JESUS IN LEVITIKUS

Jesus in Levitikus

Sien ons vir Jesus in Levitikus? Ja! Elkeen van Israel se feeste en ook die priesterdom is ‘n heenwysing na Hom en wat Hy vir ons aan die kruis kom doen het.

Levitikus is vir meeste mense ‘n moeilike boek. Dit lyk maar so ‘n bietjie vervelig, want waarom moet ons weet van al die verskillende offers wat die Israeliete moes bring? En hoekom moet ons weet van die verskillende feeste wat hulle moes vier en hoe die hoëpriester en die priesters aangetrek was?

Een van die wonderlike dinge omtrent God is dat Hy nooit iets sommer net in die Bybel laat opteken het nie. Alles wat ons daar lees, is met ‘n doel daar geskryf.

Wat is die doel met al die dinge wat ons in Levitikus lees?

Elkeen van hierdie dinge is op een of ander manier ‘n heenwysing na Jesus. In die vorige artikel het ons gekyk hoe die offers heenwys na Jesus. Vandag gaan ons kyk na Jesus in Levitikus, hoe die feeste en die priesterdom heenwys na Hom.

DIE VERSKILLENDE FEESDAE.

Ons lees van die feesdae in Levitikus 23. Van hierdie feeste het in die lente plaasgevind, terwyl ander in die herfs gehou is. Die woorde, “Ek is die Here jou God”, is die skeiding tussen die twee groepe.

Die feeste was:

Sabbat
Pasga of Paasfees
Die Fees van Ongesuurde Brood
Fees van Weke
Die Gedenkdag
Versoeningsdag
Huttefees

SABBAT.

Elke sewende dag was dit Sabbat.

Op daardie dag mag niemand enige werk gedoen het nie. Dit was ‘n rusdag, ‘n dag wat aan God gewy was.

Ons sien Jesus in die Sabbatdag omdat dit ons daaraan herinner dat ons nie werk vir ons verlossing nie. Ons hoef dit nie op een of ander manier te verdien nie. Jesus het aan die kruis gesterf en alles gedoen wat nodig was om ons met God te versoen en heel te maak.

Onthou jy Sy woorde – Dit is volbring – aan die kruis?

Ons kan nou rus in Sy voltooide werk aan die kruis.

PASGA OF PAASFEES.

God het hierdie fees ingestel toe die Israeliete uit Egipte getrek het. Hulle moes die fees bly vier om die uittog te herdenk.

Dit was ‘n familiefees en is in die huise van die mense gehou.

Mense soos vreemdelinge, reisigers en slawe kon ook aan die fees deelneem.

Die eerste keer wat die fees gehou is, het die Isaeliet die lam se bloed aan die deurkosyne gesmeer. Dit was ‘n teken vir die vernietiger om die huis oor te slaan en nie die eersgeborenes dood te maak nie.

In 1 Korinthiërs 5:7b lees ons: “Want ook ons Pasgalam, Christus, is geslag.”

Jesus is ons Paaslam, wat geslag is en gesterf het sodat ons kan lewe.

FEES VAN ONGESUURDE BRODE.

Hierdie fees is gehou net na die Pasga of Paasfees.

Vir sewe dae is geen suurdeeg toegelaat in die Israeliete se huise nie.

Suurdeeg is ‘n simbool van sonde en korrupsie. Dis waarom Paulus vir die gelowiges in Korithe gesê het die ou suurdeeg te verwyder (1 Korinthiërs 5:1-8).

Jesus was sonder sonde. Dis waarom Hy die volmaakte offer kon wees. Hy het geen ‘suurdeeg’ in Hom gehad nie.

FEES VAN WEKE.

In Engels staan hierdie fees bekend as ‘First Fruits’.

Dit het 50 dae na die graanoes, aan die einde van die oes, plaasgevind.

Die onderhouding van die fees het bepaal dat mense die eerste gerf van die graanoes na die priester moes bring. Hy het die gerf dan deur bewegings simbolies vir die Here aangebied. Dit het gesimboliseer dat die hele oes aan die Here behoort het.

Ons eerste, of ‘first fruits’, behoort ook aan die Here. Ons het alles in die eerste plek uit Sy hand ontvang.

Jesus is ook ‘n eerste – Hy was die eerste wat uit die dood opgestaan het. Paulus druk dit só uit: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes” (1 Korinthiërs 15:20).

Die dood kon Hom nie vashou nie, want Hy was sonder sonde.

DIE GEDENKDAG.

Hierdie fees is ‘n heenwysing na die bediening van die Heilige Gees. Tydens die fees is brood wat gerys het, soos ons dit vandag eet, geoffer. Net soos met die gerf tydens die Fees van Weke, het die priester die brode met bewegings simbolies vir God aangebied.

Dit herinner ons aan Jesus, wat gekom het as die Brood van die Lewe om ons elke dag van geestelike voedsel te voorsien. En na Hy opgevaar het hemel toe, het Hy die Heilige Gees gestuur om vir altyd by ons te wees.

DIE RAMSHORINGS.

Die Gedenkdag is ingelei deur die blaas van die ramshoring. ‘n Ramshoring is baie keer gebruik om die stem van God te simboliseer.

Dit is ook simbolies van die trompet wat gaan blaas wanneer Jesus weer terugkom.

VERSOENINGSDAG.

Die Versoeningsdag was een van die belangrikste feeste op die kalender.

Dit het nege dae na die Hebreeuse Nuwe Jaar op die tiende dag van die sewende maand plaasgevind. Tydens hierdie buitengewone Sabbatdag het die hele volk gevas en hulleself verootmoedig.

Van al die volke op aarde was die Israeliete vir God afgesonder om Sy volmaakte verlossing deur Jesus Christus uit te beeld. Ons sien dan ook in Levitikus 16 hoe God in detail vir hulle sê om die dag te onderhou.

Ook hierdie fees is ‘n heenwysing na Jesus. Met Sy dood en opstanding het Jesus versoening gebring tussen ons en God. Hy ís ons Versoening.

HUTTEFEES.

Twee weke na Versoeningsdag het die Israeliete hierdie fees, wat ‘n week lank aangehou het, gevier. Tydens die fees het mense in die veld in hutte, wat van blare en takke gemaak was, gebly.

Dit was ‘n vreugdefees om te vier dat God hulle deur die wildernis na ‘n eie land gebring het.

Wanneer ons van hierdie fees lees, kyk ons in die toekoms in na Jesus se tweede koms. Hy wat vir ons deurboor is om versoening te bring tussen ons en God, is ook die Een wat gaan terugkom om vir altyd tussen ons te woon.

DIE PRIESTERDOM.

Ons lees ook in Levitikus hoe God die priesterdom ingestel het.

Aanvanklik het Hy beplan dat al die Israeliete priesters moes wees. Maar uiteindelik was die stam van Levi afgesonder om priesters te wees.

In hoofstuk 9 lees ons hoe die priesters hulle bediening begin het. Ons lees ook al die instruksies rondom offers wat vir hulleself en vir die volk gebring moes word.

Aäron was die eerste hoëpriester. Jesus is die laaste een.

In Hebreërs 4:14-16 lees ons: “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis. Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het. Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.”

Soos ek hierbo gesê het, het God aanvanklik beplan het dat die hele volk priesters moes wees. Nou is ons, as Sy kinders, konings en priesters.

Ons lees daarvan in 1 Petrus 2:9

: “Julle, egter, is ”n uitverkore geslag’, ”n koninklike priesterdom’, ”n heilige nasie’, ”n volk wat aan God behoort’, ‘sodat julle die deugde kan verkondig’ van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig…”

JESUS IN LEVITIKUS.

Die hele Bybel is ‘n boek oor Jesus en God se verlossingsplan vir die mensdom. Daarom kan ‘n mens Jesus in elke boek sien.

Dis dan ook nie anders met Levitikus nie.

Ons sien vir Jesus in die verskillende offers, in die feeste en in die priesterdom.

En elke keer wat ons Hom sien, leer ons Hom ‘n bietjie beter ken. Ons besef ook hoe wonderlik dit is dat God ons, as nietige en sondige mense, kom red het deur Hom.

Ek hoop dat hierdie artikel, en ook die vorige een oor die offers, jou met nuwe oë na Levitikus sal laat kyk.

Dis nie regtig ‘n vervelige boek nie, want alles daarin is ‘n heenwysing na die Een wat Sy lewe vir jou kom gee het, omdat Hy jou oneindig liefhet!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *