
Eksodus is een van die eerste vyf boeke van die Bybel, wat bekend staan as die Pentateug. Dit beteken eenvoudig ‘vyf boeke’. Hierdie vyf boeke sluit in Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium.
Ons het ‘n paar weke gelede gekyk na dinge wat jy oor Genesis moet weet. In hierdie artikel gaan ons kyk na ‘n paar dinge wat jy oor Eksodus moet weet. Dit gee jou ‘n bietjie agtergrond en sal jou help om Eksodus beter te verstaan.
WIE HET EKSODUS GESKRYF?
Net soos met Genesis, is daar geen twyfel daaroor dat Moses die skrywer van Eksodus was nie. Hy het die boek geskryf gedurende die veertig jaar wat die Israeliete in die wildernis rondgetrek het.
Hoe weet ons Moses het dit regtig geskryf?
Daar is drie redes:
- Dele van Eksodus word direk aan Moses verbind (Eksodus 24:3-4a).
- In Johannes 1:45 noem Filippus dat Moses dit geskryf het.
- En die belangrikste, in Markus 7:10 sê Jesus Self dat Moses die skrywer van Eksodus 20:12 en Deuteronomium 5:16 was (Markus 7:10).
WAAR SPEEL EKSODUS AF?
Dele van Eksodus speel af in Egipte, voor die Israeliete die land verlaat het. Hierdie gedeelte dek ongeveer 430 jaar.
Ander dele speel af by Sinai, in die wildernis en ook in die woestyn. Hier word ongeveer ‘n jaar gedek.
DIE DOEL VAN EKSODUS.
Eksodus fokus op verlossing en bevryding.
Dit trek ‘n paralel tussen die geskiedenis van die Israeliete en die koms van Jesus en wat Hy op aarde kom doen het.
‘N OORSIG VAN EKSODUS.
God openbaar dinge altyd stuk-stuk.
In Genesis sien ons hoe Hy ‘n verbond sluit met Abraham en sy familie.
Eksodus vertel weer vir ons hoe daardie familie ‘n hele volk geword het. Ons lees hoe hulle uit Egipte bevry is en dat God vir hulle die Wet gegee het.
In Eksodus lees ons ook van die volk se seremonies en aanbidding.
Die belangrikste twee hoofstukke in Eksodus is Eksodus 12 en Eksodus 20. Eksodus 12 handel oor die Pasga of Paasfees. En in Eksodus 20 lees ons die Tien Gebooie.

HOOFPUNTE VAN EKSODUS.
I. VERLOSSING VAN SLAWERNY.
Die eerste 18 hoofstukke van Eksodus handel oor die volk se verlossing van slawerny in Egipte. Ons sien dat daar vyf terme is wat gebruik word.
SLAWERNY (EKSODUS 1).
Baie mense weet dit nie, maar die hele Bybel is ‘n verhaal oor bevryding of verlossing.
In Eksodus 1 sien ons dat die Israeliete slawe was van die Egiptenare.
Net so is elke mens voor sy wedergeboorte ‘n slaaf van sonde. In Johannes 8:34 sê Jesus: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Elkeen wat sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde.”
Maar Jesus is ons Verlosser. Wanneer ons in Hom glo, is ons nie meer slawe van sonde nie, maar waarlik vry. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees” (Johannes 8:36).
VERLOSSER (EKSODUS 2-4).
Die tweede term wat ons raakloop, is die term verlosser.
Soos ek hierbo gesê het, is Jesus ons Verlosser. In Eksodus 3 lees ons hoe Hy Homself bekend stel aan Moses as ‘Ek Is’. Hy roep dan ook vir Moses om op te tree as verlosser van Israel. “God sê toe vir Moses: “Ek Is Wie Ek Is.'” Hy sê toe ook: “So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur'” (Eksodus 3:14).
In Hebreërs 11, die hoofstuk oor al die geloofshelde, lees ons ook van Moses. In Hebreërs 11:24-26 staan: “Deur geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van die dogter van farao genoem te word, en het hy eerder verkies om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef. Hy het die smaad van die Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.”
OORDEEL (EKSODUS 5-10).
Die derde term waarvan ons in Eksodus lees, is die term oordeel.
Ons lees hoe God allerhande wonderwerke doen om die gode van Egipte te oordeel.
Die Egiptenare het sommer ‘n hele klomp gode gehad. Elke god het ‘n ander doel of funksie gehad. As jy byvoorbeeld ‘n goeie oes wou hê, dan het jy offers gebring vir die god wat goeie oeste kon verseker.
Deur die tien plae het God vir die Egiptenare bewys hulle gode is niks in vergelyking met Hom nie.
Vir die Egiptenare was enige iets wat lewe moontlik gemaak het deur ‘n god verteenwoordig. Maar God vel ‘n oordeel oor elkeen en wys dat Hy alleen die Lewegewer is.
DIE PASGA OF PAASFEES (EKSODUS 11-13).
Die laaste plaag waarmee God die Egiptenare tref, is die dood van alle eersgeborenes.
Maar God gee vir die Israeliete ‘n manier om húlle eersgeborenes veilig te hou. Hy beveel hulle om ‘n lam te slag en sy bloed aan die deurkosyne te smeer (Eksodus 12:6-7). Dan moes hulle die vleis van die lam oor vuur braai en dit saam met ongesuurde brood en bitter kruie eet.
Die Lam is weereens ‘n heenwysing na Jesus. Onthou jy Johannes se woorde in Johannes 1:29? Toe hy Jesus sien, het hy gesê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”
Sonde word deur suurdeug verteenwoordig in die Bybel. Sien jy waarom God hulle beveel om ongesuurde brood te eet? Dit verwys weereens na ons verlossing van sonde. In 1 Korinthiërs 5:7-8 staan: “Verwyder die ou suurdeeg, sodat julle nuwe deeg kan wees, soos julle inderdaad ongesuurde brood is. Want ook ons Pasgalam, Christus, is geslag. Laat ons daarom feesvier, nie met ou suurdeeg, die suurdeeg van kwaad en boosheid nie, maar met die ongesuurde brood van opregtheid en waarheid.”
DIE ROOISEE EN DIE WILDERNIS (EKSODUS 14-18).
In Eksodus 14-18 sien ons hoe God die Israeliete droogvoets deur die Rooisee laat trek. “Deur geloof het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë land, terwyl die Egiptenare, toe hulle dit probeer doen het, verdrink het” (Hebreërs 11:29).
Ons sien dat Hy vir hulle sorg terwyl hulle in die wildernis is. Hy voorsien manna en kwartels om te eet. “Hulle het gevra, en Hy het kwartels laat kom; met brood uit die hemel het Hy hulle versadig” (Psalm 105:40).
Hy gee ook vir hulle water toe hulle dors word. “…en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat hulle gevolg het – en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:4).
II. DIE WET.
Eksodus 19 tot 24 handel oor die Wet.
Die eerste ding wat ons moet weet van die Wet, is dat dit heilig is. “So is die wet dan heilig; en ook die gebod is heilig en regverdig en goed” (Romeine 7:12).
Dan moet ons ook weet dat die Wet drie dele het (Eksodus 20 en Deuteronomium 5):
- Oordele
- Instellinge
- Verordeninge
Hierdie is nie woorde wat ons baie gebruik nie, so kom ons kyk gou wat elkeen beteken.
Oordeel: In hiérdie geval beteken dit ‘n regspraak van God oor die mens.
Instelling: Dit beteken ‘n handeling.
Verordening: Dit beteken ‘n voorskrif of bevel.
III. DIE TABERNAKEL.
Die laaste hoofstukke van Eksodus, 25-40, handel oor die Tabernakel. Hiér gee God vir Moses die presiese plan van hoe die Tabernakel gemaak moet word. Hy sê ook vir hom wat alles binne die Tabernakel moet kom en hoe dit gemaak moet word.
Net soos met die Wet, is daar hier ook drie dinge wat ons moet weet.
Die eerste ding wat ons moet weet, is dat alles in die Tabernakel ‘n geestelike betekenis het. Ons gaan nie nou daaroor gesels nie, want dan gaan hierdie artikel baie lank word. Maar in ‘n volgende artikel gaan ons daarna kyk.
Die tweede ding wat ons moet onthou is dat Jesus nie net die Lam is wat vir ons geoffer is nie. Hy is ook die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek. “Daar word trouens getuig: ‘Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek'” (Hebreërs 7:17). (Ons gaan op ‘n ander stadium ook hierna kyk.)
En die laaste, maar baie interessante ding wat ons oor die Tabernakel moet weet, is dat die uitleg van die verskillende dinge in die Tabernakel in die vorm van ‘n kruis was.

JESUS IN EKSODUS.
Dit maak nie saak watter boek van die Bybel jy oopmaak nie, jy sal iets oor Jesus daar kry. Dit is dan ook nie anders met Eksodus nie.
Hier kry ons ‘n hele paar skadubeelde van Jesus.
Ons sien Hom in die Pasga of Paasfees. “Verwyder die ou suurdeeg, sodat julle nuwe deeg kan wees, soos julle inderdaad ongesuurde brood is. Want ook ons Pasgalam, Christus, is geslag” (1 Korinthiërs 5:7).
Ons sien Hom ook in die manna, wat God voorsien toe die Israeliete kos nodig het. “Jesus het vir hulle gesê: ‘Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie'” (Johannes 6:35).
Die rots, waaruit die Israeliete op meer as een geleentheid gedrink het, is ‘n skadubeeld van Jesus. “…en almal het dieselfde geestelike drank gedrink. Want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat hulle gevolg het – en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:4).
Moses, wat soos ‘n profeet vir die volk was, is ‘n skadubeeld van Jesus. “‘n Profeet uit jou midde, iemand uit jou volksgenote soos ek, sal die Here jou God vir jou laat opstaan; na hom moet julle luister” (Deuteronomium 18:15).
En laastens sien ons Jesus in elkeen van die sewe feeste. Maar hieroor gaan ons ook in ‘n volgende artikel gesels.
EKSODUS IN ‘N NEUTEDOP.
Net soos met die artikel oor Genesis, kan jy hierdie een beskou as Eksodus in ‘n neutedop.
Ek vertrou dat jy saam met my baie daaruit geleer het. Ek glo ook dat dit jou sal help om van nou af die boek beter te verstaan.
(Hulpbron: Seeing Jesus deur Marilyn Hickey)
