
Hier by Bybel En Gebed gesels ons gereeld oor Bybelstudie-wenke. Jy kan van die vorige artikels HIER en HIER lees. Vandag het ek nog Bybelstudie-wenke wat ek met wil jou deel.
BEGIN MET GEBED.
Een van die grootste redes waarom ons die Bybel studeer, is om God beter te leer ken. Begin dus elke studiesessie deur te bid en God te vra om Homself aan jou te openbaar. Jy kan Hom vertrou om dit te doen!
Vra Hom ook om jou te leer en jou te help om te verstaan wat jy leer.
GEBRUIK ‘N PLAN.
Baie mense se eerste vraag wanneer dit by Bybelstudie kom, is dat hulle nie weet waar hulle moet begin nie. Die Bybel is ‘n lang boek met baie hoofstukke, so dis seker logies dat mense daaroor wonder!
Daarom is dit ‘n goeie plan om ‘n Bybelleesplan of -studieplan te kry om jou daarmee te help. Só ‘n plan gee jou ‘n aanduiding van waar jy elke dag moet lees of studeer. Dus hoef jy nie te wonder nie!
Daar is ook baie Bybelstudieboeke beskikbaar by plekke wat boeke verkoop. Jy kan ook vir jou so ‘n Bybelstudie koop en dit deurwerk. Sulke studies gaan gewoonlik oor ‘n spesifieke onderwerp. Meeste het vrae wat jy kan antwoord om dit wat jy studeer, beter te verstaan. As jy so ‘n studieboek gebruik, het jy weereens nie nodig om te wonder waar jy moet studeer nie.
KONTEKS.
Die konteks van ‘n vers of verse is altyd baie belangrik. Sonder konteks is dit baie maklik om ‘n gedeelte verkeerd te verstaan. G’n wonder iemand het gesê dat as jy die ‘text’ uit ‘context’ haal, dan sit jy met ‘n ‘con’ nie!
Maak dus altyd ‘n punt daarvan om die gedeelte wat jy studeer in konteks te lees.
Lees die hele hoofstuk of net die verse voor of na die gedeelte wat jy studeer.
As jy besig is om ‘n boek van die Bybel te studeer, lees die hele boek voor jy dit begin studeer. Dit sal jou ‘n oorsig gee van waaroor die boek gaan.
SKRYWER EN AAN WIE GESKRYF.
Net soos konteks belangrik is, is dit ook belangrik om te weet wie die skrywer van die gedeelte is. En natuurlik moet jy weet aan wie dit geskryf is. Dit sal jou ook help om die gedeelte te verstaan.
Dink nou maar aan die Ou Testament. Daar is baie dele in die Ou Testament wat vir die Israeliete geskryf is. Dis nou dinge soos die verskillende uitsprake van die profete. Keer op keer waarsku God hulle dat Hy hulle gaan straf omdat hulle afgode aanbid. Hulle luister nie en dan sê Hy dat Hy een of ander van hulle vyande gaan gebruik om hulle te straf.
Ons kan wel uit hierdie gedeeltes leer en kan sien hoe ernstig God is oor die aanbidding van afgode. Dit kan ons laat nadink oor ons eie lewens en vir ons wys waar ons dalk ook ‘afgode’ het wat ons voor God plaas. Maar ons hoef nooit bang te wees dat God ons ‘vyande’ sal gebruik om ons te daaroor te straf nie. Hoekom? Want Jesus het reeds die straf vir ons sondes gedra.
Sien jy waarom dit belangrik is om te weet vir wie die gedeelte geskryf is?
BEREID OM TE LEER.
Bybelstudie is nie net ‘n manier om ons koppe vol kennis te maak nie. Dis ‘n manier om by God te leer.
Wees dus bereid om te leer wanneer jy Bybelstudie doen.
Hou aan om vrae oor die teks te vra. As jy moeilike vrae het wat jy nie nou kan antwoord nie, vra steeds die vrae. Moenie moed opgee wanneer jy nie verstaan nie. Vertrou die Here dat Hy jou op die regte tyd gaan help om te verstaan.
DIE BYBEL INTERPRETEER DIE BYBEL.
Hierdie is weereens net so belangrik soos konteks!
God se Woord is wonderbaarlik aanmekaar geweef. Een gedeelte werp lig op ‘n ander, wat weer lig werp op ‘n ander. Met die regte ‘lig’ kan jy selfs Openbaringe verstaan!
Gebruik dus die Bybel om die Bybel te interpreteer.
‘n Bybel met kruisverwysings sal jou baie help om die verse of gedeeltes wat met mekaar verband hou, op te spoor.

LEER OM TE LUISTER.
Ek het hierbo gesê een van die redes waarom ons Bybelstudie doen is om God beter te leer ken. Nog ‘n rede is sodat Hy ons kan leer.
Maar ons moet Hom kans gee om met ons te praat sodat Hy ons kan leer en ons help verstaan.
Leer dus om te luister. Hou elke nou en dan op met studeer en sit net stil voor die Here. Wag op Hom om met jou te praat. Hy kan dalk vir jou sê om ‘n spesifieke vers te lees, wat jou gaan help verstaan wat jy studeer. Hy kan jou ook in daardie tye wysheid en insig gee terwyl jy net stil by Hom sit.
Moenie deur jou studietyd jaag nie, want dan gaan jy nie kan luister en van God leer nie.
‘N LEWENSLANGE LEERPROSES.
Op Bybel En Gebed se Facebook-groep vra ek die vraag wat mense se grootste struikelblok is wanneer dit by Bybelstudie kom. Meeste antwoord dat hulle nie die Bybel verstaan nie.
Maar die Bybel is nie moeilik om te verstaan nie. As jy tyd opsy sit om dit gereeld te lees en studeer, sal jy dit beter en beter begin verstaan.
Die duiwel sou jou graag van die teendeel wou oortuig, want dan gaan jy moed opgee nog voor jy begin het. Moet dus nie na hom luister nie.
Hoewel jy nie dadelik alles gaan verstaan wanneer jy begin studeer nie, gaan dit jou help om te begin verstaan. Ek is al jare met die Bybel besig, en ek leer steeds elke dag en week iets daaruit!
‘N STUDENT VAN DIE BYBEL.
Om ‘n ware student van die Bybel te wees, beteken dat jy dit elke dag lees of studeer. Ons het nie almal tyd om elke dag Bybelstudie te doen nie, maar ons kan dit almal elke dag lees – dis nou as ons wil!
Daar word gesê dat ‘n mens tyd maak vir die dinge wat vir jou belangrik is. As die Bybel regtig vir jou belangrik is, sal jy tyd maak om dit daagliks te lees. Jy sal ook tyd maak om ten minste een keer ‘n week ‘n bietjie dieper te studeer.
Maak dus tyd om jou Bybel te lees en te studeer en word ‘n ware student van die Bybel.
INTERPRETASIE IS BELANGRIK.
In elke artikel wat ek oor Bybelstudie-wenke skryf, sal jy sien dat ek skryf oor toepassing. Om maar net die Bybel te lees en te studeer gaan geen verandering in jou lewe bring as jy nie ook toepas wat jy leer nie.
Maar om te weet hoe jy ‘n gedeelte in jou lewe moet toepas, moet jy eers weet wat die gedeelte beteken.
In plaas daarvan om te vra, “Wat beteken hierdie gedeelte vir my?”, vra eerder, “Wat beteken hierdie gedeelte?”
Dít is interpretasie.
Daarna kan jy vir God vra hoe jy dit in jou lewe moet toepas.
DIE SAAD VAN DIE WOORD.
In die gelykenis van die saaier (Markus 4:1-9;13-20) sê Jesus dat God se Woord saad is wat in ons harte gesaai word.
Wanneer jy die Bybel lees of dit studeer, glo wat jy leer. Op dié manier is jy besig om deur geloof saad in jou hart te saai.
Wanneer dit in jou hart gesaai is, kan dit groei en vrug dra in jou lewe.
Ek vertrou dat hierdie Bybelstudie-wenke jou gaan help wanneer jy Bybelstudie doen.
Bybel En Gebed het ‘n gratis e-boekie met Bybelstudie-metodes om jou verder in jou studies te help. Vul net jou inligting hieronder in en ek stuur vir jou die skakel na die boekie.
