
Die Bybel het sommer heelwat oor betroubaarheid te sê. Dis een van God se karaktereienskappe en daarom is dit vir Hom belangrik dat ons, as Sy kinders, ook betroubaar moet wees.
In die vorige artikel het ons gesels oor hoe ‘n mens ‘n onderwerp-studie doen wanneer jy Bybelstudie doen. Ek het vir jou die stappe verduidelik en het ook belowe dat ons in hierdie artikel saam so ‘n studie oor betroubaarheid gaan doen.
Ons gaan elkeen van die stappe volg en kyk wat ons alles oor betroubaarheid kan leer. Kom ons val weg!
STAP 1: MAAK ‘N WOORDELYS.
Ons eerste stap is om ‘n lys van al die verwante woorde (sinonieme en antonieme), frases, gebeurtenisse en enige iets anders wat te doen kan hê met die onderwerp, op te stel.
Om ons studie eenvoudig te hou, gaan ons net op die woorde ‘betroubaar’, ‘betroubare’, ‘getrou’ en ‘getroue’ fokus.
Op dié manier sal jy ‘n idee kry van hoe ‘n onderwerp-studie werk, sonder dat ons te ‘n uitgebreide studie doen.
STAP 2: STEL ‘N VERWYSINGSLYS OP.
In die tweede stap gaan ons ‘n konkordansie gebruik om ‘n lys op te stel van al die verse wat ons oor die onderwerp kan kry.
Ons gaan weereens net ‘n paar verse gebruik, om die studie kort te hou. Ons lysie verse is dan die volgende:
Numerie 12:7
1 Samuel 2:35
Nehemia 7:2
Jesaja 8:2
Psalm 12:2
Spreuke 20:6
Spreuke 28:20
Mattheus 24:45
1 Korinthiërs 1:9
1 Timotheus 1:12
2 Timotheus 2:2
1 Johannes 1:9
Hierdie is net ‘n paar verse, daar is nog heelwat ander wat ons ook kon gebruik.
STAP 3 EN 4: STUDEER, VERGELYK EN GROEPEER.
Ons gaan stappe drie en vier saam doen, omdat hulle met mekaar verband hou. In stap 3 studeer ons elkeen van die verse wat ons neergeskryf het. Ons skryf neer wat ons oor die onderwerp in elkeen van die verse leer. Dan gaan ons ook enige skrifgedeeltes wat met mekaar verband hou, bymekaar groepeer. Dis stap 4.
Numeri 12:7 – God noem Moses ‘n betroubare man. Geen kruisverwysings.
1 Samuel 2:35 – Daar word geprofeteer dat Samuel ‘n betroubare man sal wees. ‘n Betroubare persoon is gehoorsaam aan die wil van God. Geen kruisverwysings.
Nehemia 7:2 – Nehemia noem Ganani ‘n betroubare man. ‘n Betroubare persoon word in leiersposisies aangestel. Kruisverwysing – Mattheus 24:45.
Jesaja 8:2 – Uria en Sagaria was betroubare getuies in die oë van God. Geen kruisverwysings.
Psalm 12:2 – Daar is min mense wat betroubaar is. Kruisverwysings – Spreuke 20:6; Filippense 2:19-20.
Spreuke 20:6 – Min betroubare mense in die wêreld. ‘n Betroubare persoon sien ook na ander se belange om. ‘n Onbetroubare persoon stel net in homself belang. Kruisverwysing – Filippense 2:19-22.
Spreuke 28:20 – ‘n Betroubare persoon ervaar baie seëninge. Hy het die regte waardes, wat teenstrydig is met waardes van die mens wat gou ryk wil word. Geen kruisverwysings.
Mattheus 24:45 – ‘n Betroubare persoon word in leiersposisies aangestel. Kruisverwyising – Nehemia 7:2.
1 Korinthiërs 1:9 – God is getrou. Kruisverwysing – 1 Johannes 1:9.
1 Timotheus 1:12 – Paulus was betroubaar in God se oë. God gee ‘n bediening aan ‘n betroubare persoon. Geen kruisverwysing.
2 Timotheus 2:2 – God vertrou geestelike waarhede aan ‘n betroubare persoon toe. ‘n Betroubare persoon leer dit wat hy geleer het, weer vir andere.
1 Johannes 1:9 – God is getrou. Kruisverwysing – 1 Korinthiërs 1:9.
STAP 5: ‘N SAMEVATTING VAN DIE STUDIE.
Ons gaan nou die verskillende dinge wat ons geleer het logies bymekaar sit en ‘n samevatting van ons studie skryf.
- GETROUHEID IS ‘N GODDELIKE KWALITEIT.
a. 1 Korinthiërs 1:9.
b. 1 Johannes 1:9.
- NIE BAIE BETROUBARE MENSE IN DIE WêRELD NIE.
a. Psalm 12:2
b. Spreuke 20:6
- BYBELSE VOORBEELDE VAN BETROUBARE MENSE.
a. Moses — Numeri 12:7
b. Samuel — 1 Samuel 2:35
c. Ganani – Nehemia 7:2
d. Uria en Sagaria — Sagaria 8:2
e. Paulus — 1 Timotheus 1:12
- KARAKTER-EIENSKAPPE VAN ‘N BETROUBARE PERSOON.
a. Hy sien om na ander se belange, nie net sy eie nie. (Spreuke 20:6; Filippense 2:19–22).
b. Sy waardes is reg. Hy wil nie gou ryk word nie (Spreuke 28:20).
c. Hy is gehoorsaam aan die wil van God (1 Samuel 2:35).
d. Hy leer die waarhede wat hy geleer het, weer vir andere (2 Timotheus 2:2).
- VOORDELE VAN BETROUBAARHEID.
a. ‘n Betroubare persoon word in leiersposisies aangestel (Nehemia 7:2; Mattheus 24:45).
b. Betroubare persone ervaar baie seëninge (Spreuke 28:20).
c. God vertroue bedieninge aan betroubare persone toe (1 Timotheus 1:12).
d. Daar word geestelike waarhede aan ‘n betroubare persoon toevertrou (2 Timotheus 2:2)
Besoek ons winkel vir Bybelstudie-hulpmiddele

STAP 6: TOEPASSING.
Die laaste stap het eintlik twee stappe. Eers gaan ons ‘n kort paragraaf skryf waarin ons opsom wat ons geleer het. Dan gaan ons ‘n toepassing skryf, met ander woorde hoe ons dit wat ons geleer het, in ons lewens gaan toepas.
OPSOMMING.
God is getrou en daarom moet ek, as Sy kind, ook hierdie eienskap in my lewe hê. Ek moet betroubaar wees in alles wat ek doen. Dis tot my eie voordeel, maar ook tot die voordeel van ander mense.
TOEPASSING.
Elke mens gaan ‘n ander toepassing skryf omdat almal se lewens uniek is. So, om ons toepassing maklik te maak en jou ‘n idee te gee hoe om dit te doen, kom ons veronderstel die Here het deur die studie met ons gepraat oor getrouheid in ons gebedslewe. Ons kan dan ‘n toepassing skryf wat ongeveer só lyk:
God het in hierdie studie oor betroubaarheid met my gepraat oor my gebedslewe, dat ek meer getrou moet bid. Ek gaan elke dag na ontbyt 20 minute opsy sit om te bid. Ek gaan ‘n lys maak van mense en dinge waarvoor ek wil bid en dit in my gebedstyd gebruik.
‘N ONDERWERP-STUDIE OOR BETROUBAARHEID.
Dis dan hoe ‘n mens ‘n onderwerp-studie doen. Jy kan hierdie stappe gebruik om enige onderwerp in die Bybel, waaroor jy meer wil weet, te studeer.
Hier is ‘n paar idees van onderwerpe wat jy kan gebruik:
Beloftes van God.
Dissipelskap.
Wonderwerke in die Bybel.
Gebed.
Oor watter onderwerp sou jy ‘n studie wou doen? Deel met ons in die kommentaar hieronder.

Baie dankie. My studiemetode is ook die Onderwerp-studie. Tans is ek besig met die Vrug van die Gees. Elke maand ‘n ander vrug volgens Galasiërs. Verlede maand was dit geduld. Vir April is dit Selfbeheersing.
Hallo Marlene. Dis ‘n goeie idee om vir ‘n maand lank by een onderwerp stil te staan. Sterkte met jou studies!