen van dié dele eindig met ‘n reël waarin God geloof word.
Die psalms in elke deel is nie almal dieselfde tipe psalm nie, maar daar is tog in elke afdeling ‘n klompie wat min of meer dieselfde soort is.
GOD SE NAME.
‘n Interessante feit is dat Psalm 23 na sewe van God se saamgestelde Name verwys.
‘n Mens sien dit nie altyd raak nie, omdat die Name nie pertinent genoem word nie. Ons gaan in ‘n volgende artikel daarna kyk.
Besoek ons aanlyn-winkel vir Bybelstudies en Oordenkingsboeke om jou in jou geloof te versterk.

JESUS IN PSALMS.
Daar is heelwat van die Psalms wat profesieë oor Jesus bevat: Psalms 2, 8, 22-24, 34, 40, 41, 45, 72, 89, 96-99, 102, 109, 110 en 118.
UNIEKE FEITE.
Psalms is die boek in die Ou Testament wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word – 414 keer in 23 boeke.
Psalm 110 word die meeste aangehaal – ongeveer 17 keer.
En Psalm 2:7 word tweede meeste aangehaal – 10 keer.
Dan bevat Psalms ook die kortste en langste hoofstukke in die Bybel. Psalm 117 is die korste en Psalm 119 die langste.
SLEUTELVERS IN PSALMS.
Ons kry die sleutelvers in Psalm 150:6.
Daar staan: “Alles wat asem het, moet die Here loof! Halleluja!”
PSALMS IN JOU LEWE.
Het jy geweet dat Psalms amper die Ou Testament in ‘n neutedop is? Dit lei ‘n mens aanhoudend na ander dele van die Bybel.
Dis dan ook soortvan ‘n inleiding en samevatting van die Ou Testament.
En, omdat dit so baie in die Nuwe Testament aangehaal word, wys dit vir ons hoe stewig die gedagtes in die Nuwe Testament op die Psalms gebou is.
VORIGE ARTIKELS.
Ek het skakels na al die vorige artikels oor die boeke van die Bybel op een blad gesit om dit makliker te maak om die artikels te kry.
As jy van hierdie artikels gemis het, kan jy dit HIER lees.
