PSALM 62 – ‘N BYBELSTUDIE (SWAARD-METODE)

Psalm 62 - 'n Bybelstudie

Ons het vroeër die jaar nogal heelwat gesels oor verskillende Bybelstudie-metodes. Een van dié metodes was die SWAARD-metode. Dis ‘n eenvoudige studiemetode wat jou help om raak te sien wat alles in die teks staan. Ons gaan vandag hierdie metode gebruik om ‘n kort Bybelstudie oor Psalm 62 te doen.

‘N VINNIGE OPSOMMING.

As jy nie weet wat die SWAARD-metode behels nie, hier is ‘n vinnige opsomming.

‘n Swaard bestaan uit vier dele: ‘n punt, ‘n handvatsel, en die snykant, wat uit ‘n linker- en ‘n regterkant bestaan. Wanneer ons aan ‘n swaard dink, herinner dit ons aan ses vrae wat ons moet vra van die skrifgedeelte waarmee ons besig is.

Hierdie vrae is:

  1. Wat leer die gedeelte my oor God? (Die punt van die swaard)
  2. Wat leer die gedeelte my oor mense? (Die handvatsel)
  3. Is daar ‘n sonde wat ek moet vermy? (Die linkerkantste snykant)
  4. Bevat die gedeelte ‘n belofte wat ek moet glo.(Die linkerkantste snykant)
  5. Is daar ‘n voorbeeld wat ek moet volg? (Die regterkantste snykant)
  6. Is daar ‘n opdrag wat ek moet gehoorsaam? (Die regterkantste snykant)

Dit is in kort hoe die SWAARD-metode werk.

PSALM 62.

Ons weet nou hoe die studiemetode werk.

Maar voor ons dit gaan gebruik om Psalm 62 van nader te bekyk, moet ons darem eers lees wat daar in die psalm staan! So, kom ons lees saam:

Vir die musiekleier. Op Jedoetoen. ‘n Psalm. Van Dawid.


Net by God vind ek rus; van Hom kom my verlossing.
Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord; ek sal beslis nie wankel nie.


Hoe lank nog gaan julle ‘n man bly aanval, vermoor julle almal hom – asof hy ‘n muur is wat oorhel, ‘n tuinmuur wat omgestoot word?
Ja, hulle beplan om hom af te stoot van sy hoë plek, hulle hou van leuens. Met die
mond seën hulle, maar in hulle binneste vloek hulle. Sela


Vind rus by God alleen, my siel, want op Hom is my hoop gevestig.
Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord. Ek sal nie wankel nie.
By God lê my verlossing, my eer. My sterk rots, my skuilplek, vind ek in God.


Vertrou te alle tye op Hom, o volk, stort julle hart voor Hom uit. God is vir ons ‘n skuilplek. Sela


Net ‘n asemteug is die mens, onbetroubaar is mense; op ‘n skaal weeg hulle byna niks, saam is hulle ligter as ‘n asemteug.
Moet op afpersing nie staatmaak, op plunder julle ydele hoop nie vestig nie. Rykdom, as dit toeneem – moet julle hart nie daarop sit nie.


Een saak het God bevestig, twee, wat ek gehoor het: Krag is by God;

by U, my Heer, is daar troue liefde, want U self beloon ‘n mens volgens sy dade.

WAT LEER EK OOR GOD?

Kom ons kyk nou wat hierdie Psalm ons alles leer.

Die eerste vraag wat ons vra is: wat leer die gedeelte ons oor God?

Ek sien die volgende:

  1. God gee rus. Dit maak dus nie saak wat rondom ons aangaan nie, ons kan na Hom toe kom en rus vind. Herinner dit jou nie so ‘n bietjie aan Psalm 23 nie?
  2. Die tweede ding wat ons van God leer, is dat verlossing van Hom kom. Wat jy ookal in jou lewe beleef, waarvan jy ookal verlos moet word, die verlossing sal van God af kom. Niemand en niks anders kan jou verlos nie. Jy kan dit nie eers self doen nie. Van God alleen kom verlossing.
  3. Die derde ding wat ek raaksien oor God, is dat Hy ons rots en ons toevlugsoord is. ‘n Paar verse ondertoe staan ook Hy is ons skuilplek. Dit herinner my aan Psalm 91, waar daar staan dat ons in God se beskutting kan woon, in Sy skaduwee kan oornag. By Hom is ons altyd veilig.
  4. Die laaste ding wat ek oor God in dié psalm raaksien, is dat daar krag en troue liefde by Hom is. God se krag oortref alles. Daar is letterlik niks wat vir Hom onmoontlik is nie. Sy troue liefde is ook altyd by ons. En in Romeine 8 se laaste verse sien ons dat niks ons van Sy liefde kan skei nie. Ons kan dus op Hom, en Sy troue liefde vir ons, vertrou.

WAT LEER EK OOR MENSE?

Die tweede vraag wat ons vra is: wat leer die gedeelte ons oor mense? Waarom tree hulle op soos hulle optree?

In die gedeelte sien ons mense is nie altyd vriendelik nie. Daar is mense wat bose dinge beplan en uitvoer.

Ons sien ook dat mense maklik leuens vertel. Hulle sê een ding met die mond terwyl hulle iets heel anders in hulle harte dink.

Dan sien ons dat mense onbetroubaar is. Hulle pers af en plunder. Wat ookal vir hulle voordeel gaan inhou, is wat hulle doen.

Dit laat my dink aan iets wat Joyce Meyer graag sê. Sy herinner ons daaraan dat ‘hurting people hurt people’. Mense wat seer het, maak ander seer. Hoe waar is dit nie! Ons weet nie altyd wat in ander se lewens aangaan, wat veroorsaak dat hulle optree soos hulle optree nie. Maar ons kan maar weet dat daar een of ander stuk seerkry is wat ‘n groot invloed op hulle optrede het.

Ons leer dus dat mense wat nie vir God in hulle lewens het nie, mense is wat jok. Hulle is onbetroubaar en beplan altyd bose dinge. Enige iets wat hulle kan bevoordeel, soos afpersing en plundery, is dinge wat hulle doen.

‘N SONDE OM TE VERMY?

Die derde vraag wat ons vra is: is daar ‘n sonde in die gedeelte wat ek moet vermy?

Ek dink nie dis moeilik om te besef dat alles wat ons hierbo oor mense geleer het, dinge is wat ons moet vermy nie.

Ons is God se kinders en is veronderstel om ander lief te hê. Ons moet ander bo onsself stel en altyd net die beste vir hulle wil hê. En dis nou nie juis wat die mense, van wie ons in die psalm lees, doen nie. Ons moet dus vermy om op te tree soos die onbetroubare leuenaars van wie ons in die gedeelte lees.

Nog iets wat ons moet vermy is om staat te maak op rykdom. Geld is iets wat amper soos mis voor die son kan verdwyn. Dink maar hoe vinnig spandeer jy jou salaris elke maand. Geld is nie die fondasie waarop ons ons lewens moet bou nie. As ons dít doen, gaan ons vinnig agterkom ons het op ‘n fondasie gebou wat besig is om te verkrummel.

Onthou wat Jesus gesê het in Mattheus 6. Die skatte wat ons hier op aarde bymekaar maak, kan gesteel word. Maar die skatte wat ons in die hemel bymekaar maak, kan nie gesteel of verniel word nie.

‘N BELOFTE OM TE GLO?

Nou kom ons by die vierde vraag, naamlik: is daar ‘n belofte wat ek moet glo in die gedeelte?

Vers 3 is vir my ‘n belofte. As ek by God skuil en Hom sien as my verlossing en my rots, sal ek beslis nie wankel nie.

En dan is die laaste twee verse ook vir my ‘n belofte. Krag en troue liefde is by God te vinde. Wanneer ek krag nodig het, kan ek op Hom staatmaak om dit vir my te gee. As ek voel niemand in die wêreld het my lief nie, kan ek steeds op Sy troue liefde reken.

En ek kan verseker weet dat God mense beloon volgens hulle dade. Nee, Hy straf ons nie meer oor ons sondes nie, want Jesus het die straf gedra. Maar ons dra steeds die gevolge van ons verkeerde keuses. Ons kry ook die seëninge wat Sy Woord beloof wanneer ons gehoorsaam is aan Sy opdragte.

‘N VOORBEELD OM TE VOLG?

Die tweede laaste vraag wat ons vandag gaan antwoord vra die vraag: is daar ‘n voorbeeld in die gedeelte wat ek moet volg?

Aan die begin van die psalm sien ons dis deur Dawid geskryf. Wat ons oor hom in die psalm lees, is dan ook die voorbeeld wat ons moet volg.

Ons sien hy soek rus by God, nie by mense of dinge nie. Ek dink weereens aan Psalm 23, waar Dawid skryf die Here laat ons rus in groen weivelde.

Ons sien Dawid vertrou op God om hom te verlos. As jy Dawid se storie ken, sal jy weet hy het keer op keer nodig gehad dat God hom uit een of ander situasie verlos. Dink maar aan die tyd toe koning Saul hom wou doodmaak. Of wat van al die probleme wat hy met sy kinders gehad het? Dawid het swaar tye beleef, maar uit elkeen het die Here hom verlos.

Dan sien ons ook God is vir hom ‘n rots, ‘n toevlug en daarom hoop hy op Hom.

Ons moet dus Dawid se voorbeeld volg. Ons moet ons rus by God soek. Dan moet ons God vertrou en op Hom hoop. Hy sal ons nooit in die steek laat nie.

OPDRAG OM TE GEHOORSAAM?

Die laaste vraag wat ons moet antwoord is: is daar ‘n opdrag in die gedeelte wat ek moet gehoorsaam?

Ek sien ‘n paar opdragte. Van hulle het ons ook genoem onder die sondes om te vermy.

Die opdragte is:

“Vertrou te alle tye op Hom, o volk, stort julle hart voor Hom uit” (vs.9).

“Moet op afpersing nie staatmaak, op plunder julle ydele hoop nie vestig nie. Rykdom, as dit toeneem – moet julle hart nie daarop sit nie” (vs.11).

Hierdie opdragte kom eintlik op dieselfde ding neer. Ons moet te alle tye net op God vertrou. Ons moet op niks anders ons hoop of ons harte sit nie. Dus kan ons sê daar is een opdrag wat ons in die gedeelte kry, wat ons moet gehoorsaam.

Vertrou altyd net op God!

MEER BYBELSTUDIE-METODES.

Ek vertrou dat jy iets geleer het uit hierdie Bybelstudie oor Psalm 62. Ek vertrou ook dit het jou bietjie meer geleer oor hoe jy die SWAARD-studiemetode moet gebruik.

As jy meer oor verskillende Bybelstudie-metodes wil weet, dan gaan die gratis e-boekie wat beskikbaar is, jou baie help. Daarin verduidelik ek ‘n klompie eenvoudige metodes wat jy sommer dadelik kan begin gebruik.

Vul dan jou inligting in die vorm hieronder in en hou dan jou e-posbus dop. Ek gaan vir jou ‘n e-pos stuur met die skakel waar jy die boekie kan aflaai.

Jy kan ook meer oor metodes wat nié in die boekie opgeneem is nie, in die volgende artikels lees:

Bybelvers-studie vir beginners

Die ABC Bybelstudie metode

Die BAAT-Bybelstudie metode

Deel hierdie blad

2 comments

  1. More Risa
    Ek vertrou dat hierdie epos jou aandag sal geniet. Ek is van die mense wat nou al jare sukkel met bybel lees en bid. Ek glo dat die Bybel en gebed program my sal help en my geestelik sal laat groei.
    Baie dankie vir al die moeites wat jy doen om vir ons te help om geestelik te groei.
    Ek sal hierdie pad saam met jou stap om vir myself te help met geestelike groei wat baie belangrik is in n mense verhouding met God.
    Baie dankie en groete

    Maria

    1. Hallo Maria. Ek is so bly dat jy by ons aangesluit het – welkom! Ek vertrou dat jy op dié blad ‘n hele klompie hulpmiddele sal kry om jou te help met jou Bybellees en Bybelstudie. Sterkte!!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *