
Die mens het ‘n vyand – die duiwel. Van God die eerste mense op aarde geplaas het, is hy besig om in te meng in wat ons vermoë om God te glo. Hy probeer ons, onder andere, sover kry om te twyfel aan God en aan dit wat Hy vir ons sê.
Hy weet as hy dít kan regkry, gaan hy ons kan manipuleer om na sy pype te dans.
In die Bybel lees ons van Adam en Eva en hoe Eva gereageer het toe die slang haar sover probeer kry het om aan God se woorde te twyfel. Ons lees ook in die Nuwe Testament hoe die duiwel Jesus versoek het en wat Sy reaksie daarop was.
Kom ons kyk na die twee reaksies en wat ons daaruit kan leer.
ADAM EN EVA EN DIE SLANG.
In Genesis 3 lees ons van die dag toe die duiwel vir Eva ‘n rat voor die oë gedraai het, en sy en Adam die keuse gemaak het om hóm eerder as vir God te glo.
Jy ken die storie.
Ek is seker sy was rustig in die Tuin, ‘minding her own business’, soos die Engelse sal sê, toe hy opdaag in die vorm van ‘n slang en haar die volgende vraag vra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”
Sy byt dadelik aan die aas, en begin vir hom vertel wat God gesê het, maar met so ‘n stertjie by – “…ons mag dit nie aanraak nie…”
Dan speel hy sy troefkaart.
“Nee wat,” sê hy, “julle sal nie regtig sterf nie. Wat eintlik gaan gebeur is dat julle oë gaan oopgaan en julle sal ‘soos God wees deurdat julle alles kan ken’.”
Dit sit haar aan die dink.
Is God dan sowaar besig om vir hulle te jok? Is Hy besig om iets, wat so wonderlik kan wees, van hulle af weg te hou? (In haar redenasie vergeet sy toe ook heeltemal daarvan dat sy en Adam in elk geval soos God was, want hulle is na Sy beeld en gelykenis geskep.)
Dan vang sy ‘n dom ding aan. Sy besluit dat die slang reg is – die boom se vrugte is dan so mooi om na te kyk, en as hulle jou nog boonop kennis kan gee, waarom nie? – en sy eet van die vrugte. Sy gee ook vir Adam daarvan en hy eet.
En so beland die hele mensdom in die mag van die duiwel en verloor hulle verhouding met God.
JESUS EN DIE DUIWEL.
In Mattheus 4 lees ons hoe die duiwel vir Jesus versoek het.
Vir veertig dae en veertig nagte lank het Jesus gevas. Daarna was Hy honger.
Die duiwel maak toe gebruik van die geleentheid.
Eers sê hy vir Jesus om klippe in brood te verander. Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.'”
Toe probeer hy om Jesus sover te kry om van die hoogste punt van die tempelgeboue af te spring. En hierdie keer voeg hy sowaar iets by wat in die Bybel in Psalm 91 staan! Hy sê: “As u die Seun van God is, spring hier af! Daar staan immers geskryf, ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee – op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie dalk teen ‘n klip jou voet stamp nie.'”
Maar weer sê Jesus vir hom: “Daar staan ook geskryf, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.'”
Dan probeer die duiwel ‘n laaste keer. Hy wys Jesus al die koninkryke van die wêreld en sê hy sal dit alles vir Hom gee as Hy neerkniel en hom aanbid.
Jesus se antwoord?
“Gaan weg, Satan! Want daar staan geskryf, ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.'”
Sien jy die verskil tussen Jesus se optrede en Eva s’n?
Toe hy vir Eva vra, Het God regtig gesê?, begin sy aan God se woorde twyfel. Sy vertel ook vir die slang wat God gesê het, maar las ‘n stertjie, wat nie waar was nie, by.
Jesus, daarenteen, twyfel glad nie. Hy kies om God te glo en staan elke keer teen die versoeking deur presies te sê wat Hy gesê het.
DIESELFDE TAKTIEK.
Die ou duiwel se taktiek het tot vandag toe nog nie verander nie.
Hy kom steeds by ons en vra, “Het God werklik gesê…?”
En, net soos Eva, val ons telkens netjies in sy strik en begin twyfel aan wat God gesê het.
As jy eers begin wonder of God regtig gesê het, of Hy dit regtig bedoel het, of dit regtig die waarheid is, dan het jy al klaar verloor.
God se woorde is altyd waar. Hy kan nie jok nie, so Hy sal nooit vir jou ‘n leuen vertel nie.
Sy beloftes is ook altyd waar, want Hy maak nooit ‘n belofte wat Hy nie nakom nie, en Jesus is die ‘ja’ op al Sy beloftes.
Wanneer die duiwel weer na jou toe kom met die vraag, “Het God werklik gesê…?”, gebruik die Swaard van die Gees wat God vir jou gegee het.
Doen wat Jesus gedoen het toe hy Hom versoek het.
Gebruik die Woord en sê vir hom presies wat God gesê het. Moenie daaroor twyfel nie en moenie iets bylas wat God nooit gesê het nie.
Staan op die Woord.
En die duiwel sal, soos wat met Jesus gebeur het, die aftog blaas en van jou af weggaan.

Baie dankie Risa vir jou emails wat so baie vir my beteken, baie dae is dit vir my asof ek antwoorde kry oor dit wat ek voor vra, en jou emails gee my aansporing om sterker te groei in Jesus se liefde
Baie dankie ek geniet jou Jesus liefde
Ek is so bly dit beteken iets vir jou! Dankie vir jou dankie!
Wil graag as dit moontlik is die hele Bybel kursus van die begin wil volg
Joey, ek is nie seker waarvan jy praat as jy sê Bybelkursus nie, maar as jy dalk praat van die Bybelstudie, wat ons oor Markus gedoen het, hier is die skakel na al die studies: https://www.bybel-en-gebed.co.za/markus-evangelie-gratis-bybelstudie/