
Een van die interessantste maniere om die Bybel te studeer, is om ‘n onderwerp-studie te doen.
Hierdie studiemetode is baie dieselfde as die tema-studiemetode, maar daar is tog verskille. ‘n Onderwerp-studie neem langer omdat ‘n mens meer verse bestudeer as wanneer jy ‘n tema-studie doen.
‘n Onderwerp het gewoonlik verskillende kleiner temas wat deel vorm daarvan. Wanneer ons ‘n onderwerp-studie doen, kyk ons na al die verwante temas.
Met ‘n onderwerp-studie is daar ook nie spesifieke, voorafopgestelde vrae wat ons gaan vra nie. Ons gaan eerder elke vers bekyk en alles wat ons leer, neerskryf.
HOE DIE ONDERWERP-STUDIE WERK.
In kort werk ‘n onderwerp-studie so:
Kies ‘n spesifieke onderwerp in die Bybel.
Kyk wat die Bybel oor daardie onderwerp in ‘n spesifieke boek van die Ou of Nuwe Testament sê.
Jy kan ook, as jy baie tyd het, kyk wat God deur die hele Bybel oor daardie onderwerp sê.
Die onderwerp-studie kan gebruik word om ‘n leerstelling, ‘n idee, ‘n frase, of enige ander onderwerp wat in die Bybel genoem word, te studeer.
HOEKOM IS ‘N ONDERWERP-STUDIE BELANGRIK?
Daar is baie redes waarom hierdie tipe studie belangrik is.
In die eerste plek help dit ons om die Bybel sistematies, logies en in ‘n geordende wyse te studeer.
Tweedens gee dit ons ‘n goeie perspektief oor die waarhede van die Bybel. Ons sien wat die hele Bybel oor ‘n onderwerp leer.
In die derde plek gee dit ons die geleentheid om onderwerpe wat vir ons interessant is, te bestudeer.
Vierdens stel dit ons in staan om die belangrike leerstellings van die Bybel, te studeer.
In die vyfde plek is dit wat ‘n mens uit ‘n onderwerp-studie leer, iets wat jy maklik met ander kan deel.
En laastens is daar so baie verskillende onderwerpe wat ‘n mens kan studeer, dat dit jou letterlik amper jou hele lewe lank kan besig hou.
WAT JY GAAN NODIG Hê.
Daar is net ‘n paar dinge wat jy gaan nodig hê om ‘n onderwerp-studie te doen:
Studiebybel;
Konkordansie wat so volledig moontlik is;
Verklarende studiebybel;
Notaboek of joernaal.
As jy nie ‘n konkordansie het nie, kan jy die Engelse weergawes aanlyn kry.
STAPPE VAN ‘N ONDERWERP-STUDIE.
‘n Onderwerp-studie het ses stappe. Maar voor jy daarby kom, gaan jy eers ‘n onderwerp kies wat jy wil studeer.
Kies ‘n onderwerp wat belangrik is en waarin jy geïnteresseerd is.
As jy vir die eerste keer so ‘n studie doen, moenie ‘n onderwerp kies wat te veel tyd gaan vat nie. Of kies dan om net te kyk wat ‘n spesifieke boek van die Bybel daaroor sê.
Noudat jy weet watter onderwerp jy gaan studeer, doen die volgende:
STAP 1: MAAK ‘N WOORDELYS.
Stel ‘n lys op van al die verwante woorde (sinonieme en antonieme), frases, gebeurtenisse en enige iets anders wat te doen kan hê met die onderwerp.
Kom ons veronderstel jy doen ‘n studie oor lyding. Dan sal woorde soos beproewing, woede, hartseer, gesondheid, pyn, verdrukking, ensovoorts woorde wees wat op jou lysie gaan wees.
Wees versigtig dat jou onderwerp nie te groot en omvattend raak nie. As dit gebeur, maak jou studie kleiner deur vir eers net op sekere woorde te fokus. Jy kan dan later die ander woorde studeer.
STAP 2: STEL ‘N VERWYSINGSLYS OP.
Gebruik jou verwysingshulpmiddele en stel ‘n lys op van al die verse wat jy oor die onderwerp kan kry.
Onthou om jou konkordansie te gebruik om die woorde wat jy in stap een neergeskryf het, ook na te slaan. Skryf ook daardie verse neer.
Maak seker dat jou lys al die verse wat op een of ander manier met jou onderwerp te doen het, insluit.
STAP 3: STUDEER EEN VERS OP ‘N SLAG.
Die volgende stap is om elkeen van die verse wat jy neergeskryf het, te studeer.
Skryf neer watter vers jy studeer, byvoorbeeld Johannes 1:1. Langsaan skryf jy wat jy oor die onderwerp in die vers leer.
Lees ook die verse voor en na die een wat jy studeer. Onthou, konteks is belangrik om ‘n vers reg te interpreteer. Maak dus seker jy weet wat die konteks van jou vers is.
Hoewel ons nie voorafopgestelde vrae het wat ons oor die verse vra nie, gaan ons tog vrae daaroor vra.
Dink aan enige vraag wat jy oor die vers kan vra. Vra dit en skryf jou antwoord neer. Onthou om vrae soos wat, waar, wie, hoe en hoekom in te sluit.
Moet ook nie vergeet om te kyk wat beteken die sleutelwoorde wat jy in die verse ontdek nie.
STAP 4: VERGELYK EN GROEPEER DIE SKRIFVERWYSINGS.
Jy sal sien dat sommige van die skrifverwysings mekaar komplimenteer en dieselfde inhoud van die onderwerp wat jy studeer, dek.
Deel die skrifverwysings wat bymekaar hoort in hulle verskillende groepe in.
STAP 5: SKRYF ‘N SAMEVATTING VAN JOU STUDIE.
Gebruik die kategorieë of groepe van stap vier, logies uiteengesit as hoof-afdelings, om ‘n samevatting van jou studie te skryf.
Begin deur al die skrifverwysings wat met mekaar verband hou in hulle verskillende afdelings bymekaar te sit.
Skommel die verskillende afdelings tot dit vir jou ‘n logiese patroon vorm en skryf dit neer.
Hierdie stap gaan jou help om dit wat jy geleer het, maklik met ander te deel.
STAP 6: TOEPASSING.
Die laaste stap het eintlik twee stappe.
Skryf eers ‘n kort paragraaf waarin jy dit wat jy geleer het, opsom.
Skryf dan hoe jy dit in jou eie lewe gaan toepas.
Onthou om jou toepassing persoonlik en prakties te maak. Dit moet iets wees wat jy regtig kan doen. Dit moet ook meetbaar wees, wat beteken jy moet kan sê, “Ek het toegepas wat ek geleer het”, wanneer jy dit gedoen het.
‘N ONDERWERP-STUDIE OOR BETROUBAARHEID.
Ons het nou gekyk na die stappe wat ‘n mens volg wanneer jy in jou Bybelstudie-tyd ‘n onderwerp-studie wil doen.
In die volgende artikel gaan ons saam so ‘n studie oor betroubaarheid doen, sodat jy presies kan sien hoe dit werk.
O ja, en as jy belangstel in ‘n Bybelstudie oor Jesus se gelykenisse, wat jou sommer gaan help om te leer om Bybelstudie te doen, kan jy gerus ‘n draai in ons aanlyn-winkel maak. Daar is ook vorms beskikbaar, wat jy saam met die Bybelstudie-metode e-boek kan gebruik.
