PSALM 103 – GOD SE WELDADE

Psalm 103 - God se weldade

Psalm 103 is een van my gunsteling psalms in die Bybel. Daar is soveel wonderlike dinge omtrent God, die mens en die skepping wat ons daaruit kan leer.

Vandag gaan ons net die eerste vyf verse van hierdie psalm so ‘n bietjie van nader bekyk. So vat jou Bybel en lees eers die psalm deur voor jy verder lees.

DIE WELDADE VAN DIE HERE.

God is goed en Hy is altyd besig om dinge te doen wat tot ons beswil is. Hy doen nie goeie dinge aan ons omdat ons dit verdien nie, maar omdat Hy ons liefhet en net die beste vir ons wil hê.

Dawid het dit ook so in sy lewe ondervind. Hy het keer op keer gesien hoe goed God vir hom was. Selfs nadat hy sonde gedoen het, het hy steeds God se goedheid ervaar.

In die eerste vyf verse van Psalm 103 deel hy dan ook ses weldade van God met ons.

GOD VERGEWE ONS SONDE.

“Hy wat al jou sondeskuld vergewe…” (Psalm 103:3a).

Dawid kan hier beslis uit ondervinding praat.

In 2 Samuel 11 lees ons dat hy by Batseba, ‘n getroude vrou, geslaap het. Toe sy swanger raak, probeer hy sy sonde wegsteek.

Hy laat kom haar man, Urija, van die oorlogsveld af. Hy maak hom dronk in die hoop dat hy by sy vrou sal slaap. Maar dit gebeur nie.

Toe hierdie plan van hom misluk, gee Dawid die bevelvoerder oor sy leër opdrag om Urija aan die voorpunt van die geveg te sit. Tydens die geveg word Urija doodgemaak.

Nie een van hierdie dinge was reg in God se oë nie. Hy stuur dus vir Natan, die profeet, om Dawid daaroor te konfronteer.

En dadelik erken Dawid dat hy teen God gesondig het.

Dan sê Natan vir hom: “Die Here self het jou sonde opsy geskuif” (2 Samuel 12:13).

God se hart is om ons te vergewe. Hy is barmhartig en genadig en wil nie ons sonde teen ons hou nie.

Daarom stuur Hy vir Jesus, wat aan die kruis vir die sondeskuld van die hele wêreld betaal.

Wanneer ons in Hom glo, word ons gereinig van alle sonde en ongeregtigheid.

Net soos Dawid uit ondervinding kon praat van God se vergifnis, kan ek en jy dit ook doen.

Voor jy verder lees, word eers ‘n rukkie stil by die Here. Sê vir Hom dankie dat Hy jou sonde vergewe het, dat Hy jou vrygespreek het.

GOD GEE GENESING.

“…wat al jou siektes genees…” (vs.3b).

Die tweede weldaad wat Dawid vir ons noem, is dat God siektes genees.

Oral in die Bybel, in die Ou en Nuwe Testament, lees ons van mense wat deur God genees is.

Dink maar aan koning Hiskia. Hy was dodelik siek en God het vir hom gesê hy gaan sterf. Hiskia het bitterlik gehuil en tot God gebid. Hy het Hom daaraan herinner dat hy altyd reg gedoen het en getrou was aan Hom.

God stuur toe vir Jesaja om vir hom te sê hy sal nie sterf nie, dat daar nog 15 jaar by sy lewe gevoeg gaan word (2 Konings 20). En Hiskia het gesond geword.

Of wat van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, van wie ons in die Nuwe Testament lees?

Sy het haar voorgeneem om net aan die soom van Jesus se kleed te raak. Sy het geglo as sy dit doen, sal sy gesond word.

En toe sy aan Hom raak, is dit presies wat gebeur het (Markus 5:25-34).

Dan is daar natuurlik ook die tien melaatses, wat na Jesus toe gekom het vir genesing. Hy stuur hulle om hulleself vir die priester te gaan wys. Dit was die priester se taak om te bepaal of iemand wat siek was, gesond geword het. Op pad na die priester, word hulle gesond.

En wat gebeur? Net een man draai om en kom sê vir Jesus dankie vir sy genesing.

JOU GELOOF HET JOU GERED.

Dis interessant dat Jesus vir beide die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en die melaatse wat kom dankie sê het, dieselfde woorde sê.

Vir altwee sê Hy: “Jou geloof het jou gered.”

In die Amplified Bible staan daar Jesus het vir hulle gesê, “Your faith has restored you to health.” Die woord ‘restore’ beteken teruggee, herstel, vernuwe, terugsit, genees.

Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, het al haar geld aan dokters uitgegee en nie beter geword nie. As jy hierbo lees wat ‘restore’ beteken, dink jy nie ook Jesus het dit wat sy aan besittings verloor het, ook vir haar teruggegee nie?

En wat van die melaatse man? Melaatsheid veroorsaak dat van jou ledemate afval. Lees weer wat ‘restore’ beteken. Dink jy ook dat Jesus die man wat kom dankie sê het se ledemate ook herstel het, sodat hulle almal daar en op hulle plek was?

God het mense in die Ou Testament genees. En nou, onder die nuwe verbond, genees Hy steeds.

In Christus is daar vir elkeen wat glo genesing te vind. Dit maak nie saak of jy geestelik, fisies, of emosionele genesing nodig het nie. Jy kan dit by God kry.

VRYGEKOOP VAN DIE GRAF.

“…wat jou lewe vrykoop van die graf…” (Psalm 103:4a).

Die derde weldaad van God wat Dawid noem, is dat Hy ons vrykoop van die graf.

Hier word nie van ‘n fisiese graf gepraat nie, want almal van ons gaan op een of ander stadium doodgaan.

Nee, daar word van die ewige graf, die ewige dood sonder God, gepraat.

In Sy groot genade het God vir Jesus gestuur om vir ons sondes te sterf.

Deur Sy dood en opstanding het Hy die weg gebaan sodat mense weer met God in ‘n verhouding kan staan.

Elkeen wat glo, word skoongewas en vrygespreek en het ‘n verhouding met God. So ‘n persoon gaan steeds een keer fisies doodgaan. Maar hy gaan nie die tweede dood beleef nie.

Mense wat egter nie in Jesus glo nie, gaan twee keer sterf. ‘n Eerste, fisiese keer, wanneer hulle gees hulle liggaam verlaat. Maar hulle gaan ook ‘n tweede keer sterf. Dit beteken nie hulle gaan ophou bestaan nie, maar wel dat hulle vir altyd van God geskei gaan wees.

Sien jy hoe Jesus jou vrygekoop het van die graf? Jy is ‘n kind van God, en daar is niks wat jou ooit weer van Hom kan skei nie. Jy het die vooruitsig dat jy vir altyd saam met Hom in die hemel gaan wees.

GEKROON MET LIEFDE EN ONTFERMING.

“…jou kroon met troue liefde en ontferming…” (vs.4b).

‘n Kroon is iets wat gesien kan word. Dink maar aan die foto’s wat jy al van die koningin van Engeland gesien het, waar sy haar kroon dra. ‘n Mens kan dit nou nie juis mis nie.

Die kroon sê ook sy is iemand spesiaal, iemand met gesag.

God kroon ons as Sy kinders met Sy troue liefde en ontferming.

Dit beteken mense kan dit in ons lewens sien.

Die Israeliete was God se uitverkore volk. Wanneer hulle Hom gevolg het, kon die nasies rondom hulle sien Hy is by hulle. In Sy groot liefde en ontferming het Hy vir hulle gesorg, namens hulle geveg, hulle op die regte pad gelei, ensovoorts. En die ander volke kon dit nie miskyk nie.

God doen steeds dieselfde vir jou en my. Wanneer ons in Hom glo en aan Hom gehoorsaam is, kan mense dit in ons lewens sien. Hulle mag dalk nie regtig weet wat hulle sien nie, maar hulle weet iets is anders omtrent ons.

En hulle kan sien hoe God vir ons sorg, hoe Hy voorsien, hoe Hy beskerm, wysheid gee en ons lei na Sy plan vir ons lewens. Miskien weet hulle ook in hierdie geval nie regtig wat hulle sien nie, maar feit bly staan, hulle kan dit sien.

DIE GOEIE IN OORVLOED.

“…wat jou begeerte met die goeie versadig…” (Psalm 103:5a).

Elke kind van God kan na sy lewe kyk en die goeie daarin raaksien.

Daar mag dalk dinge in jou lewe wees wat nie so goed was nie – almal van ons het sulke dinge. Maar as jy eerlik is, dan moet jy erken dat daar ook baie goeie dinge in jou lewe is en was.

Alles wat goed is, kom uit die hand van God. Hy gee dit in oorvloed, as ons Hom daarvoor vra en vertrou. En baie keer gee Hy sommer sonder dat ons vra, bloot omdat Hy ons liefhet en omdat Hy goed is.

In Jakobus 1:17 lees ons: “Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie.”

En in Mattheus 7:11 staan daar: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader in die hemele goeie dinge gee vir hulle wat Hom vra!”

DIE JEUGDIGE KRAG VAN DIE AREND.

“Soos ‘n arend word jou jeug dan weer nuut” (vs.5b).

Ons lees hierdie selfde idee in Jesaja 40:31. Daar staan: “Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.”

In die 2020-vertaling van die Bybel word genoem dat ‘n arend se vere tydens verveertyd vervang word. Ek dink ‘n arend wat nuwe vere gekry het, kan dan weer vlieg asof hy ‘n jong arend is.

Daarom is die gedeelte uit Jesaja 40 vir my so ‘n mooi verduideliking van wat God vir ons doen.

Is jy moeg en afgemat? Kom na Jesus toe (Mattheus 11:28). Hy sal jou nuwe lewenskrag gee (Psalm 23:3). Hy sal jou help om weer moed te hê om aan te gaan met die lewe.

En jy sal soos ‘n arend saam met Hom die hoogtes in sweef, ver bo die storms van die lewe.

ONTHOU EN LOOF.

In die eerste twee verse van Psalm 103 herinner Dawid homself daaraan om God te loof en prys. Hy herinner homself aan God se weldade en maan homself om hulle nie te vergeet nie.

Ek en jy kan vandag ook hierdie twee verse gebruik om onsself te herinner. Onthou Sy weldade aan jou en moet hulle nie vergeet nie:

God is goed vir jou en gee die goeie in oorvloed.

Hy vergewe jou sonde en genees jou – gees, siel en liggaam.

Hy kroon jou met Sy troue liefde en ontferming en gee vir jou nuwe lewenskrag.

En Jesus is besig om vir jou ‘n plek in die hemel voor te berei, waar jy vir ewig saam met God gaan wees.

Word nou weer stil by die Here en loof vir Hom vir elkeen van hierdie weldade wat Hy aan jou doen!

Deel hierdie blad

4 comments

    1. Hi Nico. Ek sal een of ander tyd ‘n artikel skryf oor die betekenis van die res van Psalm 103.

  1. baie dankie vir die boodskap. Weereens het ek besef dat ons n Groot God dien en dat Hy ons nie verlaat nie , maar hy is elke dag dieselfde en Hy is wonderlik

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *