HOE OM BYBELVERSE TE MEMORISEER

Hoe om Bybelverse te memoriseer

Om Bybelverse te memoriseer is ‘n baie verrykende geestelike dissipline. Maar waar begin ‘n mens? Hier is vyf wenke wat jy kan gebruik om jou daarmee te help.

Wanneer jy wil aansluit by ons Facebook-groep, moet jy twee vrae antwoord. Die eerste vraag is: Waarmee sukkel jy wanneer dit by Bybelstudie kom? Keer op keer is die antwoord: Ek sukkel om Bybelverse te onthou.

Sukkel jy ook daarmee?

Baie mense het in kerke grootgeword waar hulle van kleinsaf geleer het hoe om verse te memoriseer. As jy een van daardie mense is, dan ken jy verse soos:

Johannes 3:16: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Jeremia 29:11: “Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle ‘n toekoms en hoop te gee.”

Filippense 4:6-7: Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.

Johannes 1:1: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

Maar ongelukkig was nie almal van ons so gelukkig om in sulke kerke te wees nie en sukkel ons om verse te memoriseer.

As jy ook daarmee sukkel, dan is hierdie artikel net vir jou. Ons gaan kyk na vyf dinge wat jy kan doen om vinnig en maklike, en effektief!, verse uit die Bybel te memoriseer.

‘N LYS VERSE OM TE MEMORISEER.

Een van die grootste struikelblokke wanneer dit kom by die memorisereing van Bybelverse is om te besluit watter verse jy gaan memoriseer. Die Bybel is ‘n dik boek met soveel wonderlike verse en waarhede in. En dit kan nogal oorweldigend word wanneer jy nie weet wat jy wil memoriseer nie.

Een wenk is om ‘n lys te maak van verse wat jy wil memoriseer.

Kry vir jou ‘n notaboekie wat jy net vir hierdie lys gebruik. As daar ‘n vers vir jou uitstaan wanneer jy Bybel lees of Bybelstudie doen, skryf dit in jou notaboekie. Jy kan die hele vers uitskryf of net die Bybelboek, hoofstuk en versnommer neerskryf.

Wanneer jy ‘n vers gememoriseer het, kan jy dit afmerk in jou notaboekie.

Onthou ook om gereeld die verse wat jy klaar gememoriseer het te herhaal, sodat jy dit nie vergeet nie.

As jy nie lekker weet waar om te begin nie, hier op Bybel En Gebed is daar ‘n hele paar artikels met Bybelverse oor verskillende onderwerpe. Hier is skakels na ‘n paar van dié artikels:

God se liefde: 39 Bybelverse

God is getrou – 33 Bybelvers

Vertroue op God: 23 Bybelverse

SKRYF DIE VERSE WAT JY LEER.

Dis ‘n goeie idee om Bybelgedeeltes met die hand neer te skryf. Dit help jou om rustig na die teks te kyk en daaroor na te dink. Dit aktiveer ook ‘n ander gedeelte in jou brein as wat geaktiveer is wanneer jy net lees.

Daar is meer as een manier wat jy kan gebruik om die verse wat jy memoriseer, neer te skryf.

Jy kan vir jou ‘n notaboek of joernaal koop en jou verse daarin skryf. As jy kunstig is, kan jy selfs jou joernaal versier net om dit mooi en lekker vir jouself te maak.

Jy kan ook indekskaartjies gebruik en die verse daarop skryf.

Of jy kan iets soos Canva gebruik om jou eie bladsy te ontwerp om jou verse op te skryf. Druk soveel van die bladsye as wat jy nodig het en sit dit in ‘n lêer.

Nou kan jy elke nou en dan teruggaan en jou verse weer lees om jou gefokus te hou op God se Woord en seker te maak jy onthou nog jou vers. Jy kan ook die verse gebruik wanneer jy bid as deel van jou gebed.

SIT JOU VERSE OP ‘N SIGBARE PLEK.

Onthou jy die spreekwoord, Uit die oog, uit die hart?

As jy wil leer om verse te memoriseer, moet jy die verse op ‘n plek hê waar jy dit gereeld kan sien.

Daar is sommer ‘n hele klomp maniere wat jy kan gebruik om seker te maak jy sien die verse elke dag.

Jy kan ‘n swartbord koop en jou vers wat jy memoriseer daarop neerskryf. Sit dit dan op ‘n plek waar jy dit elke dag gaan sien, soos in die kombuis by die ketel. Op dié manier gaan jy die vers sien elke wat jy koffie maak.

Of jy kan jou vers op ‘sticky notes’ skryf. Dis nou daardie gekleurde stukkies papier wat ‘n gomstrepie aan die agterkant het, wat jy enige plek kan vasplak. Skryf jou vers op ‘n hele paar ‘sticky notes’ en plak dit oral in die huis op. (As die gomstrepie nie die papiertjies in plek wil hou nie, gebruik ‘n stukkie Prestik om die nodige te doen.)

As jy jou verse op indekskaartjies geskryf het, kan jy dit in ‘n mooi houer sit. Sit dan die houer op ‘n plek waar jy dit gereeld sien. Wanneer jy die houer sien, haal ‘n paar kaartjies uit en lees dit weer om jou geheue te verfris.

Dan kan jy ook ‘n paar verskillende prentjies maak van die vers wat jy memoriseer en wat jy as agtergrond op jou foon kan gebruik. Canva is weer ‘n goeie opsie as jy sulke agtergrondprentjies wil maak.

SING DIE VERS WAT JY MEMORISEER.

Het jy al agtergekom hoe ‘n liedjie in jou kop kan vassteek? Dit maal oor en oor en ‘n mens raak soms moeilik daarvan ontslae.

Dis waarom dit ‘n goeie idee is om verse wat jy wil memoriseer, te sing. Maak jou eie liedjie of gebruik ‘n bestaande melodie wat vir jou mooi is.

Die Psalms is veral goeie keuses om te sing sodat jy dit kan memoriseer.

Net soos wat ‘n ander deel van jou brein geaktiveer word wanneer jy skryf, word ‘n ander deel geaktiveer wanneer musiek betrokke is.

MEMORISEER SAAM MET IEMAND ANDER.

Dis altyd lekkerder om iets saam met ander te doen as sommer net so op jou eie.

Dit is ook waar van die memorisering van Bybelverse.

As jy ‘n gesin het, begin om saam dieselfde Bybelverse te memoriseer. Julle kan dit dan vir mekaar opsê en selfs ‘n speletjie of kompetisie daarvan maak. (Dis interessant dat daar weereens ‘n ander deel van die brein geaktiveer word wanneer ‘n mens iets opsê!)

Julle kan etenstye gebruik om saam die vers wat julle memoriseer, op te sê. Of julle kan dit doen net voor die kinders bed toe gaan. Dan is daar ook die tye wanneer almal saam in die motor is. Enige tyd wat julle as gesin saam is, kan gebruik word om gou julle vers saam op te sê.

As jy nié ‘n gesin het nie, doen dit dan saam met ‘n vriend of vriendin. Of dalk het ‘n kollega wat ook graag verse wil memoriseer. Vra hom of haar om dit saam met jou te doen.

Ek hoop dat hierdie artikel jou inspireer om sommer vandag nog te begin om Bybelverse te memoriseer. Dis glad nie moeilik as jy die wenke wat ek hierbo genoem het, gebruik nie.

(Bybelverse uit die 2020-Afrikaanse Vertaling)

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *